Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Musikus in trane toe hy gesteelde viool terugkry
Gerhard van der Merwe het die viool in sy matriekjaar by sy ouma as geskenk gekry.

“Ek het in trane uitgebars en inmekaargesak in die straat. Ek was nog nooit so bly soos toe nie.”

Gerhard van der Merwe (27), die eienaar van Forté Academy of Performing Arts in Centurion, dink terug aan die oomblik toe hy ná sowat twee weke met sy gesteelde 1800’se Italiaanse viool herenig is.

Gerhard van der Merwe (27) van Hennopspark in Centurion was verheug toe hy sy waardevolle Italiaanse viool terugkry. Die viool is saam met ander items in ’n huisbraak oor die Kerstyd gesteel.

Hy het in die Kerstyd by sy familie op Bela-Bela gaan kuier toe daar vermoedelik op Kersaand by sy huis in Hennopspark, Centurion, ingebreek is. Toe hy op 26 Desember terugkeer, was die vrieskas oop en die ys nog gevries.

Die skelms het onder meer ses viole, ’n klankstelsel en juweliersware gebuit. Ook sy strykyster en strykplank.

Onder die gesteelde viole was die Italiaanse Enrico Ceruti-viool wat Gerhard in sy matriekjaar by sy ouma, Miemie Grobler (89), as geskenk gekry het. Van alles wat gesteel is, sou hy net graag hierdie waardevolle item wou terugkry.

“Nie net is die viool baie werd nie, maar dit het verskriklik baie sentimentele waarde,” sê Gerhard. Hy wou nie sê wat die presiese waarde van die viool is nie.

Die viool het ook al verskeie plekke in die wêreld – onder meer Amerika, Spanje en Finland – saam met hom getoer en musiek gemaak.

Twee weke ná die voorval het Gerhard hom tot Facebook gewend in ’n poging om die viool op te spoor.

Sy nuwe studente gebruik gewoonlik van sy ander viole totdat hulle hul eie aangeskaf het.

Intussen het Marcelle Moffs (56) van Rooihuiskraal in Centurion gedink hy het ’n winskopie losgeslaan toe hy verlede Maandag ’n Italiaanse viool vir R350 by ’n winkel vir gebruikte ware in die omgewing koop.

Terug by die huis het hy navorsing gedoen oor dié viool en besef dat dit báie meer werd is as die bedrag wat hy daarvoor betaal het.

Iets omtrent die viool het Marcelle tot só ’n mate gepla dat dit hom die volgende dag vroeg uit die vere gejaag het.

“Dit was asof God met my gepraat het. Ek kon nie verstaan waarom ek die viool vir spotgoedkoop gekry het nie,” sê hy.

Marcelle het verder op die internet rondgekrap totdat hy op inligting oor Gerhard se vermiste viool afgekom het.

Hy het sy “nuwe” viool met foto’s van die vermiste een vergelyk en toe hy besef daar is ooreenkomste, het hy vir Gerhard gekontak.

Gerhard van der Merwe se waardevolle Enrico Ceruti-viool wat hy teruggekry het.

Die een wat Marcelle gekoop het, is toe al die tyd die einste gesteelde viool wat aan Gerhard behoort.

“Hy het foto’s gestuur en ek het begin bewe. Dit het onwerklik gevoel,” sê Gerhard.

Hulle het mekaar dieselfde dag by die Wierdabrug-polisiekantoor ontmoet en Gerhard se geliefde viool is aan hom terugbesorg.

Marcelle, wat jare gelede self viool gespeel het, sê hy was van plan om weer te begin oefen. Die viool was ook amper op pad Amerika toe saam met Marcelle se seun om daar gewaardeer te word.

Tog was hy bly om Gerhard se viool aan hom terug te gee.

“Hy het gehuil en kon nie ophou om my te druk nie,” sê Marcelle.

By dieselfde winkel waar Marcelle die viool gekoop het, het die polisie intussen ook beslag gelê op nog twee van Gerhard se viole en sy klankstelsel.

Van sy gesteelde goedere is ook by ’n ander winkel in die omgewing opgespoor.

Sedert die viool aan sy regmatige eienaar terugbesorg is, word dit daagliks in Gerhard se voertuig rondgekarwei om te voorkom dat dit weer in die verkeerde hande beland.

Gerhard het ook ekstra veiligheidsmaatreëls by sy huis getref.

Meer oor:  Musikant  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.