Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
#Morelexit: Só lyk die pad vorentoe
NG kerk Moreletapark
Die NG kerk Moreletapark in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Die NG kerk Moreletapark in Pretoria het minstens drie moontlikhede wat #Morelexit, sy vertrek uit die NG Kerk (NGK), betref.

Die kerk het in ’n verklaring op sy webblad uiteengesit hoe die proses vir die pad vorentoe moontlik lyk.

Dié makrogemeente se besluit spruit onder meer uit besware teen die groter NGK se Skrifgetrouheid en Skrifgesag, “liberale en humanistiese besluite” wat die kerk glo neem, die onlangse hofuitspraak deur ’n “wêreldse hof” ten gunste van gay mense en teologiese opleiding.

Die moontlikhede

  • Die eerste moontlikheid is om die naelstring met die NGK te knip. Moreletapark kan dit egter nie as ’n NG gemeente doen nie en sal ’n nuwe, onafhanklike gemeente moet stig. Die leraars sal ook hul bevoegdheid as NG predikante verloor.
  • ’n Tweede moontlikheid is waar die gemeente doleer, wat beteken die kerk treur oor sy situasie, of dat die kerk beswaar inbring. Volgens Pieter Breytenbach, Moreletapark se bedryfshoof, sal Moreletapark hom dan onttrek aan kerklike bedrywighede en vergaderings en sal sy besware in ’n ernstiger lig beskou word. Hy kan dan later steeds wegbreek.
  • In die derde geval kan die Oostelike Sinode ’n buitengewone sinodesitting hieroor roep. Die Oostelike Sinode kan een van drie besluite neem, waarvan die een is om as sinode uit die NGK te bedank.

Volgens Breytenbach het Moreletapark op 13 Junie ’n kerkraadsvergadering waarop die pad vorentoe bespreek sal word. Hy erken egter dat daar meer as net die drie moontlikhede in die verklaring is.

Netwerk24 het verneem dat daar lidmate is wat die besluit betwyfel – veral nadat ds. Dirkie van der Spuy, voorheen die leierpredikant by dié kerk en voorsitter van die Oostelike Sinode, dit duidelik gemaak het dat hy nie ten gunste van so ’n skeuring is nie.

Van der Spuy kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Breytenbach sê indien #Morelexit sou plaasvind, “ons (dit) nie (gaan) doen sonder die gemeente nie”. Hy sê daar word moeite gedoen om die gemeente ingelig te hou en indien daar twyfel is, dit nie weens die een of ander mening veroorsaak is nie, maar liewer omdat die gemeente “nie al die feite het nie”.


Die Oostelike Sinode gaan nie onttrek

Ds. Francois Retief, uitvoerende amptenaar van die Oostelike Sinode, sê: “Die Oostelike Sinode het nog nooit gedink om (uit die Algemene Sinode) te onttrek nie.”

Retief sê die streeksinode het ná die vergadering met die gemeente ’n brief gestuur “waarin ons baie sterk oor die eenheid van die kerk praat en waarin ons ook sê die opsie om uit die Algemene Sinode te onttrek, is nie vir ons op die tafel nie”.

Volgens Retief het die streeksinode en die gemeente onderneem om in Julie te vergader.


Meer oor:  Ng Kerk Moreletapark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.