Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Mooinooi: Van Niekerk's sê oor ‘baasbrein’ se dood

Koos Strydom (54) se vrou het die voorreg gehad om hom te groet voordat hy Vrydagmiddag dood is.

Koos Strydom kort ná sy opname in die Kalafong-hospitaal toe hy in ’n koma was. Hy is drie tot vier dae nadat die foto geneem is, dood.Foto: Verskaf

“Ons het nie daardie voorreg gehad nie,” sê Wynand van Niekerk, die broer van Anisha van Niekerk wat in 2017 na bewering saam met haar vrou, Joey, vermoor is.

Die man wat glo die “baasbrein” agter Joey en Anisha se moorde was, is volgens die departement van korrektiewe dienste “omstreeks” 13:20 dood.

Strydom was in ’n koma sedert hy Maandagoggend bewusteloos in sy enkelsel in die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria gevind is.

Hy het na bewering óf ’n oordosis slaappille óf gif ingekry.

Dit is onbekend hoe hy toegang daartoe sou gekry het, aangesien hy alleen in ’n sel aangehou is en nie kontakbesoeke van buite mog kry nie.

Strydom is later daardie dag na die Kalafong-hospitaal oorgeplaas waar hy aan ’n ventilator gekoppel is. Hoewel hy in ’n koma was, was hy glo die heeltyd onder polisiebewaking.

Vrydagoggend is bevestig dat hy breindood is.

Sy vrou, Mercia (23), is net voor 12:00 versoek om hospitaal toe te kom voordat die “masjiene” afgeskakel sou word, het ’n bron gesê.

Koos Strydom luister na getuienis in die moordverhoor teen hom en ander in die hooggeregshof in Pretoria.Foto: Isabel Venter

Strydom is egter dood voordat die masjiene afgeskakel is.

Hy is deur ’n dokter dood verklaar.

Mercia en Koos Strydom tydens hul verhoor in die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Isabel Venter

Luidens bronne sal sy oorskot teruggaan na die gevangenis se lykshuis waar ’n nadoodse ondersoek gedoen sal word.

Zandile Mabunda, die Gautengse woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD), sê die “omstandighede rondom (Strydom se) dood word ondersoek”.

Joey Burnard, Joey van Niekerk se tannie, het met die bevestiging van Strydom se dood gesê dit is jammer dat hy nie “sy dag in die hof” gehad het nie.

“Hy het die uitweg van ’n lafaard gekies. Maar ons troos onsself daaraan dat hy wel sy dag voor God sal hê. Ons hoop net dat die (hof)saak nie belemmer of vertraag sal word nie, maar wel afgehandel word en nie net nog ’n statistiek word nie.”

Wynand se woorde was dat hy nie gedink het hulle kan nog geskok word nie, ná al die skokwendings wat die saak reeds geneem het.

“Koos Strydom het alleen gekies om sy eie lewe te neem. Mercia het die voorreg gehad om hom te groet. Ons het dit nie gehad nie,” het hy gesê.

Ook hy het verwys na die hofsaak teen Strydom, Mercia en ander wat in November in die hooggeregshof in Pretoria moet voortgaan, en gesê: “Dit is nog nie verby nie. Vir ons gaan dit oor antwoorde wat ons soek, en die saak is nie ’n ‘Koos Strydom-saak’ nie, dit gaan oor Joey en Anisha”.

Miskien, het hy bygevoeg, sal getuies wat versigtig of bang vir Strydom was, nou makliker praat.

Hy bly haar man en sy was baie lief vir hom.
Bronne

Phindi Mjonondwane, ’n woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het die versekering gegee dat Strydom se dood nie die verhoor sal beïnvloed nie.

“Die staat het bewyse wat elke beskuldigde individueel impliseer. Daarby is die beskuldigdes se weergawes reeds op rekord,” het sy gesê.

Mercia Strydom se foon was Vrydagmiddag af. Luidens bronne was sy “histeries” toe die hospitaal haar vroeër die dag gebel het.

“Hy bly haar man en sy was baie lief vir hom,” het bronne gesê.

Daar is glo Maandag ’n brief van etlike bladsye lank in Strydom se sel gevind waarvan ’n groot deel dan ook handel oor sy liefde vir Mercia en hul dogtertjie.

Luidens bronne noem Strydom dat hy “dit doen” sodat Mercia ’n nuwe lewe kan begin “sonder almal” wat haar weens haar verbintenis met hom, beswadder.

Desember 2017

Joey en Anisha het op 10 Desember 2017 verdwyn toe hulle van hul plaas in Mooinooi, Noordwes, na Pretoria sou ry nadat Joey se pa, Kallie Erasmus, op 4 Desember dood is.

Joey se familie het destyds vertel hulle was nog in skok en rou oor Erasmus se dood toe hulle haar verdwyning, en later die wete dat sy vermoor is, moes probeer verwerk.

Strydom en verskeie ander mense is kort daarna gearresteer.

Hy is borgtog geweier, maar Mercia is op borgtog vrygelaat.

Van die medebeskuldigdes, insluitende Strydom se een seun, het staatsgetuies geword.

Ná bewerings dat Strydom medebeskuldigdes en staatsgetuies vanuit die tronk dreig, ’n moordlys opgestel het vir ’n huurmoordenaar en toe glo iemand gehuur het om een van die ondersoekbeamptes te vermoor, is hy in ’n enkelsel aangehou.

Daar is glo ook verskeie kere selfone in sy besit in die tronk gevind.

Hy, Mercia, Alex Modau (36) en twee broers, Aaron James (26) en Jack Chinkinya Sithole (19), het vroeër vanjaar in die hooggeregshof in Pretoria skuld ontken op die moorde op die Van Niekerk-egpaar.

Die Sithole-broers word ook van verkragting aangekla.

Daarby word Strydom en James Sithole ook van die moord in 2014 op Amanda Mey in die Rustenburg-omgewing aangekla.

Die verhoor gaan in Oktober voort.

Meer oor:  Anisha Van Niekerk  |  Koos Strydom  |  Wynand Van Niekerk  |  Pretoria  |  Mooinooi  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.