Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Morelexit: ‘Dink mooi voor julle loop,’ vra moderator

Die NG kerk Moreletapark moet “herbesin” oor sy besluit om die NG Kerkverband te verlaat, sê ds. Dirkie van der Spuy, moderator van die oostelike sinode, waaronder die kerk val.

Dié makro-gemeente in die ooste van Pretoria het onlangs gesê dat hy sy bande met die NG Kerk (NGK) wil verbreek weens “verskeie woelinge in die NGK en teologiese strominge wat die NG kerk Moreletapark nie vir lief mee kan neem nie”.

Die NG kerk Moreletapark in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Van der Spuy was deel van ’n informele vergadering wat Dinsdag by die kerk gehou is. Hy was tot sy aftrede in Februarie nog die gemeente se leierpredikant en is, buiten sy moderatorpos, ook ondervoorsitter van die algemene sinode se Moderamen (ASM).

Toe die bom bars het Netwerk24 verneem van bespiegelings dat Van der Spuy agter die besluit sit. Hy ontken dit egter ten sterkste.

“Ek was nie deel van die 40 dae (van gebed en vas wat aanleiding gegee het tot die besluit) nie, ek is eers ná die tyd in kennis gestel, maar ek het besef ek moet probeer keer dat hulle nie dadelik koers vat nie. Ek het hulle gister (Dinsdag) aangeraai om te herbesin,” sê Van der Spuy.

Hy is Dinsdag vergesel deur ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NGK se algemene sinode.

Janse van Rensburg was in sy “persoonlike hoedanigheid” daar, want die algemene sinode het nie die mandaat om die saak te besleg nie.

“Hulle het my uitgenooi; dit is ’n vriendskaplike besoek,” het Janse van Rensburg Maandag gesê.

’n Mediaverklaring is wel Dinsdagaand uitgereik.

Die verklaring sluit af met die woorde “Moreletapark leierskap (sic) en lede van die Moderamen van die Algemene Sinode”, wat ook in stryd is met die NGK se bestuursmodel waar slegs streeksinodes direk met gemeentes mag werk.

Dr. James Kirkpatrick, assessor van die Noordelike Sinode, het benadruk dié teenstrydighede “kan nie”.

Hy meen die verklaring is “niksseggend”.

“Hulle sê net ’n klomp goed waarmee die meeste mense saamstem. Wat is die eintlike rede? Die ASM skuld ons groter helderheid oor wat die redes is. Ons werk nie so met mekaar in die kerk nie. Om te sê hulle (Moreletapark) het so by die Here gehoor, is morele hoëgrond wat ’n hele gesprek verlam. Ek is gefrustreerd met die taal wat gebruik word. Ag nee, maggies man, die kerk moet deursigtig wees. Sê ons wat pla.”

Die AS is baie ernstig oor eenheid in die kerk. Die AS verstaan ook dat daar diversiteit in menings en benaderings is.

Ds. André Bartlett, moderator van die Hoëveld Sinode, sê die situasie waar die ASM direk by ’n gemeente aanklop, “maak ons baie onrustig”.

“Daar heers ’n ernstige besorgdheid oor wat aan die gebeur is. Daar is baie vrae. Die ASM is nie geken in die saak nie en het geen mandaat vir van sy lede gegee om namens die algemene sinode (AS) in gesprek met die gemeenteleiers van Moreletapark te tree nie.”

Bartlett sê die sinode ontvang talle navrae wat hy nie kan beantwoord nie, omdat hy self nie weet wat aangaan nie.

Dr. Pieter van Jaarsveld, moderator van die Vrystaatse Sinode, en dr. Carin van Schalkwyk, skriba, sê hulle het net twee vrae: “As dit ’n klein gemeente in die Vrystaat was, sou daar ook sulke intensiewe mediabelangstelling gewees het? En sou die AS-leierskap hulle ook besoek het en soveel moeite met hulle gedoen het?”

Dr. Barry Tolmay, moderator van die KwaZulu-Natalse Sinode, voel egter effens anders oor die saak.

“Ons is die laaste vyf jaar besig met ’n studie wat voor die sinodesitting gaan dien. Ons moet praat oor wat die rol van die AS is, en waar streeksinodes inpas.”

Tolmay sal in Oktober 'n verslag hieroor aan die algemene sinode voorlê.

Hy sê daar is ’n behoefte dat die AS meer op grondvlak met gemeentes te doen kry en hy glo die AS het ’n ondersteuningsrol om in die Moreletapark-sage te speel.

Die NG kerk Moreletapark het nagenoeg 14 000 lidmate.

Janse van Rensburg het Woensdag gesê die ASM is verkeerdelik in die mediaverklaring van Dinsdagaand betrek.

“Die verklaring is in oorleg met my persoonlik opgestel en moes nie aan die ASM toegedig word nie. Dis ’n fout. Ek was nié in ’n amptelike hoedanigheid daar nie. Ek, in my persoonlike hoedanigheid, het Dinsdag ’n pleidooi aan Moreletapark gerig om in die NGK-kring te bly. Ek voel hulle het nog ’n belangrike rol om te speel. Ek het verder geluister na hul besware.”

Janse van Rensburg sê dat lede van die AS enige gemeente in die land sal besoek wat hulle vriendskaplik uitnooi.

By navraag oor wat die ASM se amptelike posisie ten opsigte van Moreletapark is, het Janse van Rensburg gesê: “Die AS is baie ernstig oor eenheid in die kerk. Die AS verstaan ook dat daar diversiteit in menings en benaderings is. Die vraag (vir skeiding) is egter of daar van die hart van die belydenis verskil word. Dis nie so in Moreletapark se geval nie.”

Die amptelike verklaring.
Meer oor:  Ng Kerk  |  Ng Kerk Moreletapark  |  Moderator  |  Morelexit  |  Kerk  |  Afstig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.