Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
MyCiTi-diens op byna alle roetes hervat

Byna alle MyCiTi-busdienste in Kaapstad was teen Vrydagoggend weer in bedryf ná ’n onwettige staking van byna twee weke, sê die Kaapse metroraad.

’n MyCiTi-bus staan Vrydagoggend by die busstasie oorkant die Kaapstadse burgersentrum, waar stakende werkers sedert verlede Maandag byeengekom het. Teen Vrydag is die meeste van die busdienste in Kaapstad hervat. Foto: Malherbe Nienaber

Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling, het bestuurders en pendelaars die oggend bedank dat hulle die onbeskermde stakings sedert verlede Maandag verduur het.

“Ek kan met blydskap bevestig dat die meeste van ons roetes weer gediens word, met talle daarvan wat ten volle in bedryf is.”

Die roetes 230, 251, 260, 261 en 262 het nog nie busse wat loop nie en Herron sê dienste op die T01- en X01-roete kan Vrydag moontlik ook hervat word.

’n Beperkte diens is op die roetes 108, 109, 224, 215, 216, 217 en A01.

Werkers van MyCiTi het verlede Maandag begin staak om te eis dat hulle heeltyds deur die metroraad aangestel word, en nié die vier maatskappye wat gekontrakteer is om die diens te bedryf nie.

Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling in die Kaapse metroraad. Foto: Danielle Karallis

Dit sluit in bestuurders, skoonmakers, wagte en kassiere.

Hulle het gekla oor ongelyke betaling, onbillike afdankings en tugstappe, swak werkstoestande en die gebruik van arbeidsmakelaars.

Tot 500 werkers het verlede week voor die Kaapstadse burgersentrum byeengekom om te eis dat Herron hulle toespreek en by tye is die busbane oorkant die burgersentrum deur betogers versper.

Teen Donderdagmiddag was slegs ’n handvol stakers egter nog by die burgersentrum.

Die EFF het hom verlede Dinsdag by die stakers geskaar en probeer om namens die stakers met die metroraad te onderhandel, maar dit is deur Herron van die hand gewys.

Verlede Donderdag het die metroraad ’n hofbevel bekom wat stakers verbied om binne 100 m van MyCiTi-busse en -infrastruktuur byeen te kom, dienste te ontwrig of bates te beskadig, of werkers en pendelaars te intimideer, teister of aan te rand.

Voetgangers stap Vrydagoggend verby die MyCiTi-busstasie oorkant die Kaapstadse burgersentrum. Foto: Malherbe Nienaber

Vyf mans is Dinsdag in hegtenis geneem toe hulle na bewering die hofbevel oortree en glo skade by die stasie oorkant die burgersentrum aangerig het.

MyCiTi-busse is die afgelope week in Khayelitsha ook met klippe en selfs ’n petrolbom bestook.

Herron het vandeesweek gesê die maatskappye wat die stakers in sy diens het, gaan tugstappe teen hulle doen en sommige afdank.

Meer oor:  Brett Herron  |  Kaapstad  |  Myciti  |  Staking  |  Busdiens  |  Busse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.