Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Moenie sukkelende SA Express toelaat om uit te brei, vra Airlink

’n Hofstryd dreig tussen die streekslugdiens SA Airlink en die internasionale lugdienslisensiëringsraad oor nuwe oorgrensroetes vir die sukkelende staatsbeheerde SA Express.

Dié roetes na Luanda in Angola, Gabarone in Botswana en Harare in Zimbabwe is volgens lugvaartkenners van kritieke belang vir die sukses van SA Express se regrukstrategie.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het die afgelope week per brief die speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, ingelig dat sowel SA Express as die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se jaarverslae en finansiële state vir die vorige finansiële jaar nog nie gereed is nie. Volgens wet moet dit binne vyf maande ná die jaareinde, wat op 31 Maart is, aan die parlement voorgelê word.

Gordhan het glo in ’n brief aan Modise gesê albei lugdienste het ernstige finansiële probleme.

SA Airlink, waarin die regering ’n aandeel van 3% het, het die afgelope week in ’n prokureursbrief aan die internasionale lugdienslisensiëringsraad gesê hy gaan binne die volgende twee weke die hof nader om die raad se toestemming aan SA Express om sy bedrywighede uit te brei tersyde te stel. Die raad skop egter vas oor sy besluit.

SA Airlink voer aan dat SA Express weens sy benarde geldsake nie ’n veilige en betroubare internasionale lugdiens kan bedryf nie ten spyte van gereelde finansiële reddingsboeie van die regering. Die raad fouteer dus om onder dié omstandighede die sukkelende lugdiens toe te laat om uit te brei, sê SA Airlink.

Die tesourie het in April aan SA Express ’n reddingsboei van R1,5 miljard toegeken om skuld af te betaal en luidens berigte sukkel die lugdiens sedertdien om finansiering te bekom.

Die Burgerlugvaartowerheid het in Mei verlede jaar SA Express weens kommer oor veiligheid verbied om verder te vlieg en die lugwaardigheidsertifikate van nege van die lugdiens se vliegtuie teruggetrek.

Die lugvaartkenner Guy Leitch sê SA Airlink het ’n punt beet. “Vir SA Express om in bedryf te wees en billik mee te ding, moet hy solvent wees, behoorlik gekapitaliseer en gereelde vlugskedules hê sonder om vlugte te kanselleer. Tans kry die maatskappy dit nie reg nie. Sy struktuur is opgeblase, daar is geen balansstaat om van te praat nie, hy het geen vliegtuie nie en betaal deur sy nek om vliegtuie te huur.”

Rodger Foster, bestuurshoof van SA Airlink, het aan Rapport se susterskoerant City Press gesê internasionale lugdiens-wetgewing stel sekere vereistes vir lugdienste wat internasionale roetes vlieg. “Dit sluit in ’n veilige en behoorlike balansstaat. Tans is SA Express nie ’n lopende saak nie, hulle kan nie hul finansiële state voorlê nie en voldoen dus nie aan die vereistes nie.”

* Bykomende verslaggewing deur Antoinette Slabbert

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.