Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
MRK kyk na hantering van haweloses in Kaapstad

Die Menseregtekommissie (MRK) het Woensdag bevestig dat hy Kaapstad se verordeninge sal ondersoek om vas te stel of dit grondwetlik is.

Dit kom nadat die Kaapstadse metro die laaste weke talle haweloses beboet het.

Die MRK het benadruk dat haweloses ook die reg tot waardigheid en eiendom het.

Chris Nissen, kommissaris van die Menseregtekommissie (MRK) in die Wes-Kaap, Woensdag op ’n vergadering oor haweloses in Kaapstad.Foto: Malherbe Nienaber

Chris Nissen, MRK-kommissaris in die Wes-Kaap, het op ’n vergadering gesê meer as 100 klagtes is al oor die behandeling van haweloses en straatmense ontvang.

Hy het Woensdagoggend haweloses in die middestad besoek om hul klagtes aan te hoor, veral oor die boetes.

Die MRK het ’n bietjie meer as ’n maand gelede op ’n vergadering met die metroraad gesê die metroraad raak aggressiewer met die opdwing van sy verordeninge en dat die MRK daarna gaan kyk, sê Nissen.

“Die vraag is waar is die behoorlike beleid oor haweloses wat nie hul waardigheid skend nie? Hawelose mense het ook regte. Jy word nie ’n niks as jy dakloos is nie.”

Die afgelope week is berig dat wetstoepassers van die metroraad haweloses weens oortredings van die verordening oor strate, openbare ruimtes en geraas-steurnisse boetes van tussen R300 en R800 opgelê het.

Richard Bosman, uitvoerende direkteur van veiligheid in Kaapstad, het Woensdag gesê mense wat nie dié boetes betaal nie, moet in die hof verskyn.

“Sodra die saak voor die hof dien, is dit in die hande van die aanklaer en die landdros.”

Die metroraad kon nie bevestig hoeveel haweloses al weens onbetaalde boetes in hegtenis geneem is of in die hof verskyn het nie.

In die eerste drie maande van die jaar het Kaapstad se wetstoepassingseenheid 3 051 klagtes van die publiek oor antisosiale gedrag deur straatmense ontvang, het die metroraad Dinsdag gesê.

Daar is ook 199 boetes in dié tydperk opgelê weens oortredings van die stad se verordeninge.

Die metroraad het Dinsdag in ’n verklaring benadruk dat haweloses en straatmense vryheid van beweging geniet, maar dat hulle net soos ander inwoners die verordeninge moet nakom.

Nissen sê egter dit kom voor asof geraas en ander steurnisse net as ’n verskoning gebruik word “om haweloses van die straat af te verwyder”.

Hy was nie bewus van gevalle waar haweloses in die hof moes verskyn of gevonnis is weens boetes wat nie betaal is nie, maar het gewaarsku dat dit ’n onnodige las op die strafregstelsel en gevangenisse sal plaas.

Nissen wil met die burgemeester oor die behandeling van haweloses vergader.

Die MRK het sowat twee weke gelede klagtes begin ontvang oor die boetes wat aan die haweloses uitgereik word. Die haweloses met wie Nissen Woensdag gepraat het, sê die boetes word die afgelope drie weke opgelê.

“Ons moet volhoubare oplossings vind. Die probleem word nie opgelos deur boetes, die sloop van strukture of deur mense weg te jaag nie. Dis net tydelik.”

Volgens Nissen het die mense wat hy besoek het, gesê wetstoepassers daag gereeld op om hul skuilings af te breek en dan word al hul besittings op ’n voertuig gegooi en weggery.

Dit sluit in hul identiteitsdokumente, kliniekkaarte, Sassa-kaarte, medikasie en ander persoonlike besittings wat glo weggeneem word.

Tammy Carter, senior beampte vir regsdienste van die MRK, sê die Grondwet verplig die staat om bestaansekerheid aan mense te bied. Dit sluit in toegang tot kos, water en gesondheidsdienste.

Dit is veral kommerwekkend as mense se ID’s afgeneem word en hulle as gevolg daarvan by klinieke weggewys word, sê Carter.

“Die huidige behandeling van haweloses as ’n probleem, ’n gevaar of ’n steurnis stem na ons mening nie ooreen met die konsep van gemeenskaplike waardigheid en die reg tot gelykheid wat ons almal geniet nie.”

Volgens Carter word haweloses in Kaapstad en oor die wêreld heen behandel “asof hulle geen sê oor hul eie lewe het nie” en is dit ’n skending van hul reg op waardigheid.

“Ons behoort nie besluite vir hulle te neem nie en hulle moet geraadpleeg word.”

Van die klagtes wat die MRK ontvang het, is dat daar ’n tekort aan skuiling vir haweloses is en dat die “massiewe agterstand” met behuising in die provinsie die situasie vererger sê Carter.

Suzette Little, voormalige burgemeesterskomiteelid van die Kaapstadse metro. Foto: Peter Abrahams/SON

“Die toename in haweloosheid dui waarskynlik op tekortkomings en ons moet ook na die dieper kwessies in gemeenskappe kyk: Waarom mense die huis verlaat. Daar moet ook ’n alternatief wees anders as om net terug te keer huis toe.”

Verslawing en psigiatriese probleme word ook dikwels onder haweloses gevind.

Suzette Little, voormalige burgemeesterskomiteelid vir maatskaplike ontwikkeling in Kaapstad, het Woensdag in ’n verklaring gesê in ’n 2015-peiling is die aantal haweloses in die stad op 7 000 geraam.

Daar is egter glo net 2 000 beddens in die stad se nagskuilings beskikbaar.

In 2017 het die metroraad internasionale norme probeer volg en die departemente van veiligheid en maatskaplike dienste het saamgesmelt om ’n “geïntegreerde benadering en oplossings te vind”, volgens Little.

Dit het gelei tot die Safe Space-projek waar ’n skuiling naby die Kaapstadse treinstasie geskep is om slaapplek en maatskaplike dienste aan 200 mense te bied.

Nadat Patricia de Lille verlede jaar as burgemeester bedank het, is die departement van veiligheid en maatskaplike dienste egter weer in twee verdeel en Little sê dit was ’n terugslag.

Sy is een van die DA-raadslede wat die party in 2018 ná De Lille se bedanking verlaat het.

“As die stad se skuilings net twee uit sewe haweloses kan huisves, waar dink dié wetstoepassingskenners gaan die oorblywende 5 000 veilig oornag? Suid-Afrika is midde-in ’n resessie wat deur dekades van korrupsie vooruitgeloop is. Deernis en werklike oplossings is wat ons burgers van ons verwag.”

Meer oor:  Menseregtekommissie (Mrk)  |  Ondersoek  |  Beboet  |  Haweloses
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.