Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
My 8 ure saam met Mark Minnie, 3 dae voor sy dood

Dis Vrydag kort ná 11:00.

Drie dae voor Mark Minnie, medeskrywer van die boek Die Seuns van Bird Island, se dood.

Ek en die fotograaf Lulama Zenzile ontmoet Minnie in die parkeerterrein van die McDonalds in Kaapweg, Linton Grange, Port Elizabeth.

Mark Minnie. Die foto is Vrydag – drie dae voor sy dood – geneem. Foto: Lulama Zenzile

Maar eers moes ek aan hom verduidelik watter tipe voertuig ons ry.

Ek het Minnie gekontak kort nadat daar op Sondag 5 Augustus vir die eerste keer oor die boek berig is. Ons het op Facebook Messenger begin gesels.

Minnie was baie paranoïes en wou nie hê dat mense moet weet hy het reeds maande gelede uit China na Suid-Afrika teruggekeer nie. Ek moes hom ook my woord gee dat ek vir niemand sou sê nie.

Uiteindelik, nadat hy my agtergrond nagegaan het, het hy ingestem om my te ontmoet.

Minnie het saam met my en Zenzile na die Tsitsikamma-gebied gery waar ons gehoop het om nog slagoffers van die beweerde pedofielnetwerk waaroor Minnie in die boek skryf, te ontmoet. Ons wou met die besoek aan die Tsitsikamma-omgewing ook probeer om die huis en/of huise waar van die beweerde verkragtings van minderjarige bruin seuns glo plaasgevind het, op te spoor.

Inwoners van Tsitsikamma het ons vertel van ’n huis wat glo aan die broer van ’n ander voormalige adjunkminister behoort het. Ons kon die inligting egter nie bevestig nie.

Ons sou uiteindelik sowat agt uur saam met Minnie deurbring.

Minnie het agter in ons voertuig geklim. Hy was joviaal, vriendelik en bly om met mense te praat wat die beweerde vergrype verder wou ondersoek.

Hy was geklee in ’n donkerblou sweetpakbroek en rooi sweetpaktop met Chinese skrif daarop. Sy goudkleurige selfoon was heeltyd in sy hand. Sy pakkie sigarette nooit buite bereik nie.

Minnie se hare was kort geskeer. Sy deurskynende blou oë het jou stip dopgehou. Hy het baie gepraat. Hy wou veral weet hoe ons op mnr. X, een van die beweerde slagoffers wat na vore gekom het, afgekom het.

Minnie se lewe het gedraai om sy seun (24) en sy dogter (13). Ook sy gewese vrou, Bernie (skuilnaam), die kroegdame in die boek, by wie hy steeds gebly het wanneer hy in die land was.

LEES OOK: Minnie oor dag toe hy verkrag is 

Hy het erken dat sy verlede hom egter altyd ingehaal het: Die feit dat hy as jong seun deur twee ander seuns verkrag is. Dít, het hy in ons drie uur lange gesprek na die Tsitsikamma-omgewing gesê, is een van die redes hoekom sy persoonlike lewe, veral sy liefdeslewe, nooit stabiel was nie.

“My verhoudings het nooit gehou nie, maak nie saak hoe lief ek vir die vrou was nie. Ek moes altyd my manlikheid bewys. Ek moes altyd bewys dat ek die stud in die bed is.”

Die mense het op meer as net minderjarige bruin seuns geteer. Daar was ook wit seuns en wit gay jong mans wat misbruik is.
Mark Minnie

Minnie het gesê die verkragting is ook hoekom, toe hy meer as 30 jaar gelede met die ondersoek na die bewerings oor die pedofielnetwerk begin het, hy dit nie net daar kon laat nie.

“Ek het geweet, nadat ek Allen in hegtenis geneem het en hy in die motor die groot name genoem het, dat ek in die moeilikheid gaan kom. Maar ek sou daai kinders in die steek laat en dit kon ek nie doen nie.”

Nog iets wat hy nie vir mense gesê het nie, is dat hy reeds 20 maande gelede sy werk by die universiteit in China opgegee het waar hy Engels gegee het. Hy het onbetaalde verlof geneem om die boek te skryf. Sy hoof kon egter nie langer sy pos oophou nie en moes iemand anders in sy plek aanstel.

“Ek het vir onbetaalde verlof gevra sodat ek aan die boek kon begin werk, want ek kon dit nie doen terwyl ek voltyds werk nie. Ek moes ook terugkom Suid-Afrika toe om verdere navorsing te doen.”

LEES OOK:

MINNIE: Seun se byna profetiese woorde

Hy het vertel van sy lewe in China en dat hy minstens twee keer per jaar na Suid-Afrika gekom het om tyd saam met sy jong dogter deur te bring. Sy gesig het gestraal toe hy vertel dat sy ’n kranige hokkiespeler is. Hy het die Woensdag nog een van haar wedstryde bygewoon.

Terwyl hy gesels het, was hy heeltyd op sy selfoon besig waar hy agter in die motor sit. Dis een oproep na die ander. Hy het ook baie boodskappe gestuur. Baie van die boodskappe was aan Chris Steyn, die ondersoekende joernalis wat die boek saam met hom geskryf het, en die boek se uitgewer, Maryna Lamprecht. Hy het egter nie uitgebrei oor wat in die boodskappe gesê is nie.

Hy is ook seker so vier of vyf keer deur mense gekontak wie se name hy in die boek noem. Die mense word aanhoudend deur die media gebel vir kommentaar. Minnie het net gelag en gesê hulle moet sê “geen kommentaar”.

Onmiddellik dink ek aan die omstandighede waarin John Wiley, voormalige minister van omgewingsake, en die sakeman Dave Allen dood is. Albei het glo destyds hulself om die lewe gebring. Albei is geskiet. In die boek is daar soveel vrae rakende Allen en Wiley se dood, vrae wat nou nog onbeantwoord bly.

Hy het, terwyl ons na die Tsitsikamma-gebied gery het, gesê hy hoop daar kom nog slagoffers na vore. “Ons het name van mense, maar sukkel om by hulle uit te kom of om uit te vind waar hulle nou is.”

Volgens hom is die inligting wat in die boek vervat is, net die oortjies van die seekoei.

“Die mense het op meer as net minderjarige bruin seuns geteer. Daar was ook wit seuns en wit gay jong mans wat misbruik is.”

Minnie het dit vas geglo.

LEES OOK:

Aanslae op Minnie se lewe ná Magnus-ondersoek begin

Die rit was lank. Ons het ná sowat twee uur op die pad stilgehou om bene te rek. Hy het onmiddellik uitgeklim en ’n sigaret aangesteek. Hy het nog twee gerook binne die bestek van die tien minute wat ons daar gestaan het.

Hy het gelag toe ek hom vra hoekom hy so baie rook. “Dis al manier hoe ek met die spanning kan cope.”

Minnie het kinderlik opgewonde geraak toe ek nuwe inligting by ’n bron kry.

In dié tyd kou ek en Zenzile heeltyd uit die kospakkies wat die hotel waar ons tuisgaan, vir ons voorberei het. Hy se nee dankie en wys na sy sigaret.

“Dis my kos.”

Met ons terugkeer na Port Elizabeth het hy laat val dat hy vir sy lewe vrees, al weet net ’n handjievol mense dat hy terug is in Suid-Afrika.

Maygene de Wee is spesialis-verslaggewer vir Netwerk24.

Hy het ook gesê dat mense op sosiale media probeer het om uit te vind waar hy is.

Dinsdagoggend kry ek die skoknuus dat Minnie dood is; dat hy homself vermoedelik geskiet het.

Onmiddellik dink ek aan die omstandighede waarin John Wiley, voormalige minister van omgewingsake, en die sakeman Dave Allen dood is. Albei het glo destyds hulself om die lewe gebring. Albei is geskiet. In die boek is daar soveel vrae oor Allen en Wiley se dood; vrae wat nou nog onbeantwoord bly.

Ek het Sondag nog met Minnie gepraat. Hy was positief en het gesê hy is op die spoor van ene Igor en sy boetie, nog twee vermeende slagoffers waaroor hy in die boek geskryf het.

Hy was ook opgewonde oor die eerste amptelike bekendstelling van die boek in September.

“Gaan ek jou daar sien?” wou hy weet.

“Beslis,” was my antwoord.

Lees hier alles oor Mark Minnie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.