Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Morkel se dood ‘groot verlies vir Worcester’

Sy was ’n knap organiseerder, ’n nederige mens met ’n skerp humorsin en altyd baie stylvol.

So word Elzabé Morkel (59), wat verlede Vrydag aan kanker in Worcester dood is, deur haar dogters, Leoni van Greunen, Helmare van der Merwe en Petronel Cronje, beskryf.

Morkel, die dogter van ds. Piet Badenhorst, ’n oudminister, was Worcester Gimnasium se bemarker en ’n bekende in toerisme- en wynkringe.

Elzabé Morkel Foto: Facebook

Sy is verlede Vrydag om 07:50 by haar huis dood nadat pankreaskanker in Maart 2020 by haar gediagnoseer is.

Haar dogters sê hulle was die twee weke voor haar dood elke dag by hul ma.

Volgens hulle kon Morkel ’n geselsie met enigeen aanknoop en opreg en belangstellend uitvra en luister.

“Mense sal haar onthou as ’n vrou met goeie organisasievermoëns, iemand met baie spesiale menseverhoudings en ’n breë algemene kennis. Sy was dinamies in haar veld as bemarker, maar het deernis en ’n visie gehad om ’n projek te begin en mense betrokke te kry en om dit te laat werk. Sy kon mense saam met haar opgewonde maak oor hul eie onderneming.

“Haar reuse-aandeel in die blootstelling en bemarking van die Worcester Wynroete se gesogte wyne aan die res van die wêreld was merkwaardig. Daar is weinig mense in die wynbedryf wat haar nie ken nie.”

Toe haar dogters op skool was, het sy in 1999 ’n ma-en-dogter-dag begin wat steeds ’n hoogtepunt op Worcester Gimnasium se kalender is.

Die kennisgewing met inligting oor Elzabé Morkel se lewensviering op 7 April.

“Haar visie om leerlinge die geleentheid te gee om bo hul omstandighede uit te styg en ’n kans in die lewe te kry, was haar grootste prioriteit. Kilometers op die pad en baie lang ure het haar nie gekeer om haar passie en omgee uit te leef nie,” sê hulle.

Morkel was ook baie lief vir haar kleinkinders en sou volgens haar dogters sê ouma-wees is haar grootste prestasie.

Volgens haar lewensmaat, André Marais, was Morkel “die vriendelikste mens wat baie hard gewerk het.

“Haar dood is ’n groot verlies vir Worcester.”

Die skool het in ’n boodskap op sy Facebookblad gesê Morkel se passie vir die skool en liefde vir die kinders sal altyd onthou word.

“Sy was ’n merkwaardige mens, ’n uitsonderlike kollega en ’n liefdevolle gesinsvrou wat almal om haar altyd ondersteun het.”

Morkel se gedenkdiens word op 7 April om 14:00 aanlyn uitgesaai. Sy word deur Marais, haar drie dogters, skoonseuns, ses kleinkinders, drie boers, ’n suster en haar ma, Maretha Badenhorst, oorleef.

Meer oor:  Worcester  |  Sterf  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.