Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Motorfietse brul vir Driehoek-kinders

Duisende motorfietsryers van oor Suid-Afrika het Sondag in ’n konvooi na die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark gery om geld in te samel vir leerlinge en hul families wat deur die onlangse brugtragedie geraak is.

Motorfietse staan Sondag op die skoolterrein van die Hoërskool Driehoek geparkeer. Foto: Facebook

Motorfietsryers het onder begeleiding van die polisie meer as 40 km afgelê.

Die beginpunt was ’n Engen-vulstasie op die R59 tussen Vereeniging en Johannesburg.

Daarna het die motorfietsryers en ander ondersteuners op die skoolterrein gaan parkeer waar daar onder meer ’n veiling gehou is om geld in te samel.

Jason Firmani van Bikers Against Bullies South Africa, een van die organiseerders, sê hy is “oorweldig van blydskap dat so baie mense opgedaag het”.

Van die deelnemers was van die Vrystaat, KwaZulu-Natal en Noordwes afkomstig.

Volgens Firmani behoort hy teen die laatste Maandag te weet hoeveel geld ingesamel is.

Hy sê hy was “saam met die res van die land geskok” toe ’n loopbrug tussen twee geboue op 1 Februarie by Hoërskool Driehoek ineengestort het.

Vier kinders is dood en talle is beseer.

’n Motorfiets in die kleure van die Hoërskool Driehoek. Op die motorfiets verskyn die name van die leerlinge wat in die tragedie dood is asook die wat beseer is. Foto: Facebook

“Ons het ’n blad vir die gedenkrit op Facebook geskep wat later uit sy nate gebars het.’n Polisievrou het ons gebel toe sy van die byeenkoms hoor om hulp aan te bied met polisiebegeleiding en ander aspekte van die reëlings,” sê Firmani.

“Ons wil ook vir die gemeenskap van die Hoërskool Driehoek wys dat hulle nie alleen is nie. Die tragedie het die harte van mense oor die land heen aangeraak,” sê hy.

Op die Facebook-blad Gebedsgroep vir Driehoek Kinders het gelukwensinge ingestroom nadat verskeie mense foto’s van die byeenkoms geplaas het.

Deelnemers aan die gedenkrit en ondersteuners Sondag op die paviljoen van die Hoërskool Driehoek. Foto: Facebook

Susan Corris het geskryf die byeenkoms is iets wat ’n foto nie kan beskryf nie.

“Julle motorfietsryers weet ook net hoe om mense bewus te maak. Saam kan ons die seer hanteer en weer heel word,” het sy geskryf.

Intussen sal Cheverné Duvenage (13), een van die leerlinge wat in die tragedie beseer is, Maandag weer in die hospitaalteater wees.

Benedet Goosen het ’n boodskap van Cheverné se pa, Elardus, en stiefma, Yolandi, op die gebedsgroep geplaas om dié nuus te deel.

Cheverné het ’n wond in haar maagwand en dokters oorweeg nog plastiese chirurgie om die maagwond op te bou. Sy is egter nog nie sterk genoeg vir dié operasie nie.

“Sy gaan môre (Maandag) weer teater toe om haar ingewande skoon te maak en na die wond te kyk. Die susters sê hulle gaan dit elke twee tot drie dae doen om infeksie te voorkom. Hou haar asseblief in julle gebede,” lui die inskrywing.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.