Die Moslem Juridiese Raad gaan hom tot die Menseregtekommissie (MRK) wend oor die klag teen maj. Fatima Isaacs nadat sy glo geweier het om haar hijab te verwyder.

Maj. Fatima Isaacs, ’n kliniese tegnoloog by 2 Militêre Hospitaal in Wynberg.
Netwerk24
Isaacs, ’n kliniese tegnoloog by 2 Militêre Hospitaal in Wynberg, Kaapstad, het op 25 Junie voor ’n tugkomitee in ’n militêre hof verskyn omdat sy glo geweier het om die hijab, wat sy onder haar baret dra, te verwyder.
Isgaak Taliep, die raad se sekretaris-generaal, het bevestig dat hulle die weermag by die MRK wil verkla.
“Dit is diskriminasie teen haar as ’n Moslem-vrou en haar menseregte word geskend,” sê Taliep.
Volgens hom is ’n klag nog nie by die MRK ingedien nie, maar is hul prokureurs besig met die wetlike aspekte van die saak.
“Hulle sal ons in kennis stel wanneer hulle gereed is om die formele klag in te dien,” sê Taliep.
Voorheen is berig die weermag het Isaacs eers ’n finale skriftelike waarskuwing gegee omdat sy glo nie ’n wettige opdrag (om haar hijab te verwyder) uitgevoer het nie.
Toe word sy aangekla omdat sy geweier het om haar kolonel se opdrag uit te voer.
Isaacs se saak is tot 7 Augustus uitgestel.