Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘M.T. Steyn neem regmatige plek in geskiedenis in’

Pres. M.T. Steyn sal sy regmatige plek in die geskiedenis inneem, sê Tokkie Pretorius, direkteur van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein.

Die beeld van pres. MT. Steyn voor die hoofgebou van die Universiteit van die Vrystaat (UV) wat na die Oorlogsmuseum in Bloemfontein verskuif gaan word. Die beeld sal op 11 Oktober, presies 120 jaar ná die uitbreek van die Boereoorlog, op sy nuwe staanplek onthul word. Foto: Argief

Die beeld van die president van die Vrystaatse Republiek gaan vanaf die Universiteit van die Vrystaat (UV) na die museum geskuif word. Dit sal op 11 Oktober, presies 120 jaar ná die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog (ABO), by die museum in Bloemfontein onthul word.

Die Vrystaatse Provinsiale Erfenishulpbronagentskap (VPEHA) het die permit uitgereik dat die beeld van die UV-kampus na dié museum verskuif mag word.

Die permit is vir twee jaar tot 30 April 2021 geldig.

Die UV het aansoek gedoen dat die beeld verwyder word sodat dit nie ander groepe op die kampus aanstoot gee nie.

AfriForum het egter appèl teen die permit aangeteken en gesê indien die beeld verskuif word, “kan Afrikaanse studente en personeel van die UV tereg vra of hulle nog welkom op die kampus is”.

Pretorius het in sy reaksie gesê die beeld sal by die museum se gedenkmuur by ’n uittreksel van Steyn se woorde opgerig word. Hy sal links na die Vrouemonument kyk, waar hy begrawe is.

Anton Roodt, landskapsargitek van Bloemfontein, sal toesig hou oor die afbreek en vervoer van die beeld en verseker dat dit in sy nuwe tuiste presies reg opgerig word, sê Pretorius.

“Die beeld is die hartklop van dit waarvoor pres. M.T. Steyn gestaan het. Die museum, wat die lyding van vroue en kinders in die Boereoorlog uitbeeld, is nie ’n aangename ervaring nie. Maar dit is ook daar vir heling.”

Pres. M.T. Steyn
Pres. M.T. Steyn Foto: Getty Images

Steyn sal hier binne die regte konteks uitgebeeld word. Die museum beeld die lyding van alle Suid-Afrikaners uit, sê hy.

“Die lyding van die vroue en kinders het hom na aan die hart gelê. Hier kom baie skoolgroepe die museum besoek en ons sal sy rol (as vredemaker) beklemtoon en opleiding hieroor gee. Ons sal Steyn sy regmatige plek in die geskiedenis laat inneem.”

Lacea Loader, direkteur: kommunikasie en bemarking van die UV, het bevestig dat die permit goedgekeur is om die beeld af te breek, tydelik te berg en te verskuif.

’n Spesiale taakspan wat die rektor, prof. Francis Petersen, aangewys het, is reeds met die beplanning van die verskuiwing besig.

’n Datum hiervoor is nog nie vasgestel nie, maar dit kan teen die einde van Junie geskied. Beplanning vir die “herinterpretasie van die betrokke ruimte” voor die hoofgebou, sal gou begin.

AfriForum en verskeie ander bewaringsinstellings, waaronder die Erfenisstigting, die Voortrekkermonument, die Bloemfonteinse Kultuurvereniging, die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys, Bloemfontein en die Gereformeerde Geloofsbond het beswaar teen die uitreiking van die permit aangeteken.

In AfriForum se appèl teen die uitreiking van die permit, word beklemtoon dat die verskuiwing eerder studente op die kampus sal polariseer as om respek en samehorigheid onder hulle te bevorder.

Alana Bailey, uitvoerende adjunkhoof van AfriForum verantwoordelik vir erfeniskwessies, sê Steyn vergestalt die ideaal van ’n eie Vrystaatse universiteit – ’n doelstelling wat hy ywerig bevorder het. Hy verdien daarom hierdie erkenning op die kampus. Dit beteken allermins dat geen ander beelde van rolspelers bygevoeg mag word nie.

Om hom egter te verwyder op grond van eietydse ideologiese oorwegings, druis in teen die aanhef van die Suid-Afrikaanse Grondwet wat verklaar dat ons almal sal respekteer “wat hul beywer het om ons land op te bou en te ontwikkel”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.