Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘MRK is partydig in Eben se saak’

Die Menseregtekommissie (MRK) se geloofwaardigheid is onder verdenking weens sy hantering van die Eben Etzebeth-saak en daarom sal enige bevinding wat hy daaroor maak “gekontamineer” wees, het die vakbond Solidariteit gesê.

Adv. Buang Jones, waarnemende regshoof van die MRK. Foto: Lucky Morajane

Solidariteit het die MRK daarom Vrydag in ’n brief gevra om hom aan die saak te onttrek.

Die brief is geskryf deur Werner Human, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, en gerig aan die MRK se voorsitter, adv. Bongani Majola.

Etzebeth, ’n Springbokslot wat vandag teen Japan sy 83ste toets sal speel, word onder meer daarvan beskuldig dat hy in die vroeë oggendure van 25 Augustus in die Weskusdorpie Langebaan iemand aangerand en rassistiese uitlatings gemaak het.

Human verwys in die brief na adv. Buang Jones, waarnemende regshoof van die MRK, se uitlatings op 3 Oktober by ’n gemeenskapsvergadering in Langebaan, wat volgens Human wys dat die MRK ’n “vooropgestelde standpunt” ingeneem het teen Etzebeth oor die haatspraakklag wat die kommissie aanhangig gemaak het by die gelykheidshof.

Jones het op dié gemeenskapsvergadering gesê Etzebeth hoort “in ’n tronksel” en dat hy aangekla moet word van poging tot moord.

“Onthou, hy het geld, en onthou, die stelsel ondersteun hom, dit is hoekom hy in Japan is,” het hy bygevoeg.

Hy het hierdie verklarings gemaak ’n dag voordat hy ’n haatspraakklag by die gelykheidshof teen Etzebeth ingedien het.

Jones het onder kwaai kritiek deurgeloop ná sy uitlatings. Adv. André Gaum, ’n MRK-kommissaris, het erken Jones se uitlatings is “problematies” en word ondersoek. Jones mag ook nie meer met die media oor die Etzebeth-aangeleentheid praat nie.

“Art. 4 van die (MRK-)wet maak dit duidelik dat enige kommissaris of personeellid nie op ’n manier mag optree wat die geloofwaardigheid, onpartydigheid, onafhanklikheid of integriteit van die kommissie in gedrang bring nie,” lui Human se brief.

Indien die MRK nie onttrek nie, eis Solidariteit dat die volgende aan hul verskaf word:

¦ ’n Bevestiging dat Jones by magte was om ’n ondersoek na die Etzebeth-kwessie te lei;

¦ Die besonderhede van die prosedures wat die MRK in die ondersoek na Etzebeth gevolg het; en

¦ Duidelikheid oor die status van die ondersoek teen Jones.

“Die MRK-wet maak ruim voorsiening vir die MRK om die besluit om ’n ondersoek te loods, terug te trek. Dit is wat moet gebeur,” het Human by navraag gesê.

Solidariteit het ook dié week aangekondig dat hy gevra het om as vriend van die hof toe te tree tot die haat­spraaksaak in die gelykheidshof.

Dié aankondiging het gekom nadat Etzebeth se regspan Maandag ’n hof­aansoek by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien het waarin die Bokslot onder meer eis dat die MRK sy ondersoek na die beweerde rasvoorval in Langebaan moet staak én dat die aanklag teen hom in die gelykheidshof tersyde gestel word.

Etzebeth kritiseer die MRK in sy hofaansoek en sê hy is op ’n vergadering met die MRK op 29 Augustus die onderneming gegee dat die saak ondersoek sal word, dat hy van die besonderhede van die klag teen hom voorsien sal word en dat hy met sy terugkoms van die Wêreldbeker-toernooi in Japan die geleentheid sal kry om sy kant van die saak te stel.

Hy sê die MRK het egter nie die kwessie deeglik ondersoek nie en dat hy sy magte van ondersoek “misbruik” het.

“Die kommissie het daarin misluk om onpartydig op te tree toe hy besluit het om sy ondersoek te staak en prosedures teen my in te stel,” lui Etzebeth se verklaring.

Majola het by navraag gesê die kommissie moet nog Solidariteit se skrywe oorweeg voordat hulle kommentaar sal lewer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.