Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Momentum dok op vir Fiesta ná hy eis eers weier
Foto ter illustrasie.

’n Versekeringsmaatskappy moet, nadat hy ’n eis van een van sy eie werknemers vir ’n jaar lank teengestaan het, nou meer as die oorspronklike eisbedrag opdok, nadat hy verlede week op die nippertjie buite die landdroshof in Pretoria geskik het.

Momentum moet nou die volle bedrag van R86 500, sowel as die regskoste en advokaatsgelde betaal.

“Momentum het Donderdag by die hof toegegee dat daar geen basis is waarop die eis en die betaling van die volle bedrag geweier kan word nie en vonnis is verleen teen Momentum,” het ’n prokureur, Rinette Basson, gesê.

Die uitgerekte stryd het op ’n Sondagaand in Augustus 2016 begin toe John Hlabati, ’n geheelonthouer wat “uitgesproke” teen alkoholgebruik is, van die kerk af huis toe gery het en in ’n motorongeluk betrokke was.

Die Ford Fiesta wat aan sy vrou, Joleen Porcia de Bruin, behoort, is afgeskryf.

Die kar was by Momentum, waar De Bruin ’n werknemer is, op ’n “omvattende versekeringspolis” verseker.

Sy het die kleinhandelswaarde van die motor van R86 500 geëis.

“As ’n lojale werknemer” het sy haar versekering ten opsigte van haar Ford Fiesta by Momentum uitgeneem.

“Ons kliënt het haar eis behoorlik ingedien by Momentum aangesien sy gemoedsrus gehad het dat haar kar behoorlik verseker is,” het Basson aangevoer.

Momentum se regsverteenwoordigers het hul kliënt meegedeel dat daar geen basis bestaan om nié die eis te betaal nie.

Die eis is deur die eise-bestuurder, Shaun Marshall, afgekeur. Hy het beweer dat Hlabati onder die invloed van alkohol was toe die ongeluk gebeur het.

“Getuienis dat mnr. Hlabati ’n geheelonthouer is omdat hy deeltydse liggaamsbou beoefen, sowel as die verslag van die ongeluk waarin ’n Tshwane-metropolisielid aandui dat mnr. Hlabati nie onder die invloed was nie en dus ook nie vir enige bloedtoetse gestuur is nie, is aan Shaun Marshall verskaf.

“Mnr. Hlabati se prokureurs het ook die hulp van ’n poligraafdeskundige ingeroep en mnr. Hlabati het die toets geslaag waarin hy daarmee gekonfronteer is of hy enigsins onder die invloed was tydens die ongeluk,” lui die hofstukke.

’n Opname is ook beskikbaar gestel waarin De Bruin in ’n stadium aan Marshall verduidelik dat haar man nooit alkohol gebruik nie. Sy het die woorde “as God is my witness” bygevoeg.

Volgens die opname het Marshall hom glo vererg en vir De Bruin gesê dat hy nie aan enige God glo nie en dat sy nie met “stellings van hierdie aard” na hom toe moes kom nie.

Basson het aangevoer dat daar geen logiese rede vir Marshall se besluit was om die eis af te keur nie.

Die saak het egter tot by die hofsaal se drumpel gevorder voordat Momentum se regsverteenwoordigers buite die hof geskik het.

“Momentum se regsverteenwoordigers het hul kliënt meegedeel dat daar geen basis bestaan om nié die eis te betaal nie en dat hulle geen verweer het om aan te bied in die hof nie. Momentum se regsverteenwoordigers het hulle geadviseer om eerder te skik.

“Dit is hartseer dat dit eers ná meer as ’n jaar gebeur het, eerder as om van die begin af bloot die eis te betaal,” het Basson na die tyd gesê.

Meer oor:  Hanti Otto  |  Pretoria  |  Motorongelukke  |  Versekering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.