Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
#Morelexit: Gemeente hou beraad vir ‘magteloses’

Die NG kerk Moreletapark in Pretoria hou in Februarie ’n spesiale beraad vir almal in die NG Kerkverband wat – soos hulle – “magteloos” voel.

Die redes vir die hou van Moreletapark se beraad.

Behoudendes sal op hierdie beraad die “pad vorentoe” bespreek, sê Pieter Breytenbach, dié makro-gemeente se bedryfshoof.

Moreletapark dreig al maande lank om die NG Kerk (NGK) te verlaat weens teologiese besware, waaronder die NGK se amptelike standpunt oor homoseksualiteit.

Die NGK se Algemene Sinode (AS) het in Oktober ’n besluit geneem wat ruimte maak vir uiteenlopende menings oor homoseksualiteit.

Dit beteken onderskeie kerke kan nou self besluit of hulle selfdegeslagverhoudings erken, gay paartjies wil trou of gay predikante wil aanstel.

Maar dié besluit steek Moreletapark dwars in die krop.

“Ons is steeds oop vir gesprek, maar na aanleiding van die Algemene Sinode se standpunt (oor homoseksualiteit) dat daar ’n ‘vasgelooptheid’ binne die kerk is, fokus hierdie spesifieke beraad om nié die standpunte teenoor mekaar te stel nie, maar om ’n nasionale platvorm vir gesprekvoering vir Evangelies-behoudende gemeentes te skep oor die pad vorentoe,” sê Breytenbach.

Op ’n advertensie vir die spesiale beraad sê Moreletapark dat hy, “as ’n Evangelies-behoudende gemeente” ervaar dat die “meerderheidstem binne die NG Kerk deur ’n minderheidstem oorheers word”, waar dit kom by die NGK se standpunt oor homoseksualiteit.

’n Vorige besluit van 2016, wat die behoudendes se goedkeuring weggedra het, was volgens Moreletapark eerder ’n “ware weerspieëling van die meerderheid lidmate binne die NG Kerk in geheel.”

“Die Algemene Sinode is ’n baie kleiner samestelling van die groter kerk, wat impliseer dat hulle nie noodwendig die meerderheidstem weerspieël nie,” sê Breytenbach.

Die NG kerk Moreletapark in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Redes vir die hou van die beraad sluit in dat “liberale teologie se agenda die sterkste voorgehou word op openbare forums” en dat Skrifgesag deur “liberale denke gekaap word”.

Moreletapark meen ook dat die NGK ’n “valse beeld van eenheid” voorhou.

Op ’n vraag oor Moreletapark se interpretasie van “liberale teologie”, het Breytenbach gesê: “In liberale teologie word Skrifgesag gerelativeer, wat daartoe lei dat individue die reg het om volgens hul eie oortuigings en lewenservaring die konteks van die Woord aan te pas sodat dit by hul lewenstyl inpas. Dit lei tot grysgebiede en verwarring onder gelowiges omdat die Woord nie meer as die enigste waarheid aanvaar word nie.”

Netwerk24 het Moreletapark se bestuur gevra of hy daarvan oortuig is dat ál sy lidmate met die “magteloosheid” – wat as die kerk se amptelike standpunt gestel word – saamstem, en om sy antwoord te verduidelik.

Breytenbach het hierop net verduidelik waarom die gemeente magteloosheid ervaar, en nie die vraag oor eenstemmigheid onder sy lidmate beantwoord nie.

Oostelike sinode is ‘besorg’

Ds. Francois Retief, uitvoerende amptenaar van die Oostelike Sinode, waaronder Moreletapark val, sê: “Ons het kennis geneem van die beraad en ons het nie beheer daaroor nie, maar ons het belang daarby. Daarom wil ons (eerskomende) Woensdag uitvind wat beplan word. Ons is besorg oor hoe dinge gaan verloop en wat die uitkoms kan wees – ook dat daar net een standpunt teenwoordig gaan wees. Só ’n ding moet reg bestuur word.”

‘Moenie kerkprosesse verdag maak’

Volgens ds. Nioma Venter, assessor van die Algemene Sinode, sal “enigiemand wat deel van die agt uur lange debat by die AS was, kan getuig dat dit nié ’n gemanipuleerde proses was nie, maar trouens ’n respekvolle, eerlike en diep gesprek wat van opregte soeke na wysheid en waarheid en integriteit getuig het”.

Venter het in haar persoonlike hoedanigheid kommentaar gelewer.

“Vir my is die belangrikste dat ons mekaar nie verdag sal maak en seermaak, na watter kant toe ook al, terwyl ons gespreksforums skep nie. Ons moet ook nie die prosesse van die kerk verdag maak nie. Is ons nie almal mense van integriteit nie?” het sy gevra.

Breytenbach het by navraag gesê Moreletapark stem saam met hierdie stelling.

Volgens Venter is die NGK se “diepste sekerheid dat ons een is in Christus. Eenheid is nié dieselfde as eendersheid nie – daarvan getuig die Nuwe Testament ook onomwonde. Daarom kan eenheid nooit ‘vals’ wees nie. Dit sou wel vals wees om te sê dat ons ‘eenders’ is.”

Nié almal is ontevrede

Intussen het ’n groep NG Kerk-predikante, lidmate en ander NG Kerk-belanghebbendes ’n getuienis onderteken wat die jongste besluit oor homoseksualiteit loof.

Die ondertekenaars is dankbaar “vir die ruimte wat die Algemene Sinode van 2019 se besluit laat vir verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag, en vir die ruimte wat die besluit skep vir gay gelowiges om hul roeping in die kerk volledig uit te leef”.

Lees die getuienis hier.


Meer oor:  Ng Kerk Moreletapark  |  Moreletapark  |  Pretoria  |  Morelexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.