Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Moenie haat hê nie, sien mense as mense’

’n 99-jarige Kaapse vrou wat aan die gaskamers van die Joodse volksmoord ontkom het, se verhaal word in ’n nuwe dokumentêre rolprent vertel.

Ella Blumenthal op die promenade in Seepunt, Kaapstad.

Die première van I Am Here is op22 Julie by die Durbanse Internasionale Rolprentfees (DIFF), dieselfde week waarin Ella Blumenthal 100 jaar oud word. Dis ’n verhaal van hartseer én hoop.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het Blumenthal op ’n Suid-Afrikaner verlief geraak en na Johannesburg verhuis. Later het sy in Brakpan gewoon en ’n “boeremeisie” geword. In die 1990’s het sy Kaapstad toe verhuis.

Die Johannesburgse regisseur Jordy Sank en vervaardiger Gabriella Blumberg het die fliek gemaak.

Blumenthal is in 1921 in die Poolse hoofstad, Warschau, gebore as die jongste van sewe kinders. Sy was ook ’n blinkoogtiener met drome om te gaan studeer, maar toe sy 18 jaar oud was, het Nazi-Duitsland Pole ingeval.

“Ons het nie gedink dat dit met ons kan gebeur nie. Maar dit hét gebeur en baie vinnig,” sê Blumenthal. “Die Duitsers het nie tyd gemors nie. Eintlik sou ek sê die Nazi’s.”

Blumenthal vertel sy leef steeds met die geestelike letsels saam en veral die skelwoorde spook nog by haar: “Weitermachen (voertsek)! Verfluchte Jude (donnerse Jood)! Schweinhunde (varkhonde)!”

‘I Am Here’ première op 22 Julie by die DIFF.

“Jy weet, toe ek in die kampe was, was dit nie maklik nie. Hulle het ons doodgewerk en laat verhonger. Ons was die brigade van slawe-arbeid. Maar nou sê ek vir die jonger mense – en selfs die ouer mense – dat hulle geen haat moet hê nie, dat mense mekaar moet verstaan en hulle moet mekaar help,” pleit Blumenthal.

Sank het haar 12 jaar gelede by ’n ete ontmoet waar sy van haar ervarings in die konsentrasiekampe begin vertel het.

“Almal om die tafel was so emosioneel toe hulle die verhale gehoor het,” sê Sank. “Maar toe was dit asof iemand die aan-knoppie gedruk het. Sy het skielik van die storieverteller in die lewe van die partytjie verander, sy het met die kinders gespeel, gedans en gesing, en dit het my regtig na Ella aangetrek.

“Ek het al oorlewendes van die Holocaust ontmoet, maar niemand soos sy wat al soveel duisternis deurgemaak het én soveel lewenslus gehad het nie. Van daardie oomblik af het ek geweet hier is ’n storie en dit moet vertel word.”

Aangesien sy een van die laaste Holocaust-oorlewendes is, was dit vir Blumberg belangrik om Blumenthal se boodskap van veerkragtigheid en liefde aan die volgende generasie oor te dra.

“Ella maan in die fliek dat die Joodse slagting ongelukkig nie die enigste voorbeeld van diskriminasie is nie. Ons moet daarna kyk, want veral in vandag se tyd, met al die vals nuus, is daar soveel propaganda wat ongelukkig tot ’n ander volksmoord kan lei,” sê Blumberg.

“Sy praat regtig in die fliek van hoe ons mense as mense moet sien. Ons moet die haat stop, hierdie diskriminasie teen mense; op grond van godsdiens, ras of oortuigings.”

Meer oor:  Volksmoord  |  Holocaust  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.