Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
My nag van hel saam met Derick

Die vrou wat as Derick Hougaard se “skelmpie” uitgekryt is, sê sy het nie eens ’n sekonde saam met die oudrugbyspeler in die bed deurgebring nie.

Dannel Kruger (26), ’n bemarkings­assistent van Pretoria, het in ’n openhartige onderhoud met Rapport vertel hoe sy Hougaard net wou help inkruip ná ’n rowwe aand en haarself toe onverwags voor ’n woedende Nádine bevind het.

Dannel Kruger het Vrydag haar hart oopgemaak teenoor Rapport na ’n week van hel omdat sy daarvan beskuldig is dat sy Derick Hougaard en Nadine se verhouding vernietig het. Sy sê dis alles leuens. Sy wil hom nooit weer sien nie. Foto: Elizabeth Sejake

Die tye wat sy wel in Hougaard se hotelkamer was, was sy op soek na haar motorsleutels.

“Die stories is heeltemal verdraai. Ek wou net help en was op die verkeerde tyd op die verkeerde plek,” sê Kruger.

Sy is nou nog geskok oor verlede Vrydagaand se drama in ’n hotel langs die rugbyveld waar Hougaard destyds die Liefling van Loftus gedoop is.

Nádine, vir wie Hougaard glo vroeër ’n verloofring van R300 000 gekoop het, het vir Hougaard en Kruger in die hotel “betrap”. Hy was volgens Huisgenoot geklee in ’n onderbroek en het net sy ore toegehou terwyl die vroue in die kamer mekaar getakel het.

‘Storm in ’n teekoppie’ eintlik die orkaan Nádine.

Nádine het die afgelope week nog aan die tydskrif gesê: “My hart is stukkend; verby stukkend.”

In ’n skokwending het ’n woordvoerder van Nádine Saterdagmiddag aan Rapport gesê alles is nou vergeet en vergewe. Janis Ellis, haar woordvoerder, het gister gesê: “Dis ’n storm in ’n teekoppie.”

Kruger sê dit was eerder die orkaan Nádine.

“Sy het my gekonfronteer en gesê ek het haar en Derick opgebreek, dat ek ’n h*** is, al daai goed,” het Kruger gesê met trane wat in haar oë opgestoot het.

Sowel Ellis as Hougaard self het gister gesê die glanspaar se verhouding gaan voort en hulle is in gereelde kontak.

Die artikel in vandeesweek se Huisgenoot met foto’s van Dannel Kruger wat glo saam met Derick Hougaard gekuier het en toe in ’n hotelkamer betrap is.

Nádine is by die KKNK en Hougaard is tuis in Pretoria.

Kruger sê sy het geen kontak met Hougaard nie.

“Ek het Derick nog nooit voor dit gesien nie. Daar het absoluut niks tussen my en Derick gebeur nie. Ek vermoed dat dit Nádine was wat al die foto’s geneem het. Dalk was dit net om publisiteit te kry,” sê sy.

“Ek het middagete gaan eet saam met vriende by Vovo Telo naby Loftus. Derick het een van hulle daar ontmoet om oor besigheid te praat en toe verder saam met ons gekuier,” sê Kruger.

Ná Vovo Telo is die groep na die Skyline-kroeg by die Protea Hotel, toe na ’n ander kroeg in Lynnwood en weer terug hotel toe.

“Derick was baie dronk en sekuriteit het hom aangeraai om ’n kamer te kry en daar te slaap, want hy kon nie bestuur nie. Hy het toe vir hom ’n kamer bespreek. Ek het hom gehelp tot by die deur, want hy was regtig dronk,” sê Kruger.

Volgens Kruger het Hougaard haar by die kamerdeur gevra of sy asseblief vir hom iets kan kry om te eet. Sy het die kamerdiens gebel, maar hulle kombuis was reeds gesluit.

Dit was in die vroeë oggendure.

“Ek het my skootrekenaar in my handsak gehad en was bang om daarmee rond te loop. Ek het toe my handsak in die kamer gelos en gaan kyk of ek iewers iets kan kry om te koop,” sê sy.

Derick en Nadine in minder onstuimige dae.

In die voorportaal van die hotel het sy in Nádine vasgeloop.

“Sy het vir my geskree: “Jy het my en Derick opgebreek!”

Nádine is vort na Derick se kamer om hom te konfronteer.

Kruger is agterna om haar handsak in die kamer te gaan kry.

Sy het eers buite die kamer gewag en gehoor hoe Nádine vir Hougaard uitvreet.

“Sy het toe skielik weer uit die kamer gekom en my gevloek. Ek het ingegaan en my foon opgetel wat stukkend gegooi was. Dit het op die bed gelê saam met my handsak.”

Nádine is vort.

“Ek kon nie my karsleutel kry nie en het toe gaan kyk of dit dalk by die kroeg was, maar dit was ook nie daar nie,” vertel Kruger.

Sy is terug na ontvangs om te hoor of iemand dit nie dalk daar ingehandig het nie.

“Dit was nêrens. Ek het toe vir sekuriteit gevra om asseblief na my kar te kyk en is weer op na die kamer toe om daar te gaan soek.

“Ek het Derick se foon gebruik om vriende te bel wat vroeër die aand saamgekuier het om te vra dat hulle vir Nádine bel om te hoor of sy my sleutel gevat het,” sê Kruger. Dié soektog en poging om ’n beskonke Hougaard wakker te kry, het omtrent ’n uur geduur.

Sy was steeds in die kamer toe Nádine ’n tweede keer in die kamer ingestorm het – dié keer met haar ma, Carine, aan haar sy.

“(Nádine) het weer op my geskree en ’n klomp foto’s geneem van my in die kamer en gesê sy gaan aan my doen wat Amor (Vittone) aan Joost (van der Westhuizen) en Marilize (van Emmenis) gedoen het.”

Kruger het probeer om aan Nádine se ma te verduidelik wat gebeur het en dat sy haar sleutels soek.

“Haar ma het aan my gesê sy glo my en weet ek is onskuldig en dat hulle nie media toe sal gaan nie.

“Ek het vir Ná­dine gevra hoekom sy my foon stukkend gegooi het en sy het gesê sy het gedink dit was Derick s’n. Ek het ook gevra vir my sleutels, maar haar ma het gesê dat Nádine dit nie sal vat nie.”

Kruger se ma het haar later die oggend kom haal.

Ellis het dié weergawe gister beaam: “Die dame het haarself gemaklik gemaak in die kamer omdat sy haar motorsleutels verloor het en moes wag vir haar ma om haar die volgende oggend te kom haal.

“Derick het nie saam met die dame geslaap nie.

“Nádine was natúúrlik ontsteld toe sy by die kamer aankom en nie weet wat aangaan nie. So, indien sy dalk harder as gewoonlik gepraat het, is dit te verstane. Sy bevestig wel dat sy hulle nié saam in die bed betrap het nie, ongeag van wat ander media sê.”

Hy sê sy ontken ook dat sy Kruger se foon gebreek het.

Hougaard sê hy kan niks onthou nie – net dat hy ’n kamer bespreek het.

“Ek het toe op die bed neergeval en geslaap. Ek kan niks daarna onthou nie.”

“Ek het Nádine ge-SMS en sy het geweet waar ek is. Ek het verkeerd opgetree en vat verantwoordelikheid vir my dade.”

Meer oor:  Nádine  |  Derick Hougaard  |  Rugbyspeler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.