Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
My pad van dwelms en moord tot op die kansel

Op 15 was Ivor Swartz ’n dwelmverslaafde rower in die Gaatjie-buurt in Grabouw toe hy en sy misdaad-mentor, Romeo, op ’n Sondagnag met 9 mm-pistole op Ivor se broer losgebrand het.

Die rook het getrek uit Deon se leerbaadjie toe hy van die sjebeen af weggestap het. “Skiet maar julle blanks,” het hy gesê. “Ek is môre terug vir julle.”

Ivor Swartz en sy vrou, Nadine. Foto: Elizabeth Sejake

Drie dae later is Deon in die Helderberg-hospitaal op Somerset-Wes aan sy skietwonde dood.

Toe Ivor en sy trawante van die sterfte hoor, het hulle voor die Apostoliese Kerk in Pineview in ’n soort “nagmaal” die sterfte gevier – uit blydskap en verligting dat Deon weg was. Vir Swartz was sy broer ’n “monster” wat sy lewe in sy enkelma se HOP-huisie absolute hel gemaak het.

Ivor en Romeo is kort hierna in hegtenis geneem. Ivor is net aangekla van gewapende roof en diefstal en hy het ses jaar en ses maande tronkstraf gekry. Romeo het 18 jaar gekry vir die moord.

Maar vir Ivor was die tragedie die begin van ’n nuwe lewe. Deesdae is die 36-jarige ’n jeugleraar by die NG gemeente Oosterlig in Pretoria en sy debuutboek, Die verlore seun vannie Gaatjie, waarin hy sy lewensverhaal vertel, is pas bekroon met die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir ’n debuutpublikasie in ’n amptelike taal.

In die boek vertel Ivor boeiend van sy pa wat dood is toe hy drie was en die ewige gemis na ’n pa-figuur van ’n “verlore seun” van Ma Lettie se halfdosyn kinders.

Daar is ’n hartroerende monoloog oor ’n bitter verhouding met sy panga-swaaiende ouer broer, Deon, en sy jongste broer, Peter, ’n 28-bendelid saam met wie hy vir ’n ruk in die gevangenis was. Al drie sibbes was met dwelms en misdaad deurmekaar.

Hy vertel ook van sy hegte vriendskap met die veel ouer en “most famous” Romeo, wat vir hom ’n soort ikoon was. Romeo het vir hom die gevoel gegee dat hy iewers behoort, skryf Ivor.

Tot die dag, amper 21 jaar gelede, toe die “monster” geskiet is.

In die tronk is hy by die 26-bende ingelyf en die nommers “2” en “6” op sy seningrige lyf getatoeëer.

Hy het sy matriek in die tronk geskryf.

Eers ná sy vrylating in 2005 het hy tot bekering gekom. Hy het sedertdien met sy sibbes versoen geraak én twee grade in teologie verwerf.

“Niemand leer die gemeenskap hoe om jou terug te ontvang nie,” skryf Swartz in sy boek. “Mense wil jou eers aanvaar wanneer jy op die regte pad is.”

Hy het aan Rapport gesê die programme vir gevangenes is kragtig, maar gemeenskappe moet ook programme hê om voormalige oortreders te help inskakel. “Gemeentes en gemeenskapsorganisasies moet hande vat om voormalige oortreders weer op te neem.”

Swartz sê die jong mense van Pretoria-Oos met wie hy werk, se omstandighede verskil hemelsbreed van dié waar hy vandaan kom, maar hul vrae is dieselfde.

Hy gebruik nooit sy verlede as basis as hy met die jeug gesels nie. “Ons praat oor wat is besig om te gebeur in tienersirkels, oor Generasie Z, oor seksualiteit en oor rasseverhoudings.”

Swartz sê sy oorlede ma, wie se roudiens hy en sy broer nie kon bywoon nie omdat hulle in die tronk was – is steeds die “yster” in sy lewe.

“Ma Lettie het my geleer dat dit wat jy het of nie het nie, nie bepaal wie jy is of wat jy in die lewe word nie. Sy was ’n Godsvrou, altyd op haar knieë.”

Swartz sê hy en sy broer Peter probeer nou verlore jare inhaal en ’n nuwe verhouding bou.

Peter wil sy lewe verander en daarom is Ivor trots op hom.

Die swaarste van die tronk was dat hy nie eerlik met homself kon wees nie. “Jy kan nie jou hartseer en verlange na jou ouerhuis en familie uitdruk en regtig huil nie.”

Daar het vele samaritane oor sy pad gekom, ook Nadine, sy “tieroogmeisie”, sy “geskenk van God” en nou sy vrou. Haar doodgewoon konserwatiewe Afrikaner-familie het hom omarm en onvoorwaardelik aanvaar, sê hy.

En die toekoms? Hy en Nadine het ’n maatskappy, BRTHR Coffee” gestig wat baristas in tronke oplei. Swartz lag: “Die gemeenskap moet die ‘o’ en die ‘e’ in ‘brothers’ terugsit.

“Wanneer daardie oortreder die dag vrygelaat word, kan hy toegerus word met ’n koffiemasjien en ’n inkomste verdien om ’n nuwe toekoms te bou,” sê Swartz.

Hy skryf ook gedigte en herskryf sekere psalms in “skollie-taal”.

* Die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys is deel van die Andrew Murray-prysfonds. Die beoordelaars het Die verlore seun vannie Gaatjie beskryf as: “ ’n Vreesloos eerlike debuut deur ’n behendige storieverteller.”

Meer oor:  Godsdiens  |  Boek  |  Misdaad  |  Rehabilitasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.