Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Moreletapark se kommer op beginsels geskoei’ – ds. Dirkie

Hy glo nie die NG kerk Moreletapark wil net afstig nie, het ds. Dirkie van der Spuy, voormalige leierpredikant van dié makro-gemeente in Pretoria, Dinsdag gesê.

Ds. Dirkie van die Spuy verlede jaar by die NG Kerk se algemene sinodesitting in Benoni. Foto: Deaan Vivier

Van der Spuy het Moreletapark en ander behoudende individue se spesiale beraad vir ’n ruk bygewoon as deel van sy voorbereiding vir die oostelike sinode se buitengewone sinodesitting in die eerste week van April. Van der Spuy is die voorsitter van die streeksinode.

“Ek sien die DNS van Moreletapark wat lui ‘Ek bly in die NG Kerk’, maar ook dat hulle ’n roeping het in die kerk om ’n getuienis uit te dra van groei, uitreik na mense, omgee vir mense, die belangrikheid van die Woord en luister na die stem van die Here en van die Heilige Gees. Ek hoor die beginsels agter die bekommernisse,” sê Van der Spuy.

Moreletapark bied die beraad vandeesweek aan vir enige behoudende lidmate of predikante wat deel in hul kommer dat die NG Kerk besig is met dwaalleer in hoe hy die Bybel interpreteer.

Die algemene sinode se moderamen ontken aantygings van dwaalleer ten sterkste.

Die sneller vir die beraad was die debat oor homoseksualiteit in die kerk. Die NG Kerk se besluit wat onder meer ruimte maak vir gay mense in ampte, is nie vir Moreletapark en ander behoudendes aanvaarbaar nie.

Van der Spuy sê die manier waarop die Bybel in sommige gevalle, soos “oor die uitleef en beoefening van homoseksualiteit” geïnterpreteer word, is wel ’n probleem.

Hoewel hy nie meer deel is van die kerkbestuur nie en sy voormalige gemeente voorheen aangeraai het om nié weg te skeur nie, sê Van der Spuy dit lyk vir hom asof die kerk deel van die NG Kerk wil bly, “maar in ’n ander groepering”.

Ds. Pieter Badenhorst, tans leraar van die gemeente, het Dinsdag aan Netwerk24 ook gesê die stigting van ’n onafhanklike gemeente is een van die beraad se gesprekspunte.

“In my tyd was die gedagte om die kerk van binne te beïnvloed en te hervorm. Daar het baie verander in die verloop van Moreletapark. Wat ek nou by die beraad sien, is kommer oor die fundamentele waarhede dat hulle by die Skrif wil staan as hy duidelik is oor sekere sake. Hulle voel ontuis onder ’n sambreel waar hulle meen hulle het nie dekking en beskerming nie,” sê Van der Spuy.

Lede van die paneel het ook Dinsdag dieselfde metafoor gebruik en gesê die NG Kerk, as ’n sambreel van baie gemeentes, kan nie meer vir hulle skuiling bied as daar byvoorbeeld gate in die sambreel is nie – die geskille waaroor die beraad nou gaan.

Van der Spuy sê die beraadgangers en lidmate van Moreletapark meen hulle wil ruimte onder die sambreel hê om hul oortuigings uit te leef.

“Ons weet nie wat die uitkoms van die beraad gaan wees nie. Ek hoor wel as daar nie aan hulle gewetensbesware aandag gegee word nie, gaan daar ’n probleem wees. Hulle wil in die NG Kerk bly, maar sal dan ’n ander groepering oorweeg,” sê hy.

Op ’n vraag oor die waarom die leierskap van die streeksinode en algemene sinode se moderamen nie op die vergadering is nie, het Van der Spuy gesê hy is nie seker nie, maar daar was in sy tyd reeds interaksie met die leierskap oor soortgelyke kwessies.

“Ons is die hoofstroomkerk wat ’n roeping in die land het – ’n eiesoortige roeping,” sê Van der Spuy.

Meer oor:  Ng Kerk Moreletapark  |  Ng Kerk  |  Sinode  |  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.