Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
MultiChoice 'skaar hom nie by Steve se standpunte'
Steve Hofmeyr Foto: Felix Dlangamandla

MultiChoice is verbind tot Afrikaans en ondersteun vryheid van spraak, maar weens “ ’n weerstand teen rassisme” het hy gevra dat ’n Ghoema-benoeming onttrek word vir ’n video waarby Steve Hofmeyr betrokke is.

’n Herrie het losgebars weens dié versoek van die betaalkanaal dat die video van “Die land” nie vir ’n kykNET Ghoema-musiektoekenning in aanmerking moet kom nie.

Joe Heshu, MultiChoice se hoof van korporatiewe sake, het by navraag aan Netwerk24 gesê Hofmeyr se standpunte stem nie ooreen met dié van die maatskappy nie.

“MultiChoice is verbind tot die bou van ’n nierassige samelewing en veroordeel alle dade van diskriminasie ten sterkste. MultiChoice is trots op sy ondersteuning van Afrikaans, nie net ons belegging in inhoud vir ons DStv-platforms nie, maar ook deur ons borgskappe van feeste, geleenthede en die breër Afrikaanse uitvoerende kunstebedryf.

“Ons verbintenis tot Afrikaans en alle plaaslike tale sal nie verander nie. Dit het onder ons aandag gekom dat Steve Hofmeyr vir ’n Ghoema-toekenning in die kategorie vir beste musiekvideo benoem is. Ons verwelkom ’n samelewing waar vryheid van spraak gevier word, maar ons aanvaar weerstand teen rassisme.”

Die Coleske Artists-platemaatskappy het die “Die land” – met Hofmeyr, Bok van Blerk, Bobby van Jaarsveld, Jay en Ruhan du Toit van Touch of Class – ingeskryf.

Die Ghoemas-toekenningsaand word Woensdag in die Sun Arena in Pretoria gehou.

MultiChoice het gedreig om sy borgskap aan die Ghoemas te onttrek indien die benoeming van “Die land” nie onttrek word nie.

Arnold Coleske is Maandagmiddag oor die besluit ingelig.

Heidi Edeling, uitvoerende hoof van die Ghoemas, het in ’n e-pos aan die bestuurskomitee gesê “hierdie ultimatum is ten volle ondersoek en elke poging is aangewend om dit te beredder.

“Dit is die mandaat van die raad van trustees om in die beste belang van die Ghoemas op te tree. By wyse van ’n demokratiewe (sic) stemproses bevestig ek dat daar besluit is om die genoemde musiekvideo aan die lys van benoemings te onttrek.”

Edeling sê die proses is onaangetas en die uitslae in dié spesifieke kategorie staan, en kan deur die ouditeure gestaaf word.

“Die bodemlose kinderagtigheid woed voort. Die kunstekaping, die blanke deel daarvan, veral,” het Hofmeyr op Facebook geskryf. Hy sê dat MultiChoice die Afrikaners by die Ghoemas soos poedels deur ’n hoepel van vuur van politieke korrektheid laat spring.

“Die hemel help ons. Intussen het ek al op welke wyse met 90% van die kunstenaars geassosieer. Vanoggend assosieer MultiChoice met die staat terwyl staatsgekaapte Ace Magashule as beide korrup en rassisties ontbloot is. Jy is op jou eie witman.

“Die blanke, die taal en sy kulturele wese het speelgoed geword vir Fasciste. Ons is uitgelewer aan die ‘Revolution’ en die helfte van ons mense ís aan hulle kant.

“Dankie vir almal wat, soos ek, geskok is met die ‘kunstekaping’ deur die staat en besigheidsektor.”

Coleske het Dinsdag by navraag aan Netwerk24 gesê dit is ’n hartseer dag vir die kunste en Afrikaans.

“ ‘Die land’ word op al die Afrikaanse kanale van MultiChoice gespeel. Dit is goed genoeg om die lied te speel en kommersieel daaruit voordeel te trek, maar wanneer daar erkenning gegee moet word, dan word dit onttrek,” sê hy.

“Daar is dubbele standaarde, wat ek voel nie heeltemal geregverdig is nie.”

‘Die land’ word op al die Afrikaanse kanale van MultiChoice gespeel. Dit is goed genoeg om die lied te speel en kommersieel daaruit voordeel te trek, maar wanneer daar erkenning gegee moet word, dan word dit onttrek.

Coleske het in ’n e-pos, in antwoord op Edeling se e-pos oor die onttrekking van die video, gesê die besluit raak nie net die kunstenaars, regisseur en die vervaardiger van die video van die liedjie nie, “maar elke ander kunstenaar wat ’n toekenning ontvang”. Hy meen dit kan die integriteit van die pryse in gedrang bring.

“Ons glo die indiening van ‘Die land’ en die daaropvolgende benoeming van die video vir ’n toekenning is bevestiging dat die voorlegging binne die reëls val.

“Dit is ’n klap in die gesig vir die kunste, vryheid van uitdrukking en vir die bevordering van Afrikaans.”

Coleske het ook by navraag gesê die besluit van die Ghoemas se raad van trustees is strydig met die amptelike kriteria, reëls en regulasies wat onder meer stipuleer dat die Ghoemas ’n “onafhanklike” toekenningsgeleentheid is.

Die sanger Jay du Plessis is een van die kunstenaars wat vir Hofmeyr in die bres getree het.

“Dit is hartseer. Die toekennings is nou vir ewig gekwes. My vorige Ghoemas gaan nou almal asblik toe. Dit is nie eers meer goed genoeg om die deur oop te hou nie,” het hy op Twitter gesê.

Du Plessis het in ’n ander twiet gesê: “Dit is sooo belaglik! My bek hang oop . . . Bye bye Ghoemas. Vaar je wel.”

Intussen het Bok Radio in ’n verklaring op Facebook aangekondig dat hy sy deelname aan die Ghoemas in die lig van die onlangse besluit opskort.

“Die kategorie vir die gewildste liedjie van die jaar is geborg deur Bok Radio en ons is van mening dat ‘Die land’ ’n kandidaat sou wees om te wen,” lui die verklaring.

’n Aantal ander kunstenaars het ook hul mening op Twitter gelug.

“Teleurgesteld. BELAGLIK,” skryf Corlea Botha.

“Groot en baie nuwe respek vir julle. Dankie dat julle geregtigheid ondersteun! #LankLeweAfrikaanseMusiek,” het Bobby van Jaarsveld gesê in reaksie op Bok Radio se verklaring.

Edeling het nog nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

*Die Ghoemas word Saterdag om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai. Die aankoms van die kunstenaars en gaste op die blou tapyt word Sondag om 18:30 op kykNET NOU!, DStv-kanaal 146, uitgesaai, met ’n heruitsending van die Ghoema-toekenningsaand net daarna.

’n Skermgreep van die e-pos wat Heidi Edeling, uitvoerende hoof van die Ghoemas, Maandag aan die bestuurskomitee gestuur het.Foto: Skermgreep



Meer oor:  Steve Hofmeyr  |  Ghoemas  |  Multichoice
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.