SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Algemeen
MRK betwyfel arts se weergawe oor vasgebinde vrou

Die Menseregtekommissie (MRK) het gesê die antwoorde van ’n dokter van die hospitaal in Tshwane oor wat gebeur het dat ’n bejaarde pasiënt verlede maand onder ’n ry stoele vasgebind gevind is, is weersprekend.

Die MRK het Dinsdag saam met senior amptenare van die hospitaal ’n inspeksie gedoen van die geriewe in die ongevalle-afdeling van die Mamelodi-hospitaal, waar Martha Marais (76) se dogter haar verlede maand vasgemaak onder ’n ry stoele gevind het.

Tydens die inspeksie het personeellede ernstige probleme by die hospitaal uitgelig.

Buang Jones, Gautengse bestuurder van die Menseregtekommissie (MRK). Foto: Judith Silomo, News24

Dr. Adeleye Awolola het aan Buang Jones, MRK-bestuurder in Gauteng, gesê Marais was deurmekaar.

“Sy het gewag om ’n dokter te spreek. Sy het eintlik op die stoel gesit. Sy was ’n verwarde pasiënt en was nie veronderstel om op die sitplek te sit nie. Sy is ’n [verstandelik gestremde] pasiënt en was deurmekaar.”

Awolola het onvoldoende hulpbronne in die hospitaal geblameer daarvoor dat sy daar moes wag, terwyl sy nie veronderstel was om daar te wees nie.

“Bevraagteken jy die weergawe van die gebeure?” het Jones toe gevra.

Awolola het geantwoord dat Marais vasgemaak was terwyl sy op die stoel gesit het, maar dat sy haarself afgewikkel het totdat sy op die vloer gelê het.

Die 76-jarige Martha Marais met haar hande agter haar rug vasgebind onder ‘n ry stoele in die Mamelodi-hospitaal. Die foto is wyd op sosiale media gedeel. Foto: Verskaf

Jones het aan Awolola gesê sy antwoorde is nie oortuigend nie.

In ’n video wat wyd op sosiale media gedeel is, kan Marais op die vloer gesien word, waar sy aan die ry stoele met haar hande agter haar rug vasgemaak is. ’n Veiligheidswag staan langs haar en haar dogter, Stephnie, skree en vra die wag waarom haar ma soos ’n dier behandel word.

“Kom maak haar asseblief los,” het Stephnie uitgeroep voordat sy en twee ander mense probeer het om die pensioenaris los te maak.

Amptenare van die hospitaal het Dinsdag oor die ernstige tekort aan beddens gekla. Volgens hulle moet pasiënte dikwels noodgedwonge in rolstoele slaap, terwyl ander op die vloer lê en op behandeling wag.

Awolola het gesê die ongevalle-afdeling is veronderstel om byna 35 pasiënte te akkommodeer, maar die getalle het so toegeneem dat die hospitaal oorvol raak.

Die hospitaal het ook staatgemaak op verpleeg-agentskappe om bykomende personeel te verskaf omdat daar ’n tekort was.

Jones het gesê die MRK het die afgelope 18 maande meer as vyf gesondheidsgeriewe in Gauteng besoek en dat dieselfde kwessies uitgewys is.

Dr. Bandile Masuku, Gautengse LUR vir gesondheid, tydens ’n besoek aan Martha Marais (76) van Eersterust nadat sy in die Mamelodi-daghospitaal was. Foto: Virginia Keppler

“Ons is bekommerd oor die hospitaal se infrastruktuur.”

Hy het gesê die hospitaalbestuur moet vergader met die nuwe LUR vir gesondheid, Bandile Masuku, om die uitbreiding van die geriewe te bespreek sodat met die groeiende bevolking in Pretoria-Oos tred gehou kan word.

Jones het beklemtoon dat die kritieke personeeltekorte reggestel moet word, omdat dit verreikende gevolge het.

Dit lei tot negatiewe houdings en ’n laer moreel by personeellede, asook ’n hoë afwesigheidsyfer by die gesondheidswerkers wat oorbelas word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.