Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Moreletapark bid, vas voor beraad

Lidmate in die NG Kerk behoort “Vrymesselary te bely” omdat dié organisasie mense “van lank gelede tot nou vasbind en verdeeldheid bring”.

Die aandrang dat Vrymesselary een van die probleme is waarmee die kerk te kampe het, is vervat in ’n dokument met 30 “gebedspunte” wat die Moreletapark-gemeente aan lidmate voorhou in aanloop tot die spesiale beraad wat hierdie week gehou word om te “be­sin oor die toekoms”. Dié gemeente in die ooste van Pretoria, die grootste NG gemeente in die land, speel ’n leidende rol vir talle behoudende predikante en lidmate wat meen die NG Kerk het te liberaal geword toe die algemene sinode besluit het om huwelike tussen gays in kerkverband toe te laat.

Die afgelope week het die gemeente ’n “gebedsinisiatief” bekend gestel waarin lidmate opgeroep word vir ’n maand van “ernstige gebed en vas”.

Lidmate word gevra om te bely dat die kerk “Gods Woord afgewater het” en interpreteer volgens “ons eie behoefte en dit nie meer preek en leef nie”.

“Bid dat Goddelike vrede die Beraad sal kenmerk en dat almal wat onmin wil saai, onwelkom sal voel.”

Op dag 10 kom die media en verslaggewers ook aan die beurt: “Bid vir die Here se beskerming oor die verslaggewers (’n wag voor hulle ‘monde’) – dat hulle nie partydig sal wees, sensasie sal soek en halwe waarhede sal verkondig nie. Bid ook dat hulle nie onderdanig sal wees aan die wettelose liberalistiese gees wat daar in die wêreld heers nie, maar sal doen wat God hulle toelaat.”

Op dag 17 kom afgodery aan die beurt. Behalwe Vrymesselary behoort lidmate ook te bely dat “ons soms Afrikanerdom en -kultuur ’n afgod maak”.

Chris Jones, hoof van die eenheid vir morele leierskap in die teologiefakulteit aan die Universiteit Stellenbosch, sê hy glo die inisiatief om te bid en te vas vir die beraad is goed bedoel, maar hy ervaar “ ’n ongemaklikheid daarmee”.

“Ons moet waak daarteen om te dink óns alleen het die waarheid beet. Dat óns die begenadigde uitverkorenes is wat die Woord reg verstaan bloot omdat dit in ooreenstemming met ’n letterlike verstaan daarvan is.”

Jean Oosthuizen, ’n voormalige nuusredakteur van Kerkbode en skrywer van Die opkoms en ondergang vandie NG Kerk, meen die gebedsmaand is ’n voorwendsel vir ’n aanval op die huidige koers van die NG Kerk se leiers en sy onlangse besluite oor die gay kwessie.

“Eintlik word die kerk se leierskap in mooi vroom verpakte Bybeltaal hel toe gestuur. Dan is daar ook ’n kwalik bedekte aanval op dominees en lidmate wat nie soos hulle dink nie. Die verklaring lui dat daar gebid moet word dat God geesvervulde leiers na die beraad sal stuur. Is net diegene wat soos hulle dink dan geesvervuld?

“Hoe gouer die kerk skeur en klaarkry hoe beter vir albei groepe. Tans is die kerk in sy wese verlam as gevolg van die verdeeldheid,” sê Oosthuizen.

Meer oor:  Jean Oosthuizen  |  Chris Jones  |  Ng Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.