Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘My bene het begin braai . . .’

’n Elektrisiën wat ’n vlieër in die veld wou vlieg, lê met erge brandwonde in die hospitaal nadat hy in ’n sinkgat vol brandende kole geval het.

Die brand smeul al jare lank ondergronds in ’n verlate ou myn, maar op die oppervlak by die plek waar Ben Coetzee deur ’n harde sandlaag in die sinkgat ingeval het, lyk die grond doodnormaal. Dit is net 80 m van sy huis in Jackaroo Park in eMala­hleni (Witbank) af.

Só lyk Jackaroo Park in eMalahleni. Die gedeelte langs die woonbuurt is waar Coetzee met sy vlieër wou speel toe hy in ’n sinkgat vol brandende kole geval het.

Coetzee (51) sê toe hy verlede Sondag trap, het die kors sand net eenvoudig meegegee. Hy het geen idee hoe diep die gat was nie, maar hy was halflyf in voordat hy sy val gestuit het deur aan die rand van die gat vas te hou. Hy is 1,8 m lank.

Tot sy skok het hy besef sy bene was besig om weens die hitte “te braai”. “Ek het binne sekondes myself met my elmboë daar uitgerol. Dit was groot pyn. Dit is nou nog ongelooflik seer, veral my tone.” Sy bene is só erg verbrand dat hy steeds nie kan loop nie.

“As ek nog ’n paar sekondes in daardie gat moes hang . . . wel, ek wil nie eens daaraan dink nie. Of as ’n kind daar moes deurval. ’n Kind sal dit beslis nie maak nie.” Kinders en honde speel gereeld in die veld.

Ben Coetzee se gebrande bene.

Coetzee het langs die gat gelê en skreeu om hulp, met sy jaar oue bokserhond, Leo, wat om hom gedraai het. “Die hond het kort-kort naby aan die gat verby gehardloop. Ek het hom die heeltyd probeer wegjaag van die gat af, maar hy het geweet ek het seergekry. Dit het my mal gemaak.”

Mario Victor, wat saam met Coetzee die vlieër gevlieg het, het dadelik hulp ontbied.

Maureen Scheepers, ’n koördineerder van die SA Community Crime Watch in eMalahleni, sê die gebied is ’n bron van kommer. ’n Myn van die omgewing het Donderdag sand in die veld gegooi om mense te ontmoedig om daar te loop, maar dieselfde middag was daar reeds voetspore in die sand.

Ben Coetzee: “ ’n Kind sal dit beslis nie maak nie.”

“Daar is geen heinings of kennisgewingborde om mense te waarsku om weg te bly nie.”

Isaac Kgope, ’n inspekteur van die departement van minerale bronne, sê dis nie bekend wie die eienaar van die grond is nie. “Ons is dringend besig om dit te ondersoek,” sê hy. “Daar het klaar iemand seergekry en ons wil nie hê dit moet weer gebeur nie.

“Ons glo dit was dalk lank gelede ’n myn. Deesdae is die ruimte ’n stortplek vir rommel.

“Veral tuiniers met bakkies gooi hul gemors daar weg.

“Die grond kan dalk die munisipaliteit s’n wees sonder dat hulle eens daarvan weet, of dalk behoort dit aan ’n mynbaas wat al lankal dood is. Wie weet?”

Meer oor:  Sinkgat  |  Brandwonde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.