Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Mooiste in die land was nooit voorheen in ’n gim!

Suid-Afrika se nuwe Mej. SA was nooit voor dié kompetisie in ’n gimnasium nie en sê sy is mál oor eet. Die Mercedes-Benz-afslaankap wat Zozibini Tunzi gewen het, gee haar boonop ’n goeie rede om ’n ander “eerste” aan te pak, naamlik om ’n rybewys te kry!

Tunzi Saterdagoggend met die pragtige uBuhle bethingo lenkosazana op haar kop. Foto: Elizabeth Sejake

Tunzi (25) is Vrydag op Vrouedag by die Time Square Sun Arena in Pretoria as Mej. SA aangewys en het met pryse ter waarde van meer as R3 miljoen weggestap. Sy sal vir ’n jaar in ’n luukse woonstel in Sandton woon, ’n Mercedes ry, skoonheidsbehandelings kry en R1 miljoen se prysgeld ontvang.

Haar volgelinge op Instagram het binne ’n dag ná haar kroning van 22 000 tot meer as 64 000 gestyg.

Sasha-Lee Olivier (26) van Alberton is die eerste prinses.

Meer as 2 000 vroue het vanjaar ingeskryf – ’n rekord.

Tunzi, die eerste wenner wat die nuwe kroon deur die ontwerper Johan Louw van die Wes-Kaap kon dra, het voorheen by die reklame-agentskap Ogilvy in Kaapstad gewerk.

64 000 volgelinge het Tunzi nou op Instagram. Vrydag was dit net 22 000.

Sy het verlede jaar ’n diploma in openbare skakelwese by die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie verwerf. Sy is oorspronklik van Sidwadweni, ’n klein nedersetting in die Oos-Kaap.

Tunzi het Vrydag verbaas gereageer toe een van die beoordelaars, die radio-omroeper Anele Mdoda, haar gevra het of vroue in Suid-Afrika enige rede het om te glimlag te midde van “al die hindernisse wat Suid-Afrikaanse vroue in die gesig staar – fisiek, ekonomies, seksueel, ensovoorts”.

Tunzi het gesê: “Ons het absoluut geen rede om te glimlag nie.”

“Dis ’n aaklige tyd in Suid-Afrika vir vroue,” verduidelik sy.

“Vroue is nie veilig op straat en in hul eie huise nie. ’n Mens sou dink dis waar jy veilig is. Dis hoekom ek dit gesê het. Ek het gevoel dit moet gesê word.

Die huidige Mej. Heelal, Catriona Gray, die vorige Mej. SA Tamaryn Green en oud-Mej. SA en Mej. Heelal 2017, Demi-Leigh Nel-Peters, voor die geleentheid Vrydag.

“Ek kan nie eens uitgaan om brood te koop sonder om te dink iets kan dalk met my gebeur nie.”

Sy vertel deelnemers word vir ’n maand fyn dopgehou, maar dat die finale beoordeling slegs op die verhoog op die aand van die bekroning gebeur.

“Miskien kyk hulle na ons sosiale media, hoe ons met die borge skakel, hoe ons met mense is . . . dis ’n hele pakket.”

Sy is dankbaar dat sy ’n “pragtige kinderlewe” gehad en met baie liefde grootgeword het.

Tunzi glo daar is nog plek vir skoonheidskompetisies in 2019.

“Hierdie platform is een van die enigstes waarvan ek weet in Suid-Afrika wat vir vroue ’n kans gee om te floreer en om bemagtig te wees, om hulself te wees en om lig op sekere kwessies te werp wat na aan hul harte lê.

“Ek wil meer wees en meer doen.

“Ek het op ’n punt gekom waar ek voel ek doen niks met my lewe nie en het nie ’n invloed nie.

“Ek wil net geag word tussen mense wat wonderlike dinge vir hul land en hulself gedoen het.”

Tunzi sal Suid-Afrika later vanjaar by die Mej. Heelal kompetisie verteenwoordig.

* Die beoordelaars was: Anele Mdoda, Demi-Leigh Nel-Peters, Thando Hopa, Connie Ferguson en Catriona Gray.

Meer oor:  Zozibini Tunzi  |  Vrouedag  |  Mej. Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.