Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Morele waghonde grom vir sy kuns

Vandag se sensitiwiteite oor kuns begin hom al hoe meer aan die apartheidsjare herinner, sê die kunstenaar Anton Kannemeyer, wat in die vroeë 1990’s bekend geword het as medeskepper van Bitterkomix.

Anton Kannemeyer by sy studio in Pinelands Foto: Edrea du Toit

Trouens, hy kan baie van sy werk glad nie meer in Suid-Afrika ten toon stel nie omdat kurators kla dit gee aanstoot.

Kannemeyer en sy vriend Conrad Botes se Bitterkomix, met dikwels eks­plisiete uitbeeldings van seks, was ’n woedende repudiëring van Afrikanermag, paternalisme en konserwatisme wat vir die eerste keer in 1992 verskyn het.

Toe apartheid eindig, het Kannemeyer egter voortgegaan om met wit mense se fobies oor swart mense te spot, vandaar dat hy swart mense met dik, rooi lippe teken, en wit mans as kaalkoppe wat op Hergé se Kuifie trek.

Nou beskuldig die sensors Kannemeyer van nuwe ras-sondes.

‘Die punt van my werk is om ongemaklik te wees.’

Die bekende Stevenson-galerye in Woodstock en Braamfontein het hom onlangs ingelig sy werk veroorsaak gans te veel ongemak by hul personeel en sal nie meer uitgestal word nie.

“Ons het nog probeer om ’n gesprek daaroor te voer, maar dit het duidelik geword dat hierdie galery nie meer my werk wou wys nie,” sê Kannemeyer (51). “Ek maak satire. Die punt van my werk is om ongemaklik te wees.”

Hy sê geen van sy werk word juis deesdae in Suid-Afrika uitgestal nie, terwyl dit oorsee gedy.

Kannemeyer het onlangs in Frankryk en België uitgestal, asook saam met Botes op Réunion, en werk tans aan ’n uitstalling in Londen.

Rugby, een van Kannemeyer se bekende werke.

Twee van sy werke is ingesluit in die permanente versameling van die Mu­seum of Modern Art (MoMA) in New York.

Botes het aan Rapport gesê hy kon onlangs nie ’n drukker vind vir sy boek The Erotic Drawings of Conrad Botes nie. The Erotic Drawings of Anton Kannemeyer, die sustersboek vir Botes se nuwe werk, is juis in 2015 deur die Stevenson bekend gestel.

“Van hierdie drukkers was op ’n tyd betrokke by publikasies soos Loslyf, maar nou wil hulle nie hieraan raak nie,” sê Kannemeyer.

Ook by die Universiteit van Kaapstad, waar studente-aktiviste in Februarie 2016 altesame 23 kunswerke op ’n brandstapel verbrand het, is Kannemeyer onder druk.

Op ’n paneelbespreking in April vanjaar by FanCon in Kaapstad het ’n Ikeys-lektor, Andrew Lamprecht, volgens Kannemeyer aan hom en Botes gesê dat hy Bitterkomix uit die kunsgeskiedeniskurrikulum gehaal het omdat studente gedreig het om klasse te boikot.

Soccer, Kannemeyer se teenvoeter vir Rugby.

Lamprecht, ’n lektor in kunsgeskiedenis by die UK se Michaelis-kunsskool, sê egter Kannemeyer misgis hom.

“Studente het na my gekom en gesê die werk is aanstootlik, maar al wat ons gedoen het, is om voordat ons die werk behandel ’n waarskuwing te rig dat dit aanstootlik kan wees.

“Daar is nie protes hierteen aangeteken nie, net verbale protes. Ons wys baie meer hectic goed as dit.”

Lamprecht sê hy is een van twee lektore waarvan hy weet wat Bitterkomix behandel en dat hy dit beslis nie uit die kurrikulum sou haal of dit verbied nie. Eksemplare van Bitterkomix is in die universiteit se biblioteek beskikbaar.

Die UK het nie op Rapport se navrae gereageer nie.

Kannemeyer sê dat Lamprecht nou terugkrabbel.

Ook Botes sê Lamprecht het uitdruklik gesê dat die werk uit die kurrikulum gehaal is.

Joost Bosland, direkteur by die Stevenson-galery, erken dat Kannemeyer nie meer deur die galery verteenwoordig word nie en dat personeel aanstoot geneem het, maar die eintlike rede was “kreatiewe verskille”.

“Die oomblik wat ’n galery ’n kunstenaar se werk anders  begin sien, dan raak dit moeilik om ’n verhouding voort te sit,” sê Bosland. “Ons staan steeds by die werk wat ons in die verlede van Kannemeyer gewys het.”

Kannemeyer sê dis ’n teken van die tye dat dieselfde galery wat hom indertyd aangepor het om immer meer omstrede werk te lewer, hulle nou vir hom skaam.

“Almal is deesdae morele waghonde,” sê Kannemeyer.

“As jy ’n wit man is, is jy in ’n moeilik posisie.”

Botes sê hy ondervind ook dat dit deesdae makliker is om oorsee uit te stal as in sy eie land.

“Die hele ding is belaglik,” sê Botes.

Dit voel selfs soos die ou dae: In 1989 het kollegas aan die Universiteit Stellenbosch Kannemeyer en Botes gewaarsku dat die apartheidsregering se veiligheidsmagte hulle sal teister. En in 1995 het die Sasol-kunsmuseum daar geweier om ’n versameling van Kannemeyer uit te stal.

Dit het Boerenooientjies hou van pielsuig geheet . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.