Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Chester: ‘My kuite druk nie drieë nie’

Dit was Vrydagmiddag skuins ná sesuur toe die nuus breek. “Het julle gehoor, Chester Williams is dood?” het mense oor die land heen verdwaas vir mekaar gevra.

Chester Williams. “Ek laat my rugby maar die praatwerk doen,” het hy destyds gesê. Foto: Edrea du Toit

Wie? Chessie? Dit kan tog nie waar wees nie. Hy was dan net 49 jaar oud, steeds fiks en byna daagliks in die gimnasium. ’n Paar jaar gelede het hy nog die moordende Cape Epic-bergfietsren voltooi.

Hy was nog vol soveel planne. Vir sy span, die Varsity-span van die Universiteit van Wes-Kaapland wat hy afgerig het, vir sy bier, Chester Lager, wat pas bekend gestel is en wat hy in Japan wou gaan bemark.

Ek het Chester die eerste keer in 1993 ontmoet toe hy Curriebeker-rugby vir die Westelike Provinsie teen die destydse Transvaal gespeel het.

Ek het vooraf ’n bietjie huiswerk oor hom gedoen, oor sy skooldae by Nederburg Primêr en Klein Nederburg Sekondêr in die Paarl. Oor sy pa, Wilfred, en sy oom Avril Williams wat in 1984 die tweede bruin speler was om vir die Bokke te speel.

‘Chester, Chester’, het hulle gedreunsing.

Chester was destyds nog ’n korporaal in die Weermag, baie gelowig, innemend, maar tog ook skamerig en nie baie lus om oor homself te praat nie.

“Ek laat my rugby maar die praatwerk doen,” het hy die aand ná die wedstryd gesê.

Maar tog het hy uiteindelik so lekker oor sy kinderjare en drome gesels dat daar genoeg vir ’n heerlike middelbladonderhoud was. Ons het daarna goed oor die weg gekom en ek sou hom gereeld spot oor sy maer kuite. Waarop hy altyd teruggekap het met: “Kuite druk nie drieë nie.”

Later dieselfde jaar het hy sy toetsbuiging gemaak in die tweede toets teen die Argentynse Poemas in Buenos Aires toe hy Jacques Olivier vervang het. Hy het ook die eerste van sy 14 toetsdrieë gedruk.

Die volgende jaar het hy agt toetse vir die Bokke gespeel.

Chester by Joost van der Westhuizen, nóg ’n lid van die 1995-Wêreldbekerspan wat oorlede is. Foto: Alon Skuy

Kort nadat Kitch Christie die Springbokleisels in 1994 by Ian McIntosh as afrigter oorgeneem het, het Christie die land se rugbyskrywers een middag by ’n oefening in sy vertroue geneem oor sy Wêreldbekerplanne vir 1995. Wie sou ons kies vir die Bokke se aanslag op die wêreldkroon, wou Christie weet. “Chester op linkervleuel,” was die meeste van ons se antwoord.

Hy was goed. Hy was vinnig. Hy kon na links en regs aftrap. Hy kon têkkel. En hy het nie ’n bang haar op sy kop gehad nie.

En toe breek Chester ons hart. Op 13 Maart 1995, op Ellispark, in ’n Wêreldbeker-opwarmingstoets teen Samoa, druk Chester eers twee drieë (nogal teen Brian Lima, wie se bynaam Chiropractor was omdat hy soveel van sy teenstanders met sy plettervatte op die chiropraktisyn se tafel laat beland het) voordat hy sy dyspier skeur.

’n Wêreldbekerdroom aan skerwe.

Voor die openingswedstryd op 25 Mei 1995 op Nuweland teen Australië stap Williams as toeskouer op die veld onder luide toejuiging van die lojale Nuweland-skare wat uit 42 000 kele dreunsing: “Chester, Chester”.

Chester Williams duik oor vir een van sy kenmerkende hoekdrieë teen die All Blacks op Ellispark in 2000.

Chester-manie het oral geheers. Sy gesig was oral op advertensieborde en op televisie, behalwe waar sy land hom die nodigste gehad het. Op die veld.

Sy plaasvervanger, die bekwame Pieter Hendriks, staan gelukkig sy skoene vol en hou die droom lewendig toe hy in die openingswedstryd op Nuweland om die Wallaby-legende David Cam­pese wals vir die Bokke se eerste drie. Die eindtelling 27-18. En dit teen die heersende wêreldkampioene.

Williams se terugkeer tot die toernooi was in die kwarteindstryd, weer teen Samoa. Hy vier dit deur Samoa op oortuigende wyse uit die toernooi te help boender met vier drieë – wéér teen die gevreesde Lima.

“Sien jy, groot kuite kan nie vier drieë druk nie,” het hy die aand op pad terug na die spanbus my gespot.

Min besef vandag hoe ongelooflik die druk destyds op Williams was.

Nie net was hy ambassadeur van die Wêreldbekertoernooi nie, maar die Bokke se enigste swart speler. Dit was ’n maalkolk wat menige mindere mens sou ondertrek, maar die skugter, skaam vleuel van die Boland was so hard soos Paarlberg se graniet.

Chester Williams druk die eerste drie in die 1995-WB-kwarteindstryd teen Samoa op Ellispark. Foto: Getty Images

Ná die halfeindstryd teen Frankryk op ’n papnat King’s Park (so nat dat die wedstryd met enkele ure uitgestel moes word) het die All Blacks op Ellispark in die eindstryd gewag.

Toe oudpres. Nelson Mandela voor die afskop met die kaptein se nommer 6 op sy rug op die veld stap, het hy elke speler se hand geskud. By Chester het hy ’n rukkie vertoef en vir hom gesê: “Maak Suid-Afrika trots, maak jou eie mense trots”. Die res is geskiedenis.

Die Bokke het die byna onmoontlike reggekry en Chester, wel Chester, die man met die breë glimlag en die maer kuite, het ons trots gemaak. Baie trots.

Dankie Chessie. Die rit was die moeite werd.

Meer oor:  Chester Williams  |  Springbok  |  Rugbyspeler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.