Gedurende die inperkingstydperk het die grootste deel van die mensdom se daaglikse leefwyse, noodgedwonge tot stilstand gekom.
Siekte, dood, werkloosheid, armoede, spanning, vrees en eensaamheid het elke mens se lewe op aarde op die een of ander manier geaffekteer.

Breathe, ’n skildery deur Lez Dor wat op die uitstalling besigtig sal kan word.
Alle kunstenaars in Nelson Mandelabaai en distrik word uitgenooi om aan ’n virtuele kunsuitstalling deel te neem om hulle ervaringe rondom dié tydperk in kunsvorm te deel.
The Dark Hour is die tema van die uitstalling, wat deur die Nelson Mandela-distrik Kuns-en kultuurafdeling (Nelson Mandela District Arts and Culture section) van die departement van sport, ontspanning, kuns en kultuur in samewerking met die Artec-galery in Port Elizabeth aangebied word.
Die doel van die uitstalling is om ’n sosiale platform te skep waar kreatiewe gesprekke oor persoonlike ervaringe en sosiale gebeure gedurende die pandemie, gevoer kan word.
Visuele kuns is ’n uitstekende manier om gevoelens te verwerk en aan ander mense oor te dra wat sosiale kommentaar aanwakker.
Om ervaringe te deel kan ook in dié tyd waar sosiale distansie die mensdom weerloos gelaat het, genesend wees.
Kunstenaars word aangemoedig om visuele metafore te gebruik om hulle werk in konteks te plaas en is welkom om twee- of driedimensionele kunswerke in enige medium vir die uitstalling aan te bied. Die kunswerke kan van Dinsdag tot Vrydag om 09:00 tot 16:00 tot 20 Oktober 2020 by die Artec-galery in Birdstraat in Sentraal, Port Elizabeth ingehandig word.