Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Myngroep help entrepreneurs

Die Suid-Afrikaanse regering en die private sektor sal groot uitdagings die hoof moet bied om van die bose drieling – armoede, werkloosheid en ongelykheid – ontslae te raak, sê Gregory Peterson, ’n senior bestuurder van die De Beers-groep.

Peterson sê die maatskappy het al gehelp om 250 ondernemings op die been te bring en danksy ’n tweejaarprogram van mentorskap en vaardigheidsontwikkeling word entrepreneurskap gekweek.

Die werknemers van Ramokgwera Trading. Voor is Annah Motaung en Carlos Dumisa. Agter van links is Mpho Mdakane, Sello Mofolo, Lebohang Radebe, Lucky Moshod en Mokhoa Sithole by van die groot mynvoertuie wat hulle was. Foto: Alet van der Walt

In die slypskool vir entrepreneurs by die Voorspoed-myn naby Kroonstad word mense gehelp om al die vaardighede wat hulle nodig het te ontwikkel.

Wanneer entrepreneurs genoeg vaardighede ontwikkel het, stel die myn hulle as diensverskaffers aan.

Een van die maatskappye, Blue Motion, is in 2011 gestig en het in 2016 ’n driejaarkontrak gekry om die myn se masjinerie te was en die aanleg waar diamante ontgin word skoon te maak en in stand te hou. Blue Motion het 26 jong mense in diens.

’n Maatskappy wat die vervoer van werknemers na die myn behartig, Mmetlakgola Transport, is op dieselfde lees geskoei. Taxi-eienaars van twee taxiverenigings in Kroonstad wat ’n geleentheid gesoek het om hul onderneming uit te brei, het De Beers genader. De Beers het die 36 taxi-eienaars gehelp om finansiering te kry en nuwe busse is gekoop wat die myn se werknemers nou vervoer.

Ramokgwera Trading is sedert 2013 by die myn betrokke en het ook aan die maatskappy se ontwikkelingsprogram deelgeneem. Die maatskappy het 20 mense in diens en Lehlohonolo Moshodi, die maatskappy se direkteur, sê die program het die maatskappy baie gehelp om te ontwikkel.

Ramokgwera het die kontrak gekry om al die myn se voertuie skoon te hou, asook die Barloworld-werkwinkel waar grondverskuiwingsmasjinerie in stand gehou word. Ramokgwera kon danksy die mynkontrakte uitbrei van twee permanente werknemers na 20.

’n Maatskappy wat 100% deur vroue besit word, Ulynn Administrators, is deur die myngroep aangestel om administratiewe take op kontrakbasis uit te voer. Ses vroue werk vir Ulynn Damon, die stigter van die maatskappy.

Sonnyboy Matsoara, besturende direkteur van Re Ea Ipopa, sê sy maatskappy het net van krag tot krag gegaan nadat hy die bestuurskursusse begin volg het. Hy sê die myn se mentorskap het hom geldelik en intellektueel gebaat. Die maatskappy hou al die bakkies en ander kleiner voertuie wat die myn gebruik in stand.

Al die maatskappye wat kontrakte met die myn het, moet ingevolge hul kontrak 1% van hul omset terugploeg in die gemeenskap.

Die gemeenskappe van Steynsrus en Kroonstad is die maatskappye se begunstigdes. Ouetehuise, skole en ander instansies vind baat by dié projek.

Meer oor:  Ekonomie  |  Entrepreneurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.