Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Morelexit: Lidmaat soek antwoorde of Paia moet help

’n Lidmaat van die NG kerk Moreletapark in Pretoria eis antwoorde op vrae oor #Morelexit en sal selfs hofprosesse volg om dit te kry.

Willem Bouwer, ’n prokureur van Pretoria, is al 30 jaar ’n lidmaat van dié makrogemeente. Hy sê talle lidmate in die gemeente is nie op dieselfde bladsy as die bestuurslede wat betref die kwessie om uit die NG kerkverband te tree nie.

Die NG kerk Moreletapark in Pretoria.Foto: Deaan Vivier

Bouwer het in ’n prokureursbrief aan die kerkraad verwys na die lang verklaring deur woordvoerders van die gemeente wat hy as “skokkend, arrogant en skandelik” bestempel.

Hy verwys onder meer na ’n stelling dat die breër NGK die Bybel (moontlik) “postmodernisties” en “liberaal” interpreteer en dus die gesag van die Bybel bevraagteken. “Dié stellings van die Moreletapark-bestuur is ontstellend,” skryf Bouwer. “Dit skep die indruk dat die NGK totaal die spoor byster geraak het en is dus ’n blatante leuen.”

Een van die redes vir die gemeente se ongelukkigheid handel oor die NGK se Skrifgetrouheid en -gesag – “die risiko dat liberale en humanistiese besluite geneem word sonder dat die waarheid van die Skrif daarin weerspieël word”. Bouwer sê dit is “ ’n gevaarlike, lasterlike, onsinnige stelling”.

Volgens Bouwer is dit “arrogant” van die gemeente se bestuur om namens lidmate te besluit dat hulle nie meer onder die NGK-sambreel staan nie.

Bouwer sê individue wat uit die NGK wil tree, “soos (ds.) Pieter Badenhorst, Pieter Breytenbach (bedryfshoof) en Johan Anderson (voorsitter van die kerkraad) moet dit in hul eie hoedanigheid doen en nie NG gemeente Moreletapark in die proses ontwrig nie”.

Moreletapark by on Scribd

Bouwer het ook ’n stel vrae aan die bestuur gestel, waarop hy skriftelike antwoorde vereis. Dit sluit in:

* Wanneer het die bestuur die mandaat gekry om die moontlikheid van ’n uittrede deur die gemeente uit die NGK te oorweeg?

* Wie het die mandaat aan die bestuur gegee?

* Wie het die dwaalleringe van die universiteite namens die Moreletapark-gemeente ondersoek?

* Wie het die ondersoekspan (wat betref universiteite) saamgestel? Volledige insae van die ondersoek en die bevindinge, met byskrifte van die aanbevelings word verlang. Bouwer eis ook afskrifte van notules waar dié bevindings bespreek is.

* Is die bevindings met die sinode bespreek?

* Wat was die sinode se bevinding oor die ondersoekwerk?

* Wat is die sinode se aanbevelings wat betref optrede teen die universiteit? Bouwer vra afskrifte van die aanbevelings.

Hy meen dat die buurtwag die gemeente beter ken as die bestuur en vra vrae soos wanneer die jongste sensus in die gemeente gehou is en wanneer laas die attestate in besit van die administratiewe kantoor nagegaan is, om vas te stel of daardie lidmate nog in Moreletapark of aangrensende voorstede woon.

Willem Bouwer

Bouwer sê Anderson het hom op 4 Junie, sy eerste sperdatum vir antwoorde, gebel en gesê die bestuur wil eers praat voordat hulle antwoord.

Bouwer het met hulle op 5 Junie by die kerk vergader vir ’n gesprek van twee ure lank. Hy het ’n nuwe sperdatum van 6 Junie voorgestel, wat glo gekom en gegaan het. Hy het die afsnytyd verleng tot 11 Junie, waarop Anderson hom laat weet het hulle is steeds besig met die vrae.

“Ek as ’n lidmaat het die reg tot deursigtige administrasieprosesse,” sê Bouwer.

Hy sal dus nie huiwer om ’n aansoek te bring om die verlangde dokumente deur die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) te bekom, as hy niks van die bestuurslede hoor nie.

Dr. Theo Broodryk, hoof van die regskliniek aan die Universiteit Stellenbosch en kenner van siviele reg, sê personeel, gemeentelede en die publiek het die reg op toegang tot inligting.

“ ’n Versoek om inligting moet in die voorgeskrewe vorm aan die hoof van die NGK gerig word. Daarin moet die versoeker verskeie inligting weergee, onder andere die aard van die inligting wat verlang word en die redes daarvoor, die reg wat die versoeker wil uitoefen of beskerm, ensovoorts.

“Die hoof, gewoonlik in oorleg met die gemeente, evalueer of die versoek aan die kerklike instelling se beleid voldoen en, indien wel, verleen dan toegang tot die tersaaklike inligting.”

Broodryk sê die aard van die kerklike rekords waartoe personeel, gemeentelede en die publiek toegang het, sluit in onder meer agendas, notules, korrespondensie en ander boeke of lêers.

“Dit is waarskynlik dat die inligting wat hier gevra word, meestal onderworpe aan openbaarmaking sal wees en dat geldige redes gegee sal moet vir die weiering daarvan. Dit sluit byvoorbeeld in as die openbaarmaking van die rekord sekere inligting bevat wat kommersiële of finansiële skade aan die kerk kan veroorsaak.”

Breytenbach het by navraag gesê: “Ons gaan nie in die openbaar hierop reageer nie. Dit is ’n interne kwessie waaraan ons tans aandag gee en ons verkies ook om dit intern te hanteer.”


Meer oor:  Paia  |  Ng Kerk  |  Morelexit  |  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.