Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Motorfietsryer wat teen motor bots Vrydag begrawe

Theuns Pretorius (37), wat by FS Tyre & Wheel in Oranjesig, Bloemfontein, gewerk het, is Sondag tussen 17:00 en 18:00 dood toe hy en ’n vriend en kollega, Ronaldo Blignaut, glo met hul motorfiets teen ’n motor in Totiusstraat, Langenhovenpark, gebots het.

Blignaut is in ’n kritieke maar stabiele toestand in die Pelonomi-hospitaal in die stad. Hy het Maandag operasies aan sy bene en pelvis ondergaan en word onder verdowing gehou.

Theuns Pretorius is Sondag laatmiddag dood toe hy en Ronaldo Blignaut met hul motorfiets in Langenhovenpark, Bloemfontein, teen ’n motor vasgery het. Foto: Verskaf
Ronaldo Blignaut is in ’n kritieke maar stabiele toestand in die hospitaal. Foto: Verskaf

Volgens Hester Bester, ’n familievriendin, is sy brein geswel en het hy bloeding op die brein. Hy is aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel.

“Hy is stabiel en die dokter sê hulle sal verdere toetse doen om te bepaal of daar nog skade is as die swelling eers gesak het. Die dokter sê hy is ’n vegter,” sê sy.

Volgens Thys Pretorius (45), Theuns se ouer broer, wou ’n vrou glo uit Totiusstraat in ’n ander straat indraai toe hulle teen haar motor gebots het.

“Dit was vir ons ’n baie groot skok. Hulle was nog ’n uur voor die ongeluk by ons. My ouers is stukkend. Hy was hul hart se punt.

“Dit klink of albei die motors (een het by die kruising gestaan) ’n blinde kol gehad het. Die vrou wou draai en toe ry hulle teen haar vas,” sê hy.

Thys beskryf sy broer as ’n “uitgaan-mens” wat ’n sterk persoonlikheid gehad het en vir niks en niemand bang was nie.

“Hy kon ’n hele gesprek met ’n tweejarige hê en dan omdraai en dieselfde gesprek met ’n 80-jarige persoon hê. Ek gaan die manier hoe hy met enigeen kon omgaan, mis. Hy was ’n mens-mens.

“Hy was altyd besig en stout. Hy was ’n planmaker. Ons was goeie vriende,” sê Thys.

Volgens die nooddiens ER24 is die bestuurder van die motor nie beseer nie.

Theuns word Vrydag om 10:00 uit die NG kerk Bainsvlei begrawe.

Meer oor:  Fs Tyre & Wheel  |  Theuns Pretorius  |  Ronaldo Blignaut  |  Oranjesig  |  Bloemfontein  |  Motorfiets  |  Begrafnis  |  Botsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.