Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
'n Dekade se nuus: Die stories wat aangryp

In die afgelope dekade het ons die Wêreldbekertoernooi, Oscar Pistorius en staatskaping gehad. Beeld onthou die grootste Suid-Afrikaanse nuusgebeurtenisse van die dekade. Saamgestel deur Carla Lewis.

16 Augustus 2012

Die Marikana-slagting

marikana
Die polisie het 34 stakende mynwerkers by Marikana in Noordwes doodgeskiet en 78 gewond. Foto: Felix Dlangamandla

Die Marikana-slagting op 16 Augustus 2012 – die grootste lewensverlies aan die hand van die polisie sedert die afskaffing van apartheid – het wêreldwyd opslae gemaak.

Die polisie het 34 stakende mynwerkers by Marikana in Noordwes doodgeskiet en 78 gewond.

Die treurspel het gebeur toe die polisie 3 000 stakende mynwerkers uiteen probeer jaag het.

In die dae voordat die stakende mynwerkers op 16 Augustus 2012 by die Lonmin-myn in Marikana doodgeskiet is, is tien ander mense, insluitende twee polisielede en twee Lonmin-veiligheidswagte, doodgemaak.

Pres. Cyril Ramaphosa was ten tyde van die betogings ’n nie-uitvoerende direksielid van Lonmin en Marikana word tot vandag toe gesien as ’n skandvlek op sy loopbaan.

‘Die reuk van bloed en traangas’

Die staccato-klank van skerp ammunisie het my aandag getrek en toe ek om my kyk, was die stakers besig om soos bome in die wind te waai.

Ek weet nie hoe lank dit hulle gevat het om te val nie, maar dit het soos ’n ewigheid gevoel.

Ek het verbysterd deur die stank van rookgranate na Felix Dlangamandla, die fotograaf, gesoek, al hoesende en proesend met trane in my oë. Ek kon nie ophou kyk na die lyke wat oral gesaai gelê het nie.

By die massaslagting het die metaalreuk van bloed alles uitgedoof. - Ügen Vos, Netwerk24 se nagnuusredakteur, was toe ’n verslaggewer vir Beeld.


11 Junie 2010

SA juig saam in sokker-skouspel 

Siphiwe Tshabalala
Siphiwe Tshabalala kort nadat hy die doel teen Mexiko aangeteken het. Foto: Felix Dlangamandla

Feel it, it is here, het Suid-Afrikaners vir mekaar gesê toe Suid-Afrika, en die res van Afrika, vir die eerste keer die geleentheid kry om die tweede grootste sportfees ter wêreld (naas die Olimpiese Somerspele) aan te bied.

Die toernooi het vir ons gewys waartoe ons as Suid-Afrikaners in staat is, al het die doemprofete voorspel dat Suid-Afrika nooit die spertye sou haal nie en die toernooi een groot flop sou wees.Toe Siphiwe Tshabalala daardie doel verby die Mexikane laat glip het, het ons as een land saam gejuig.

Ná die soet het die bitter gekom toe daar in 2016 onthul is dat 41 voormalige beamptes en bemarkingspersoneellede van Fifa omkoopgeld aanvaar en geld by dié beheerliggaam gesteel het.

Daar is ook beweer dat Suid-Afrika omkoopgeld van $10 miljoen (meer as R161 miljoen) betaal het vir die reg om die Wêreldbekertoernooi in 2010 aan te bied.

‘Ek onthou die vuvuzelas’ 

Vir veel meer as ’n oomblik was ons in absolute ekstase en het amper wou glo Bafana-Bafana kan wondere verrig in die toernooi. Ons groep was korporatiewe kliënte van Media24 en ons het skuins agter die doelhok gesit waarin daardie doel aangeteken is: Suid-Afrika 1, Mexiko 0. Van die Suid-Afrikaanse spelers het op die kantlyn ’n dansie uitgevoer terwyl die stampvol FNB-stadion ontplof het van vreugde, met die oorpynklank van vuvuzelas wat weerklink het. Uiteindelik was die eindtelling in die openingswedstryd gelykop met 1 elk. Die res is geskiedenis. Maar niemand kan die herinnering aan die oomblik wegvat nie ..." - Barnard Beukman, Beeld-redakteur.  


April 2013

Guptas hou bruilof

gupta-troue
Vega Gupta, die bruid, met haar gevolg by The Palace of the Lost City. Foto: Natal Witness

Op die oppervlak het dit soos ’n baie duur Bollywood-skouspel gelyk.

Die Guptas was nog taamlik onbekend en Suid-Afrikaners het net ’n voorsmakie gekry van die vermetelheid van ’n familie wat hul visier op Suid-Afrika en sy staatskas geplaas het.

’n Private straler met bruilofsgaste land op die Waterkloof-lugmagbasis, ’n nasionale sleutelpunt buite Pretoria. Kort daarna word almal in luukse busse gelaai vir die troue wat Suid-Afrika se politieke landskap onherroeplik sou verander.

Ben Martins, voormalige minister van vervoer, het vroeër vanjaar voor die Zondo-kommissie getuig die Guptas wou aanvanklik op die O.R. Tambo-lughawe land en het ’n spesiale verwelkomingseremonie op die aanloopbaan versoek.

Deur dit te doen, wou die Guptas glo aan hul gaste wys hoe belangrik hulle is. Bruce Koloane, toe die hoof van staatsprotokol, het glo “Nommer Een”, oudpres. Jacob Zuma, se naam gebruik om die landing deur te druk. 

Die voorval was een van die eerste tekens dat hoë ANC-amptenare betrokke kon wees by ’n misdadige, korrupte familie, wat ook sterk bande met Zuma en lede van sy gesin gehad het.In November vanjaar het Maite Nkoana-Mashabane, minister in die presidensie belas met vroue en ten tyde van die Waterkloof-fiasko die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, voor die Zondo-kommissie getuig Zuma het geweet Koloane het gelieg en sy naam gebruik om die Guptas se vliegtuig op die Waterklooflugmagbasis te laat land. Zuma het Koloane steeds daarna as ambassadeur in Nederland aangestel.

‘Soos ’n LSD-trip’  

Ek het destyds die Gupta-troue namens Huisgenoot bygewoon. Op skool het ons een keer ’n klasuitstappie na die polisiemuseum gehad.

Die interessantste ding daar was ’n sogenaamde “LSD-tonnel”, ’n ding wat moes simuleer hoe ’n LSD-trip voel.Die doel daarvan was natuurlik om ons ontvanklike, dwelmlustige kinders van dwelms af te skrik, en dit het gewerk. 

Die tonnel het ’n onvaste vloer gehad en in die rondte gedraai, oorverdowende geraas het gespeel, ligte het jou in alle migraine-kleure verblind en teen die tyd dat jy aan die ander kant uitgekom het, was jy duiselig, dronk, naar en vasbeslote om nooit in jou lewe dwelms te gebruik nie. 

Dis die naaste, eintlik enigste, ding waarmee ek my vier dae saam met die Guptas kan vergelyk. - Marida Fitzpatrick, uitgewer by Lapa en voormalige diepte-joernalis by Beeld en Netwerk24. 


14 Februarie 2013

’n Paralimpiese held val

Oscar Pistorius
Oscar Pistorius tydens sy aansoek om borgtog. Foto: Liza van Deventer

Op Valentynsdag 2013 stuur Beeld ’n eenvoudige boodskap op Twitter uit: “Oscar Pistorius skiet sy vriendin in sy huis dood omdat hy glo dink sy is ’n inbreker.”

Die moord op Reeva Steenkamp deur die Paralimpiese ster en wêreldbekende atleet Oscar Pistorius het Beeld – en die nuusbedryf – in Suid-Afrika verander, vertel Pieter du Toit, wat in 2013 Beeld se nuusredakteur was.

“Nie net was dit verreweg die grootste internasionale nuusgebeurtenis waarby Beeld direk betrokke was nie, maar dit het die manier waarop ons nuus benader, ingrypend verander. 

“Daar was by Beeld twee baie besliste eras: voor Oscar en ná Oscar. Voor Oscar was ons primêre fokus die papierkoerant, ná Oscar het ons nuus op Beeld.com en op sosiale media begin breek en die basis begin lê vir Netwerk24.” 

Sonja Carstens, Beeld se nuusredakteur in Pretoria, het Du Toit op Valentynsdag om 07:30 gebel met die nuus.Oscar het sy meisie, ’n blonde model, in die nag doodgeskiet. 

“Ek het haar afgelag. Maar sy was ernstig, en toe ek vyf minute later op kantoor kom, was daar boonop ’n anonieme e-posboodskap wat die nuus bevestig het dat die polisie op die toneel in Pretoria-Oos was. 

“Die nuusspan in Pretoria, Sonja en die verslaggewers Fanie van Rooyen en Hilda Fourie, het soos blits bevestiging van Steenkamp se dood gekry, en net voor agtuur het ons die scoop van die jaar gehad. 

“Maar wat doen ons daarmee, want die koerant se laaste uitgawe gaan 23:00 rolpers toe en is eers die volgende oggend van 05:00 af op straat? 

“Dis toe dat Gallie van Rensburg, adjunkredakteur, Celeste Louw, webredakteur, en ek die besluit neem: Breek die nuus op Twitter.

Beeld.com se berig het kort daarna verskyn en ons redaksie is vir die res van die dag gepeper met oproepe en navrae van oor die wêreld heen: van Japan, Hongkong, Indië, die Midde-Ooste, die hele Europa, Kanada, Amerika... Almal het Beeld se kantoor gebel om te hoor of die storie waar was.” 

Oscar sal eers in omstreeks 2024 vir parool in aanmerking kom en eers einde 2029 vrygelaat word indien hy sy volle vonnis uitdien. Hy sal 38 jaar oud wees wanneer hy vir parool in aanmerking kom.

‘Dit was hel’ 

Meer as 200 interna­sionale en plaaslike joernaliste plus familielede moes in ’n hofsaal vir 80 mense pas. Dit was hel.

Ons moes akkreditasie kry en soggens van so 06:00 af tou staan en stamp en stoei voor die hofdeur – wat eers 08:00 sou oopmaak. 

Maar as jy nie vroeg daar was nie, het jy jou plek verloor. Jy kan nie badkamer toe gaan of buitentoe gaan vir ’n sein nie, want iemand sal jou plek steel. 

Ek het in daardie twee weke min geslaap.

Toe Pistorius borgtog kry en alles bedaar, moes ek by ’n haarkapper uitkom, want ek het maar oes gelyk. Ek sit met donker kringe onder my oë, lewensmoeg en my haarkapper verf strepies in my hare en langs my praat die tannies oor Oscar. 

Een bly vir almal haar weergawe van die borgtogaansoek vertel en wanneer iemand verskil, tik sy met haar vingers op die kassie en hou vol dat sy alles weet, want sy het Beeld gevolg. 

In ’n stadium is haar feite so ’n bietjie grys en ek wil reghelp.Sy tik haar lang naels op die kassie voor haar. “My poppie, jy kan my niks vertel nie. Ek het alles in Beeld gevolg. Ek weet presies wat daar geskryf is.” - Hanti Otto, Netwerk24-verslaggewer 


Desember 2017 tot Februarie 2018

Die val van JZ en opkoms van CR

jacob zuma
Oudpres. Jacob Zuma, kort nadat Cyril Ramaphosa in 2017 tot ANC-leier verkies is. Foto: Tebogo Letsie

Cyril Ramaphosa se naelskraapse oorwinning as ANC-leier op die party se 54ste nasionale konferensie in Nasrec in 2017 is te danke aan ’n paar verdagte ooreenkomste wat in beseringstyd aangegaan is.

Hoe dit ook al sy, die Suid-Afrikaanse president het beslis nie met skoon hande by die party se nasionale konferensie ingestap nie. 

Bewerings dat hy stemme gekoop het en ongerymdhede by sy CR17-veldtog het ten tyde van vanjaar se nasionale verkiesing by hom gespook.

Ramaphosa se groep het met ’n groot agterstand in die veldtog begin en dit het die situasie gebly totdat ’n ooreenkoms kort voor die stemmery met David “The Cat” Mabuza bereik is.

Of hy ’n ooreenkoms met die duiwel aangegaan het wat Suid-Afrika in die toekoms duur gaan kos, sal net die tyd leer... Oudpres. Jacob Zuma was egter nie baie entoesiasties om sy septer aan die nuwe ANC-leier te oorhandig nie.

In ’n maand van politieke hoogdrama in Februarie 2018 is die staatsrede vir die eerste keer in die geskiedenis van ’n demokratiese Suid-Afrika uitgestel.Zuma het in ’n lang, wydlopende onderhoud met die SAUK gesê hy is nie seker hoekom die party wil hê hy moet bedank nie. 

“Ek verstaan nie die haas nie.”

In die onderhoud het Zuma ook volgehou hy “verset” hom nie teen die nuwe ANC-leierskorps onder leiding van adj.pres. Cyril Ramaphosa nie, maar dat hy eerder nie “saamstem met die manier waarop hulle van hom ontslae wil raak nie”.

Op 14 Februarie 2018 gee Zuma egter vir die land ’n Valentynsgeskenk en bedank. Die land sug van verligting. Ramaphosa is die volgende dag deur Mogoeng Mogoeng, Suid-Afrika se hoofregter, in die parlement in Kaapstad as president van die Republiek van Suid-Afrika aangewys. 

‘Gedemp en rustig’ 

Cyril Ramaphosa lewer sy inhuldigingstoe-spraak as
Cyril Ramaphosa lewer sy inhuldigingstoe-spraak as die ANC se nuwe leier.

Die mediakonferensie waar die ANC se komitee oor ekonomiese transformasie hul planne aangekondig het om die Grondwet te wysig om grondonteiening sonder vergoeding toe te laat, het eintlik baie gedemp gevoel. 

Enoch Godongwana, uittredende voorsitter van die ANC se ekonomiese beleidskommissie, het nog die mediakonferensie gelei. Vir iemand wat sulke revolusionêre uitlatings gemaak het, het hy maar baie rustig geklink.“Ons het in daardie stadium nie geweet watter implikasies die kwessie nog op die politieke landskap van Suid-Afrika sou hê nie.” - Gert van der Westhuizen, toe ’n in-diepte-verslaggewer van Netwerk24 en tans Stemme se redakteur.  


9 Desember 2015 

Totsiens, Nene

Hoe veroorsaak jy ’n ekonomiese Tsjernobil?

Nhlanhla Nene
Nhlanhla Nene, oudminister van finansies. Foto: Felix Dlangamandla

Oudpres. Jacob Zuma het dit baie goed reggekry toe hy Nhlanhla Nene in Desember 2015 as minister van finansies afgedank en bates van R99 miljard binne 48 uur by die Openbare Beleggingskorporasie uitgewis het.

Nene het verlede jaar voor die Zondo-kommissie getuig hoe hy ná ’n kabinetsvergadering in Desember 2015 ’n oproep van die presidensie gekry het.

Zuma wou hom spreek.“Ek het omgedraai en gewag vir pres. Zuma, wat my in sy kantoor geneem het,” het hy voor die kommissie getuig.

Zuma het vir hom gesê hy wil hom eerder as ’n verteenwoordiger by die Brics-bank ontplooi en hom as minister van finansies afgedank. 

“Hy het geen ander rede vir my verwydering verskaf nie.”Nene is deur die onbekende Des van Rooyen vervang wat dadelik die Gupta-geaffilieerde Mo Bobat en Ian Whitley as sy adviseurs aangestel het.

Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, het in Augustus 2018 getuig die Guptas het druk op Nene geplaas om ’n Russiese kernkragooreenkoms te onderteken. Nene het geweier.

Suid-Afrika se ekonomie het gesteier onder Zuma se besluit. Benewens die bykans R100 miljard wat die Suid-Afrikaanse ekonomie verloor het, het die rand tot rekordlaagtes gedaal.

Van Rooyen het egter – ná heftige openbare protes – net vier dae in die pos gebly. Hy is vervang deur Pravin Gordhan.

‘Wie is die agterbanker?’ 

Wie op dees aarde is Des van Rooyen, en waarom lui die naam nie eens ’n klokkie nie?

Dit was die meeste joernaliste se eerste gedagte toe die skok-e-posboodskap van die presidensie op Woensdag 9 Desember 2015, laatnag met ’n pieng aankom.

Ná ’n nag van Google en rondbel om uit te pluis wie Van Rooyen is en waarom dié agterbanker die bewese Nene vervang, het die politieke joernaliste mekaar vroegoggend verslae in die gange van die parlement gegroet.

Dit het toe net-net by ons ingesink dat Zuma se magsvergrype ’n nuwe laagtepunt bereik het en die verpletterende impak van sy besluit het swaar in die lug gehang.

Dié Donderdagoggend het ons elke moontlike senior ANC-bron gebel om ons te help om die stukkies van die legkaart bymekaar te sit. In die ANC se hoogste kringe was daar woede, kommer en vrees. Party het dit as ’n “gruweldaad” beskryf. 

Ons was geskok om uit te vind Zuma het dié kabinetskuif gemaak sonder om die ANC se topses te raadpleeg soos wat ANC-tradisie vereis. Die woord “staatskaping” was toe nog relatief onbekend.

Die magsvergrype met Nenegate was maar net die oortjies van die seekoei. Eers heelwat later sou ons die reusagtige impak van staatskaping besef. - Maryna Lamprecht, uitgewer by NB Uitgewers en voormalige parlementêre verslaggewer by Media24. 


5 Desember 2013

Madiba sterf

’n Rouklaer lê ’n krans blomme neer by die Mandela
’n Rouklaer lê ’n krans blomme neer by die Mandela-standbeeld op Naval Hill, Bloemfontein. Foto: Charl Devenish

Suid-Afrika het sy asem opgehou, vir etlike maande was daar fopnuus, valse berigte en alarms dat Nelson Mandela gesterf het. Op 5 Desember 2013 om 23:40 word dit bevestig: Madiba het die hiernamaals betree.

Op die roudiens, wat in die FNB-stadion in Nasrec gehou is, is die gedenkdiens amper oorskadu deur pres. Jacob Zuma wat luidkeels deur die skare uitgejou is.

Dit was kort nadat sy bande met die Guptas en sy beweerde betrokkenheid by die omstrede Waterkloof-lugmagbasis-landing onthul is.

Nadat hy deur die (toe) ANC-adjunkpresident, Cyril Ramaphosa, voorgestel is en op die verhoog geloop het, het minstens die helfte van die rou­klaers op die boonste vlak van die FNB-stadion Zuma uitgejou. 

Dit was ’n groot verleentheid vir die ANC en vir Zuma, veral op so ’n belangrike internasionale verhoog voor wêreldleiers soos Ban Ki-moon en Barack Obama. 

Dit het in ’n stadium so erg geraak dat Ramaphosa, een van die seremoniemeesters, ingegryp en die skare gevra het om gedissiplineerd te wees. 

'Kort voor saktyd’ 

Oscar Pistorius was die grootste storie van die jaar. Of so het ons gedink.Madiba se gesondheid was in 2013 ’n warm besprekingspunt. 

Redakteurs en politieke verslaggewers is kort-kort na vertroulike inligtingsessies genooi waar die regering die gebeurlikheidsplanne vir sy afsterwe bespreek en verfyn het.

Niemand wou onkant betrap word nie en Beeld het danksy goeie inligting en kontakte na aan hom ’n redelike idee gehad wat sy toestand was.

Op 5 Desember 2013 het ons net ná 21:00 vertroulike inligting ontvang dat Madiba baie siek is en dat Zuma om 22:00 ’n aankondiging gaan doen. 

Ek het die nuusspan in kennis gestel en al die verslaggewers – in Johannesburg, Pretoria en in Beeld se buitekantore – het na sleutelpunte vertrek om die nuus te gaan inwag. Spanne is na Soweto toe, asook die Uniegebou en natuurlik Madiba se huis in Houghton.

Almal het die ergste verwag.Sy dood, wat Zuma net ná 22:00 bevestig het, was hartseer, maar nie ’n skok nie en Albert Weideman, Beeld se voorblad-redakteur, het ’n eenvoudige maar treffende swart voorblad ontwerp.

Antjie Krog het vir ons ’n gedig geskryf en ons verslaggewers het van oraloor vir Beeld.com verslag gedoen. Kort voor vieruur het die fotograaf Felix Dlangamandla en die verslaggewer Marida Fitzpatrick in die kar gespring en die lang tog Qunu toe aangepak.

Dit was die begin van ’n lang routydperk, en Beeld het dit getrou weergegee.Tot vandag toe egter debatteer redaksielede: Watter storie was groter, Oscar of Madiba?

Ek dink eersgenoemde? ... Pieter du Toit, destydse nuusredakteur van Beeld, nou News24 se nuusredakteur. 


Meer oor:  Jaaroorsig2019  |  Dekade  |  Beeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.