Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Molefe klou aan Eskom se R30 m.

Die voormalige Eskom-baas Brian Molefe wat onregmatig ’n vet pen­sioen-voordeel van R30 miljoen pasella gekry het, gaan nou verder in die konstitusionele hof baklei om dit te behou. Ten spyte van bevele van die hooggeregshof en appèlhof dat hy dit moet terugbetaal, het die Eskom-pensioenfonds nog nie ’n sent ontvang nie.

Molefe wil hom nou tot die konstitusionele hof wend en kla onder meer dat hy glo onregverdig behandel is deur regters.

Die hooggeregshof in Pretoria het in April verlede jaar beveel dat Molefe binne tien dae die geld wat hy ná ’n onwettige pensioenooreenkoms met Eskom ontvang het, moet terugbetaal.

Hy het glo R10 327 074,53 as ’n kontant-enkelbedrag gekry by die Eskom-pensioen-en-voorsieningsfonds (EPPF) en Eskom het ook miljoene namens Molefe aan die EPPF betaal as ’n “boete” sodat Molefe met volle voordele kon aftree.

Rapport het vroeër berig dit sou beteken dat hy as 50-jarige ’n maandelikse pensioen van R111 000 ontvang ná net 15 maande se diens.

Die hooggeregshof het beslis hy was in die eerste plek te jonk om op vervroegde aftrede te gaan ingevolge die EPPF se reëls.

Die appèlhof het in April vanjaar Molefe se aansoek by daardie hof summier van die hand gewys, maar dit het Molefe nie laat tou opgooi nie.

Die DA en Solidariteit staan die nuutste aansoek teen, maar Eskom en die EPPF het aan Rapport gesê hulle sal berus by wat ook al die konstitusionele hof beslis.

Molefe sê in sy nuutste hofstukke hy het nie ’n regverdige verhoor gehad nie, want die regters in die hooggeregshof het “blindelings alles aanvaar wat die politieke party (DA, wat die aansoek gebring het) aangevoer het en alles wat (hy) en Eskom gesê het, geïgnoreer”.

Die DA het die hof genader om sy “vervroegde aftrede” tersyde te stel ná ’n openbare spektakel oor die uitbetaling.

Eers het Molefe op ’n mediakonferensie in trane gesê hy bedank by Eskom omdat adv. Thuli Madonsela, toe Openbare Beskermer, hom uitgelig het in haar verslag oor staatskaping. Hy het gesê hy loop omdat hy die integriteit van Eskom wil beskerm, maar hy ontken dat hy enigiets verkeerd gedoen het.

Molefe is vort parlement toe as ’n ANC-LP, maar sy pensioenbetaling het toe aan die lig gekom.

Lynne Brown, destydse minister van openbare ondernemings, was oënskynlik verontwaardig oor die pensioenuitbetaling en het beveel hy moet liewer teruggaan Eskom toe as uitvoerende hoof. Ook die heraanstelling is later herroep en Molefe was weer sy pos kwyt.

Molefe argumenteer nou in die konstitusionele hof die regters was verkeerd om te bevind hy het met Eskom saamgespan om ’n onregmatige voordeel te kry.

Die Eskom-pensioenfonds het aan Rapport gesê as Molefe se aansoek om verlof tot appèl slaag, hulle aan die appèlproses sal deelneem om duidelikheid te kry oor verskeie aspekte van die hantering van die geld ter sprake.

Meer oor:  Brian Molefe  |  Pensioen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.