Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
My f**, Marelize! En dié keer tref sy toe ’n Tesla

Die wankelrige Marelize Horn van “My f**, Marelize!”-faam het dit uiteindelik gemaak tot in Nederland waar sy as au pair werk, maar het toe binne weke met haar fiets in ’n Tesla vasgery.

Marelize Horn ry nou in Nederland met ’n bakfiets waarmee sy kinders vervoer.

Die 19-jarige Namibiër het in Februarie oornag bekendheid verwerf oor ’n video waarin sy in ’n rugbypaal vasry terwyl sy leer fiets ry. Dis veral haar ma, Heidi, se moedelose reaksie, “My f**, Marelize!”, wat die internet aan die brand gesteek het.

Horn het destyds haar fietsry-vaardighede geoefen omdat sy in Nederland wou gaan werk.

Toe sy ’n onderhoud met ’n ouerpaar gekry het, het hulle aan die einde van die onderhoud laggend opgemerk dat hulle haar video gesien het nog voordat hulle besluit het om ’n au pair aan te stel. Sy is op 25 September Nederland toe en pas nou drie kinders – tussen die ouderdomme van 4 en 7 – op in Apeldoorn, sowat 80 km wes van Amsterdam.

Sy sê die familie daar is “wonderlik” en het baie geduld en begrip. As deel van haar pligte moet sy die kinders met ’n bakfiets skool toe vat.

Eerste oggend het sy al ’n probleem.

Op haar eerste oggend het sy reeds ’n probleem gehad, vertel Horn laggend.

“Alles was nog fine, ek ry so mooi . . . Toe ek moet stop voor die skool en voor al die ouers . . . toe val ek. In die nat modder. Dit was my heel eerste fietsry-experience hier. Dit was hard op my gestel.”

Kort ná die voorval het sy weer gesukkel met die groot bakfiets in ’n beknopte fietsbaan.

“Ek het paniekerig geraak, want dis vreemd en ek is bang. Ek weet nog nie heeltemal hoe die bakfiets-ding werk nie . . . en toe besluit ek ek gaan in die groot pad ry, ek voel soos ’n groot kar . . .”

“En toe tref ek ’n kar. Nie watter kar nie! ’n Tesla.”

Horn sê haar hart het in haar keel begin klop. Sy het twee van die drie kinders in haar bakfiets gehad en het pas vasgery in ’n peperduur kar. Gelukkig was die bestuurder van die Tesla ’n “ou omie” wat dadelik gesien het sy is verbouereerd en ’n uitlander.

“Ek het verduidelik ek kom van Namibië af en is nie bekend (met die paaie) nie.”

Die Tesla het ’n taamlik groot skraap – “so 7 cm” – aan die regter-voorkant opgedoen en van die verf was af. Die man het gesê dis gelukkig ’n “ou kar”, ongelukkige gebeur en sy kan maar ry. “My hart het amper gaan staan. Ek het die kinders getraumatiseer, ek is seker daarvan. Maar ja, almal het oorleef.”

Horn sê haar familie weet van die glips met die kar.

“Maar ek het liewer nie gesê dit was ’n Tesla nie!”

Meer oor:  Marelize Horn  |  Nederland  |  Ongelukke  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.