Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
'Monitor'-joernaliste saai hul onmin aan die hele wêreld uit

Die vuil wasgoed van RSG se Monitor-span is die afgelope week uitgehang waar almal dit kon sien toe een van die stasie se mees senior joernaliste in ’n siedende Facebook-inskrywing teen sy voormalige baas te velde getrek het.

Suna Venter en Foeta Krige by ’n teen-sensuur-protes in Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Die joernalis en omroeper Izak du Plessis beskuldig onder meer sy voormalige baas en veteraan-joernalis Foeta Krige dat hy ’n verhouding met hul ontslape kollega Suna Venter gehad het, “omdat hulle net te f*kken close was”. Die onmin in die Monitor-ateljee smeul skynbaar al maande lank.

Krige het pas as uitvoerende regisseur van Afrikaanse nuus afgetree en ’n boek, The SABC 8, geskryf oor agt SAUK-joernaliste se stryd teen sensuur by die openbare uitsaaier.

Du Plessis het dit veral teen die feit dat Krige se boek die indruk skep dat die mense in die RSG-nuuskantoor skuld het aan die dood van die joernalis Suna Venter in Junie 2017. Sy is midde-in die sensuurdrama dood aan ’n seldsame stresverwante siekte wat haar hart aangetas het.

As hy die boek gelees het sou hy gesien het die joernalistiek is op feite en navorsing geskoei, nie op skinderstories, gerugte en emosies nie.

In sy Facebook-boodskap, wat Du Plessis later verwyder het, sê hy dat Venter “gif vir hulle kantoor” was, dat sy "crazy spells” gehad het en hy noem haar die “helleveeg van die kantoor”.

Krige, skryf hy, “het ’n hele kantoor wat deel was van sy sukses as ’n redakteur verloën” met sy boek. Sy plasing eindig met: “F*k jou, Foeta Krige. F*k jou, want ons het ten spyte van jou tekortkominge (soos ons s’n) in jou geglo. Jy het ’n hele groep bekwame mense verraai.”

Aan Rapport sê hy: “My probleem gaan oor meer as net die boek. Die SAUK het niks met Suna Venter se dood uit te waai gehad nie. Die toksiese atmosfeer by die SAUK het óók niks met haar dood uit te waai gehad nie, maar die toksiese atmosfeer in ons kantoor het álles met Suna uit te waai gehad.”

Die RSG-omroeper Izak du Plessis. Hy het Donderdag in ’n Facebook-plasing uitgevaar teen Foeta Krige.

Du Plessis het aanvanklik Donderdag vir Rapport gesê hy staan by sy plasing, maar ’n ruk later het hy dit verwyder en vervang met ’n nuwe een: “Ek het my sê gesê en dit sal so staan, ek is nie iemand wat bang is vir die gevolge van wat ek dink nie, maar ter wille van ’n paar vriende wat omgee, het ek hom nou gesluit. Sela. My hart rus, ek gaan hom nou pamperlang.”

Op sy beurt sê Krige as Du Plessis sy deernis en empatie vir Suna “met romanse verwar”, ys hy om te dink “hoe sy eie verhoudings lyk”.

“Ek voel jammer vir Izak dat hy soveel jare met so baie aggressie, woede, wrewel en skuldgevoelens moes rondloop. Ek hoop hierdie openbare keelskoonmaak van hom was die begin van sy helingsproses,” sê Krige.

“As hy die boek gelees het, sou hy sien die joernalistiek is op feite en navorsing geskoei, nie op skinderstories, gerugte en emosies nie.”

Krige sê hy het sy boek in ’n baie moeilike tyd geskryf.

Foeta Krige. Hy sê as Izak du Plessis sy deernis en empatie vir Suna Venter met romanse verwar, ys hy om te dink hoe Du Plessis se eie verhoudings lyk. Foto: Deon Raath

“Ons (die SAUK-agt se) hele geveg was teen sensuur. Hoe kan ek dan net dele van die storie vertel? Dit sal mos wees soos om selfsensuur toe te pas?”

Hy sê Du Plessis moet mooi dink oor wat hy op sosiale media skryf.

“Die verskil tussen ’n held en ’n verraaier is soms net tydsberekening. ’n Mens moenie iets op sosiale media skryf wat jy later verwyder nie,” sê Krige.

“Izak moet onthou as jy by die openbare uitsaaier werk, moet jou beeld op sosiale media in pas wees met die beeld van jou wat op die uitsaaier se platform geskep word, anders val jou integriteit plat.”

Hy sê ook Du Plessis kan nie namens die hele span praat nie.

“Hulle is almal individue in eie reg met hul eie waardestelsels en motiverings.”

Saterdagmiddag het Du Plessis vanuit die Noord-Kaap waar hy met vakansie is, erken hy het nog nie self die boek gelees nie.

Meer oor:  Izak Du Plessis  |  Suna Venter  |  Foeta Krige  |  Sauk  |  Monitor  |  Sauk-8
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.