Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Musiekmeester se ‘1ste en enigste’ tjello gesteel

Dis nie ’n hond of kind nie, maar ná 51 jaar se spel daarop is dit nogtans hartverskeurend om sy tjello weens diefstal te verloor.

Frederick Fourie speel hier op sy Italiaans vervaardigde tjello wat hy reeds van 1968 het. Hier is hy saam met Tilla Henkins. Hy speel reeds 51 jaar op dié tjello. Foto: Daphney Teffo

So beskryf Magdel Louw die verlies van Frederick Fourie, haar pa en gewese rektor aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), se Italiaans vervaardigde Enzo Lassi.

Dié instrument, wat in 1960 vervaardig is, het Saterdagaand voete gekry nadat die Vrystaatse Simfonieorkes (FSSO) in die Odeion-teater op die UV se kampus opgetree het.

Fourie, voorsitter van die orkes, sê daar is niemand in sy lewe met wie hy “ ’n langer pad gestap het nie”.

Hy het die tjello reeds gehad toe hy 45 jaar gelede een van die stigters van die orkes was.

“Ek het dit in 1968 gekry toe ek in st. 8 in Grey-kollege was. Dit was my eerste en enigste tjello wat ek gehad het. Ek ken hom langer as my vrou.”

Fourie was Saterdagaand die gasheer vir ’n onthaal ná die konsert en het sy tjello agter die verhoog gelos waar al die musikante gewoonlik hul instrumente uit- en inpak.

Hy het besef dit is weg toe hy sien sy groot, harde swart tjellokis is skoonveld.

“Dit was net weg. Daar was nie ’n inbraak of iets nie. Ons kry dit net nêrens in die hele gebou nie.”

Hy sê die teaterbestuurder het dit in ’n stadium daar sien lê.

“Ek moes dit nie daar gelos het nie, maar nou ja.”

Fourie het die naweek ’n pamflet gemaak wat die unieke kenmerke van die instrument uitwys, soos waar dit in die verlede met swart veselglas en gaas herstel is.

Hy het Maandag by pandjieswinkels en talle Cash Crusaders-winkels aangegaan in die hoop dat die dief dit daar sou verpand.

“Hy kon dit selfs by ’n skool probeer verkoop het, ’n mens weet nooit.”

* Enigiemand met inligting oor die gesteelde tjello kan die FSSO-kantoor by 051 401 2342 of die UV-veiligheidsdiens by 051 401 2911 skakel.

Die pamflet wat Fourie gemaak het in die hoop dat iemand sy tjello sal opspoor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.