Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Mufasa 'oornag' in tronkselle

"Dit is nie elke dag dat jy so iets sien nie. Dit gebeur ook nie elke dag dat ons so iets in ons selle aanhou nie. Ek weet nog nie waarvoor hulle die ou gaan aankla nie – seker ontsnapping en omdat hy die boere se vee gevang het.”

mufasa, gevang
Mufasa nadat Riaan Nel hom verdoof het. Foto: Hesther Obermeyer

So het ’n polisiebeampte by die Sutherland-polisiekantoor Woensdagaand geskerts oor hul ongewone “gas”.

Mufasa, die jong leeumannetjie wat op 15 Februarie uit die Karoo Nasionale Park in Beaufort-Wes ontsnap het, is Woensdagmiddag buite dié dorp in die Noord-Kaap aangekeer en sou die aand in die polisiekantoor se selle slaap.

Mufasa, wat langer as sy beroemde voorganger, Sylvester, soek was, het vir 27 dae lank spoorsnyers en helikopters ontduik. Sylvester het destyds 24 dae lank kat en muis met sy agtervolgers gespeel.

“Hy is hier. Hy het die aanhoudingselle vir homself. Hy is besig om sy roes af te slaap,” het ’n polisiebeampte Woensdagaand gesê.

Riaan Nel, senior veldwagter van die Karoo Nasionale Park, het Mufasa omstreeks 16:30 op die plaas Noupoort Grashoek, sowat 50 km buite die dorp, met ’n verdowingspyl geskiet.

Die leeu is daarna met ’n helikopter na die polisiekantoor gebring. Hy sal waarskynlik Donderdag per helikopter na die Karoo Nasionale Park in Beaufort-Wes vervoer word.

Volgens Nel het hy en sy span van sewe Mufasa die heeldag “gedruk” tot waar hy in ’n bos op die plaas weggekruip het.

Hy was moeg. Jy kon sien as hy hardloop hoe moeg is hy. Ons het goeie spore van hom gekry en hom heeldag gevolg.

“Hy was moeg. Jy kon sien as hy hardloop hoe moeg is hy. Ons het goeie spore van hom gekry en hom heeldag gevolg.

“Hy het agter ’n bos weggekruip en toe my span nader kom, het hy uitgespring en gebrul en weggehardloop.

“Ek het hom met die eerste pyl raakgeskiet,” sê Nel.

Mufasa het vroeër die dag twee skape doodgebyt.

Nel sê almal – veral die boere – is verlig dat die leeu aangekeer is.

“Ons gaan nou vir Riaan ’n dop koop,” het Hester Obermeyer, ’n inwoner, gesê.

Janine Raftopoulos, woordvoerder van Sanparke, het Woensdagaand bevestig die leeu is gevang. Hy sal na die park teruggeneem word sodra ’n krat daarvoor beskikbaar is.

Volgens ’n sersant by die polisiekantoor wat nie sy naam wou gee nie, was die straat vol nuuskieriges wat wou sien hoe lyk die leeu.

Hy sê ’n veearts was op pad om Mufasa te ondersoek.

“Almal is bly hy is gevang, want mense was bang om in die aand uit te gaan. Nou kan hulle darem rustig slaap.”

Mufasa het onder meer ’n eland, bokke en skape platgetrek voordat hy gevang is.

Sylvester, die ander losloperleeu, het in 2015 ’n soekgeselskap vir 24 dae ontwyk nadat hy uit die park ontsnap het. Ná sy tweede ontsnapping in 2016 het hy ’n nuwe tuiste by die Kuzuko Lodge in Addo gekry. 

mufasa, gevang
Mufasa is per helikopter na die polisieselle in Sutherland gebring. Foto: Hesther Obermeyer
Omstanders staan en kyk en neem foto’s van ’n slapende Mufasa, die rondloper leeu, wat Woensdag sowat 50 km buite Sutherland in die Noord-Kaap gevang is. Foto: Hester Obermeyer
Riaan Nel, senior veldwagter wat Mufasa verdoof het, by die leeumannetjie waar hy agter in die helikopter lê. Foto: Hester Obermeyer
’n Man vryf Woensdagmiddag oor ’n slapende Mufasa nadat hy sowat 50 km buite Sutherland in die Noord-Kaap gevang is. Foto: Hester Obermeyer


Meer oor:  Karoo Nasionale Park  |  Mufasa  |  Riaan Nel  |  Sutherland  |  Rondloperleeu  |  Tronkselle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.