Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Motoris bedank verkeersman vir hulp ná rooftog op M2
Ruben Kotzé wat verlede week beroof is terwyl sy voertuig op die M2 gaan staan het, is dankbaar vir Sithendiso Khumalo van die JMPD se hulp.

Hy is met ’n vuurwapen gedreig toe sy motor vermoedelik sonder petrol gaan staan het, maar Rubin Kotzé sê sy geloof in die mensdom is herstel toe ’n lid van die Johannesburgse metropolisie (JMPD) by hom langs die pad stilgehou en die rowers agternasit het.

“Alles het so vinnig gebeur. My voertuig het Donderdagoggend omstreeks 12:45 onklaar geraak op die M2 by die Roodepoort-afrit (by die Crown-wisselaar). Toe ek my foon gryp om my vrou te bel, sien ek drie mans na my kant toe stap. Toe ek weer kyk, ruk een van hulle my deur oop en kon ek ’n vuurwapen in my sy voel,” het Kotzé Dinsdag gesê.

Hy sê die verdagtes het geskree hy moet die voertuig aansit, maar hy kon nie.

“Hulle het geld ook geëis en het met my beursie en selfoon weggekom.”

Minute later het ’n JMPD-motor langs Kotzé stilgehou.

“ ’n Lid van die JMPD het uitgespring en gevra wat ek daar maak, want ek kan nie op so ’n onveilige plek stilhou nie. Ek het hom vertel en sonder huiwering het dié lid sy vuurwapen uitgepluk en die verdagtes agternagesit. ’n Ent verder het hulle oor die pad verdwyn.”

Terug by sy voertuig, het dié JMPD-lid, Sithendiso Khumalo, saam met Kotzé gewag totdat hulp opgedaag het.

“Hy het sy selfoon aangebied en ek kon ook my vrou in kennis stel van wat gebeur het. Khumalo het my nie vir een minuut alleen gelos nie en ek is so dankbaar vir sy merkwaardige optrede.”

Khumalo, wat sedert 2003 ’n lid van die JMPD is, sê hy het onraad vermoed toe hy Kotzé langs die pad sien staan het.

“Dié pad is onveilig en daar is gewoonlik baie klagtes van misdaad,” sê Khumalo.

“Ek is bly ek kon help. Benewens die feit dat dit deel van my werk is, sou ek hoop dat indien ek myself in dieselfde situasie bevind iemand anders ook so teenoor my sou optree.”

Meer oor:  Verkeersman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.