Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Moreleta: Nee, ons stook nie NGK-rebellie

Die NG Kerk se grootste gemeente, Moreletapark, ontken dat hy ander gemeentes wil vra om uit die kerkverband weg te breek. Maar die kerkraad het vroeër vandeesmaand die moontlikheid oorweeg om die oostelike sinode te vra om in sy geheel uit die NG Kerk te bedank in protes teen die kerkverband se “liberale” neigings.

Moreletapark-gemeente. Foto: Alet Pretoriius

Intense tweespalt heers egter in Moreleta, en die kerkraad het nou besluit om “nie onmiddellik ’n besluit te neem oor die volgende stap” aangaande sy posisie binne kerkverband nie, maar wel te vra vir ’n “gespreksgeleentheid met ander NG gemeentes”.

Rapport het die afgelope week met verskeie betrokkenes oor Moreleta se planne gepraat.

’n Wegbreek deur Moreleta sal ’n reuseslag wees vir ’n kerk wat sukkel met dalende lidmaatgetalle en wat al jare in stryd is met homself oor ’n verskeidenheid sake, waaronder kwessies oor gays.

Pieter Breytenbach, Moreleta se bedryfshoof, ontken ten sterkste dat hulle ander gemeentes nou wil oorreed om saam met hulle weg te breek.

“Ons respekteer hoe hulle die saak hanteer en ons los hulle om self te besluit oor waar hulle wil wees. Ons bid vir hulle.”

Die kerkraad het vroeër die maand in ’n brief aan gemeentelede gesê dat Moreletapark die oostelike sinode kan vra vir ’n buitengewone sinodesitting en dat dié sinode dan kan besluit om Moreletapark te ondersteun en as ’n sinode uit die groter kerk te bedank.

Breytenbach sê die brief was bloot ’n verduideliking van die kerkdiensgroep oor moontlike maniere waarop die gemeente die saak sou kon hanteer.

Ds. Dirkie van der Spuy, moderator van die oostelike sinode, ondervoorsitter van die algemene sinode en voorheen die leierpredikant by Moreletapark, sê daar is geen sprake dat die oostelike sinode uit die algemene sinode wil onttrek nie.

“Ons gesprekke met Moreletapark is slegs om eenheid in die kerk te bewerkstellig. Moreletapark het nog nooit enige voorbrand gemaak dat enige ander gemeentes moet onttrek nie,” sê hy.

’n Senior kerkleier van die oostelike sinode sê Moreletapark het in hul gesprekke gesê ten spyte van gerugte is dit glad nie die geval dat hulle ’n magsgroep probeer opbou nie.

Ds. Jurgens de Jager, ondervoorsitter van die oostelike sinode, sê Moreletapark het aangedui hulle sal eers ’n standpunt oor hul toekoms binne kerkverband inneem ná die volgende sitting van die algemene sinode van 7 tot 11 Oktober in Benoni.

Die kerkraad het verlede Donderdag vergader oor hul opsies en eis nou dat hul bekommernisse oor “liberale tendense” by kweekskole en kuratoriums deur kerklike strukture en prosesse ondersoek word.

“Ons is net dankbaar dat hulle vir eers nie uit die kerkverband wil tree nie,” sê De Jager oor Moreletapark se planne.

“Ons respekteer hoe hulle die saak hanteer en ons los hulle om self te besluit oor waar hulle wil wees. Ons bid vir hulle en ons glo hulle sal die regte leiding kry,” sê hy.

Willem Bouwer, ’n prokureur van Pretoria wat 30 jaar al ’n lidmaat van dié gemeente is, sê die “groter skeuring” is “meer fiksie as feite”.

Bouwer het die kerkraad op 30 Mei in ’n prokureursbrief versoek om skriftelik aan te dui wanneer en hoe die bestuur ’n mandaat gekry het om die moontlikheid van ’n uittrede deur die gemeente uit die NG kerkverband te oorweeg.

Bouwer eis afskrifte van notules waar dit bespreek is.

Die bestuur het aangedui dat hulle sy vrae teen 11 Junie sou beantwoord.

“Ek wag nog steeds vir hul antwoorde,” sê hy. “Ek wil hê dat my navrae skriftelik beantwoord word aangesien die bestuur al te veel keer hul storie verander het.”

Dit is duidelik dat die gemeente hom nie vereenselwig met die liberale rigting wat die NG Kerk ingeslaan het nie.

Ds. Janlu Kuyler het twee Sondae gelede in ’n preek gesê die kerk is “op ’n gevaarlike plek om die Drie-eenheid te beledig wanneer ons die woord van God op ’n humanistiese manier interpreteer en nie meer as die soewereine woord van God nie. Dit is waarom die kerk so sleg vasgeval het in die gesprek rondom selfdegeslagverhoudings.”

Die kerkraad sê in ’n verklaring hulle wil eers “in liefde die pad van gesprekvoering met die NG Kerkverband stap voordat ander opsies oorweeg sal word. Ons wil in gehoorsaamheid op die roeping van die Here vir ons gemeente bly fokus.”

Meer oor:  Morelexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.