Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Morelexit: Gemeente wil nou eers kerklike pad stap
Ds. Pieter Breytenbach, bedryfsbestuurder van die NG gemeente Moreletapark.

Die NG gemeente Moreletapark in Pretoria vra nou dat sy bekommernis oor die “liberale, teologiese” kurrikulum wat hul fakulteite volg, ondersoek moet word.

Dié besluit is verlede Donderdag ná ’n kerkraadsvergadering deur die gemeente geneem.

Pieter Breytenbach, die kerk se bedryfshoof, het Woensdag by navraag gesê die gemeente wil ’n kerklike pad stap voordat hy finaal besluit of hy die NG Kerk (NGK) gaan verlaat.

Dit sal onder meer verdere samesprekings met die Oostelike Sinode behels, sê Breytenbach.

“Die Bybel verwag dat ’n gemeente ’n kerklike pad in so ’n saak moet stap en dit is wat ons nou gaan doen,” sê Breytenbach.

Die gemeente se bestuur sê verder in sy omsendskrywe dat hy nou “in gehoorsaamheid op die roeping van die Here vir ons gemeente fokus”.

Verskeie gesprekke is reeds gehou met gemeentelede, die ring van Elarduspark en die Oostelike Sinode, maar nou sal daar ook gespreksgeleenthede met ander NG gemeentes wees.

Die gemeente het vroeër sy besluit aangekondig om weg te breek van die groter NGK.

Die gemeente het vroeër sy besluit aangekondig om weg te breek van die groter NGK.

Sy besluit spruit onder meer uit besware teen die NGK se Skrifgetrouheid en Skrifgesag, “liberale en humanistiese besluite” wat die kerk glo neem en ook die onlangse hofuitspraak deur ’n “wêreldse hof” ten gunste van gay mense, sê die gemeente.

Die kerklike pad wat die gemeente nou gaan stap, gaan ’n langdurige proses wees.

Breytenbach sê lidmate sal deurentyd op die hoogte gehou word in die proses.

Hy het gereageer op navrae van lidmate wat meen die kerk se besluit is uitsluitlik deur sy leiers geneem.

“Daar is nou eers ’n proses in die NG kerk wat moet plaasvind en dan moet ons eers terugvoering aan die gemeente gee voordat ons besluit of ons bly of gaan. Ons is nou eers besig met daardie proses,” sê Breytenbach.

Die gemeente se besware oor die teologiese opleiding van NG predikante sal ook ten tyde van hierdie kerklike prosesse onder die loep kom.

In ’n vorige verklaring het die gemeente gesê daar heers wyd kommer oor die liberale neigings by drie fakulteite en hy wonder of “die leierskap van die kerk daadwerklik besig is om daaraan aandag te skenk”.

Volgens Breytenbach bereik al hoe meer navrae en bekommernisse die gemeente se ore wat betref die teologiese leer van die NGK.

“En al wat ons vra, is dat ondersoek gedoen word na hierdie bekommernisse, want dit help nie daar word gekla en niemand doen iets daaromtrent nie,” sê Breytenbach.

Op ’n vraag wat die gemeente bekommerd gemaak het, sê Breytenbach die gemeente het ’n breë vraag wat hulle die sinode wil vra.

“Die besonderhede sal ons deurgee aan die sinode sodra ons met hulle gepraat het.”

Prof. Fanie Snyman, uittredende dekaan van die fakulteit teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, het die jongste besluit van die gemeente om die kerklike weg te volg verwelkom.

“Dit lyk asof Moreleta wil herbesin. Hulle dink weer oor die pad wat hulle ingeslaan het en tree in gesprek met mense oor die vrae wat hulle ontevrede maak pleks daarvan om sulke vae, algemene, niksseggende uitlatings oor ‘liberale teologie’ te maak,” sê Snyman.

Hy vermoed die gemeente het ’n bepaalde definisie daarvan, maar dat hulle dit bekend moet maak sodat daar ondersoek ingestel kan word.

Prof. Jerry Pillay, dekaan van die fakulteit teologie en godsdiensstudie aan die Universiteit van Pretoria, het gesê dit is ’n goeie aanduiding as die gemeente in gesprek wil tree.

“Ons onderrig steeds die kern van die Christelike geloofsleer, maar is oop vir verdere interpretasies en om met ’n oop gemoed Bybelse geskrifte te bestudeer. Dit alles beteken nie dat jy liberaal is nie,” sê Pillay.

Meer oor:  Morelexit  |  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.