Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Moet net nie sê die kerk kies Engels nie’

As dié kerk Donderdag "op die paal is" met die nuusopskrif "Doppers kies Engels" gaan daar chaos wees. Daarom moet die sinode se kommunikasiebeleid verder ondersoek word.

Só sê ds. Cassie Aucamp by die algemene sinode van die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (GKSA) Donderdag in Potchefstroom, waar die gemoedere hoog geloop het oor of die sinodesitting verder in Engels moet plaasvind.

"Ons moet die realiteit van persepsies wat aan die besluit gekoppel word, in ag neem. Mense gaan dit lees in dieselfde konteks as #FeesMustFall en #RhodesMustFall," het Aucamp, die voormalige leier van die Afrikaner Eenheidsbeweging (AEB), gesê.

Hoe meer divers die individue of groepe is, hoe groter is die potensiaal vir opofferings

Die sinode het besluit om nie Woensdag ’n besluit te neem nie, maar ’n kommissie aan te wys om die sinode oor die regte kommunikasiebeleid te adviseer.

Tot dan sal die 2016-besluit, ’n tweetaalbeleid, staan. Hiervolgens moet afgevaardigdes probeer om so ver moontlik in Afrikaans én Engels te kommunikeer. Die Moderamen, wat die vergadering lei, is egter verplig om in albei tale te praat. Afgevaardigdes kan van tolkdienste gebruik maak.

Volgens die jongste aanbeveling sal Engels eenheid bevorder, aangesien verskeie kultuurgroepe onder die GKSA-sambreel ingesluit word.

’n Veelvuldige kommunikasiebeleid wat al elf amptelike landstale insluit is volgens die aanbeveling die ideaal, maar dit hou "enorme finansiële implikasies in wat nie haalbaar is nie".

"Dit is onvermydelik in eenheid dat elke persoon of groep wat deel uitmaak van die geheel, opofferings sal moet maak. Hoe meer divers die individue of groepe is, hoe groter is die potensiaal vir opofferings," lui ’n gedeelte uit die aanbeveling.

Gemengde gevoelens het in die sinodesentrum geheers.

"Dis die wil van God dat almal welkom voel en niemand uitgesluit word nie," het dr. Daniel Nkulu ten gunste van die aanbeveling gesê.

Afgevaardigdes keur die aanbeveling goed om nie Woensdag te besluit oor die sinode se kommunikasiebeleid nie. Foto: Jana Marx

"Ons het nie ooreengekom op ’n kunsmatige herstrukturering (van die GKSA) nie. Ons soek eenheid waar die waardigheid van swart mense gerespekteer word. Die gawe van swart mense sal onderdruk word as Afrikaans bo Engels gestel word," was ds. Paul Modise se mening.

Volgens dr. Jan Lion Cachet is afgevaardigdes nie by die sinode om vir Afrikaans te baklei nie, maar om die Evangelie uit te brei. Hy benadruk dat ’n Engelse kommunikasiebeleid by die sinode nie beteken Afrikaans word uit die plaaslike kerk gehaal nie.

Peter Meyer, ’n ouderling wat teen die Engelse taalbeleid is, meen om na Engels as die sinode se “besigheidstaal” te verwys, is vals. “Ons is nie ’n besigheid nie, ons is ’n kerk.”

Ds. Henk Stavast is ten gunste van ’n veelvuldige kommunikasiebeleid. "As ons op slegs Engels besluit, gaan dit ’n rimpeleffek na buite hê. Dis nie net beperk tot die vergadering nie. Dit gáán ’n rol speel in gemeentes wat reeds sukkel met dalende lidmaatgetalle en dit gaan groot finansiële implikasies inhou."

Nie net ’n staat kan gekaap word nie, mens kry ook so iets soos koloniale kerkkaping

Ds. Ben Fourie het ook vir ’n veelvuldige taalbeleid gepleit, maar ’n "beperkte een". "Dit het tot dusver goed gewerk, dink ek."

Dr. Wikus Buys, ’n direkteur by Aros, ’n private Afrikaanse Christelike hoëronderwysinstelling, en gereformeerde predikant van die Gereformeerde Kerk Innesdal, het Dinsdag aan Netwerk24 gesê ’n taalbeleid van slegs Engels sal niks goeds vir die toekoms van die Afrikaanse kerke, en vir die Afrikaner as geheel, inhou nie.

"Liefde is om die ander een se belange eerste te stel. Wat die kerk vir haarself sê, sê sy ook vir die wêreld. Die kerk sê vir die wêreld dat tale in die pad van kerkeenheid staan.

"In al die postkoloniale lande word die taal van die onderdrukker oorgeneem en sit die elite daarna hul eie magsmisbruik voort. Nie net ’n staat kan gekaap word nie, mens kry ook so iets soos koloniale kerkkaping," het hy gesê.

Meer oor:  Gksa  |  Sinode
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.