Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Motorfietsers maak ’n pienk slaggatplan

Gautengse motorfietsryers wat opgehou het om te probeer om die regering sover te kry om slaggate te herstel, het nou self ingespring – met neonpienk spuitverf.

Jan Liebenberg het sy projek teen slaggate begin omdat hy ’n vriend op ’n swak pad verloor het. Foto’s: Elizabeth Sejake

Die motorfietsklub Firefighters SA in Modderfontein het in Januarie ’n projek met die naam Bikers Against Road Carnage begin.

Hulle bespuit nou slegte paaie om ander motorfietsryers en motoriste minstens te waarsku.

“Hulle gaan dit in elk geval nie regmaak nie,” sê Jan Liebenberg, voorsitter van die motorfietsklub.

Liebenberg (61) sê een van hul “manne” is in Desember aan die Oos-Rand dood.

TC Frankenberg (32) het op 26 Desember op ’n pad gery waar die Ekurhuleni-metro besig was om skoon te maak. Die werkers was huis toe, maar die rommel was nie verwyder nie, sê Liebenberg.

Sy motorfiets het oor ’n hoop teer en klippe gery en hy het geval.

Liebenberg wys die neonpienk spuitverf. By hom is Peter Mccarthy (51) en Leon Swanepoel (61), wat hom met die projek help.

“Sy dogtertjie het net-net twee jaar oud geword,” sê Liebenberg.

“Ons doen dit vir hom. Slaggate is net so ’n groot probleem soos gemors wat nie skoongemaak word nie. Jy is veronderstel om die hele radius van ’n slaggat uit te grawe en dit weer heeltemal te laat teer.”

Liebenberg sê dit is nié wat gebeur nie. “Die munisipaliteit gaan gooi net die slaggat met sement vol. Oor ’n week is die gat terug.”

Liebenberg en sy “gatvol bikers” het in die afgelope maand sowat 50 slaggate met die pienk verf gaan merk. “Ons het eers geel en wit verf gebruik, maar dit is kleure wat al klaar te veel op die paaie gebruik word. Daarom gebruik ons neonpienk, want jy kan dit nie miskyk nie.”

Liebenberg sê die spuitverf-projek red nie net lewens nie, maar maak klaarblyklik die munisipaliteite skaam. “Sodra ons spuit, sien ons darem gouer ’n paar werkers op die pad.”

Jaco Terblanche, ’n DA-raadslid van Ekurhuleni, sê die Oos-Rand se paaie lyk “regtig sleg” en die metro het nie ’n doeltreffende plan om dit reg te stel nie. “Ek is bly iemand doen darem iets.”

Themba Gadebe, woordvoerder van die Ekurhuleni-metro, het nie op Rapport se navrae gereageer nie.

jaco.nel@rapport.co.za

Meer oor:  Slaggate
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.