’n 53-jarige motorfietsryer is Sondagmiddag dood in ’n botsing teen ’n vragmotor op die Van Reenenspas in die Drakensberge.
Die ongeluk het gebeur gedurende ’n gedenkrit vir ’n ander motorfietsryer.
Volgens kapt. Nqobile Gwala, ’n KwaZulu-Natalse polisiewoordvoerder, was die ongeluk omstreeks 15:40.

’n Motorfietsryer is Sondagmiddag op die Van Reenenspas dood in ’n botsing teen ’n vragmotor. Die ongeluk het plaasgevind gedurende ’n gedenkrit vir ’n ander motorfietsryer wat vroeër dood is. Foto: Twitter/ER24
Die Padverkeersinspektoraat, die N3-tolroete-padpatrollie, sowel as die Van Reenen-polisie, was reeds op die toneel toe die ER24-ambulansdiens omstreeks 16:20 daar opdaag.
Luidens ’n verklaring van ER24 het die man en sy motorfiets in die snelweg se vinnige baan in die rigting na Johannesburg tot stilstand gekom.
“Die man het geen teken van lewe getoon nie. Hy is met ER24 se aankoms dood verklaar,” sê Ross Campbell, ER24-woordvoerder, in die verklaring.
Die man het glo saam met sy motorfietsklub aan ’n gedenkrit vir ’n ander motorfietsryer deelgeneem wat vroeër dood is, sê Campbell.
Heelwat lede van die betrokke motorfietsklub was op die toneel toe die man dood verklaar is.
Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.