Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Motorfietsryer van Bloem ‘was soos son wat opkom’
Franco Cloete se kis is deur lede van die Rebel Conspiracy-motorfietsklub uit die Biker’s Church net buite Bloemfontein gedra. Voor links is Sarel van Rensburg, adjunkpresident, met Zander Botha en JP Labuschagné agter hom. Regs is Bollie Botha, stigter, met WC Botha en Stefan Coetzee (buite sig) agter hom. Foto: Mlungisi Louw

Die jong Bloemfonteinse motorfietsryer Franco Cloete (19) se roudiens Vrydag was ’n dag nadat hy en sy tweelingsuster, Vanessa, hul 20ste verjaardag sou vier.

Cloete is verlede Saterdag op die toneel dood verklaar toe sy motorfiets en ’n ligte voertuig by ’n kruising in Walter Sisulu-weg in Bloemfontein gebots het. Willem van Staden (41) van Gauteng, die tweede slagoffer van die botsing, is ook op die toneel dood.

Franco Cloete Foto: Verskaf

Tientalle motorfietse het in ’n stoet na Cloete se roudiens by die Biker’s Church net buite Bloemfontein gery.

Lede van die Rebel Conspiracy-motorfietsklub, waarvan Cloete sowat vier maande lid was, asook van ander motorfietsklubs was op die diens om hulde aan hom te bring.

Sy klubonderbaadjie was op sy kis. Jakkie Massyn, Cloete se oom, het sy baadjie van die kis gehaal voordat dit van die perseel geneem is.

Massyn het aan Netwerk24 gesê motorfietse was Cloete se passie. “Hy het van kleins af motorfietse gehad.” Hy het vir sy motorfiets geleef.

Sy oom beskryf hom as ’n “grapgat” en ’n “hardwerkende kind”.

Met die roudiens wou hulle ook bewusmaking vir motorfietsryers skep, dat motoriste op die uitkyk moet wees vir hulle, vertel hy.

Sy familie neem afskeid by Cloete se kis. Van links is Jasper Cloete, sy pa, Aletta Gough, sy ma, Dennis Gough, sy stiefpa, en Vanessa, Cloete se tweelingsuster. Foto: Mlungisi Louw

Die lied “Biker Angel” deur Anton Myburgh is onder meer op die diens gespeel.

“Op pad na ’n day-jol / Dit het saggies gereën / toe die biker angel / jou weg kom neem,” begin die lied.

“Dis maar net om te sê die engel het hom kom haal; hy is nou veilig daar bo,” het Massyn gesê.

Past. Wimpie Burger het die diens op die bekende Psalm 23:1-6 geskoei.

Heel links is Marchelle, Cloete se suster. Voor is Aletta Gough, sy ma, Dennis Gough, sy stiefpa, Louis Gough, sy stiefbroer, Johanna Nel, sy ouma, Alet Erasmus, sy tannie, en Vanessa Cloete, sy tweelingsuster. Foto: Mlungisi Louw
Rouklaers neem afskeid van Franco Cloete. Foto: Mlungisi Louw

In die roudiensbrief is ook na Cloete op sy byname, Ouman en Pikkewyn, verwys. Volgens Massyn is hy weens sy klein liggaamsbou “Pikkewyn” genoem.

“Toe hy klein was, het hy sy hande agter sy rug gehou en soos ’n ou man geloop.” Vandaar die bynaam “Ouman”.

In ’n brief van Cloete se tannie, Alet Erasmus, word na sy sonnige geaardheid verwys.

“Soos as die son opkom, so was dit as jy in ’n vertrek gekom het. Wanneer ek af gevoel het, maak jy die simpelste grap net sodat ek moet lag,” lui die brief wat met die huldeblyk voorgelees is.

Su-Lizé Page, sy niggie, het ’n gedig, “God neem ons op kronkelpaaie”, voorgelees.

Rouklaers het ook na “Amazing Grace” geluister en Riana Nel se “Hou die hemel oop” is gespeel toe klublede sy kis uitdra.

Leerlinge van die Hoërskool President Steyn in Bloemfontein, waar Cloete op skool was, het ook die diens bygewoon, asook sy mede-vakleerlinge by SA Truck Bodies.

Cloete laat ook Aletta en Dennis Gough, sy ma en stiefpa, Jasper, sy pa, sy suster Marchelle, stiefbroers Louis en Ethan, en sy oumas, Annie Massyn en Johanna Nel, agter.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Begrafnisdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.