Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Mthatha-lughawe herwin gou status

’n Aankondiging dat die Mthatha-lughawe opgeknap word tot ’n kategorie 4-lughawe, kan binnekort verwag word.

Phumulo Masualle, Oos-Kaapse premier, en lt.genl. Liziwe Ntshinga, die Oos-Kaap se polisiekommissaris, voordat Masualle sy premiersrede gelewer het.

Dit is een van die aankondigings wat Phumulo Masualle, Oos-Kaapse premier, Vrydag in sy laaste provinsiale rede in die wetgewer in Bhisho gemaak het.

Die regering neem tugstappe teen diegene wat daarvoor verantwoordelik is dat die lughawe van kategorie 4 tot kategorie 3 afgegradeer is, het Masualle gesê.

Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) het die lughawe op 24 Januarie afgegradeer, onder meer oor die standaard van die redding-en-brandbestrydingsdienste. Tegnologie moet ook opgegradeer en die noodstelsels opgeknap word.

Volgens Masualle het die regering gou gereageer om aan die BLO se vereistes te voldoen.

Hy het erken gesondheidsdienslewering in die provinsie laat veel te wens oor. “Een van ons grootste bekommernisse is steeds die regsmediese eise, wat sowat R23 miljard beloop.”

Hy het gesê daar is egter nie net slegte nuus nie.

Ondanks die swak ekonomie het die provinsie daarin geslaag om deur die twee nywerheidsontwikkelingsones en die Oos-Kaapse ontwikkelingskorporasie gesamentlik meer as R30 miljard se beleggings te lok. Dié beleggings het meer as 29 000 werkgeleenthede geskep. Die uitgebreide openbarewerke-program het ook vir ongeveer 430 000 deeltydse werkgeleenthede gesorg.

Volgens Masualle is meer as 50 000 huise in sy termyn as premier gebou.

In samewerking met Sanral is meer as R850 miljoen bestee aan toegangspaaie en brûe na onder meer skole, gesondheidsgeriewe en toeristeattraksies.

Polisiebeamptes staan op aandag by die openingsplegtigheid van die Oos-Kaapse wetgewer.

Ongeveer 3 500 km se grondpaaie in die provinsie is herbou, terwyl 7 500 km se grondpaaie geskraap is.

In 2014 het 69,1% van die inwoners toegang tot basiese sanitasie gehad. Dié syfer is nou 80%. Meer as 1,4 miljoen mense het basiese elektrisiteit. Dit is volgens hom ’n verbetering van 7,6% in die afgelope vyf jaar.

300 verpleegsters is elke jaar in poste geplaas danksy ’n ooreenkoms met die Universiteit van Fort Hare. Die provinsie het ook vordering gemaak met sy MIV/vigs-programme deur die beskikbaarheid van antiretrovirale middels te verbeter. Sedert 2015 is 1,5 miljoen mense vir die virus getoets. Daar was ook ’n afname in tuberkulose-gevalle.

Masualle het gespog met die matriekslaagsyfer van 70,6%. Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het vroeër vanjaar gesê die Oos-Kaap is die provinsie wat die grootste verbetering in sy matriekuitslae behaal het. Dit is volgens hom deels te danke aan die toepassing van ’n onderwys-transformasieplan.

Masualle het gesê daar is ’n toename in dwelmverwante misdaad op die platteland. Taxigeweld en dwelmverwante misdaad bly ’n groot bekommernis. Hy het die teen-bende-strategieë teen misdaad in die provinsie verwelkom.

Hy het in sy toespraak slegs een paragraaf aan korrupsie afgestaan. Hy het gesê pogings om die provinsie bedrog- en korrupsievry te maak, is verskerp danksy die provinsiale teen-korrupsie-veldtog met die aanstelling van etiek-beamptes in alle departemente.

Nqaba Bhanga, die DA se premierskandidaat, het gesê Masualle het nie groot veranderinge aangekondig wat die provinsie op ’n nuwe pad van vooruitgang kan plaas nie.

Hy meen Masualle het die ANC se mislukkings onder sy leierskap probeer afmaak en moes “diep krap” om suksesse op te diep.

Meer oor:  Phumulo Masualle  |  Mthatha  |  Lughawe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.