Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
'n Eeu se wel en wee van Bfn se stadsaal

En so het die pragtige en waardige ou historiese sandsteenstadsaal van Bloemfontein, wat deur die jare trots sy staanplek in Pres. Brandstraat, ’n verklaarde erfenisbewaringsarea, verteenwoordig het, op 80-jarige ouderdom ook geval voor sinnelose vandalisme, skryf Hannes Haasbroek.

Bloemfontein se eerste volwaardige stadsaal het in 1883 in Maitlandstraat tot stand gekom. Foto: Nasionale Museum

Die oprig van hierdie stadhuis wat sy deure in Desember 1936 geopen het, sou een van die mees omstrede aangeleenthede wees wat Bloemfontein nog beleef het.

Die stad se eerste formele stadsaal het in 1883 in Maitlandstraat sy deure geopen. Ofskoon hierdie eenvoudige gebou met sy swak akoestiek eens die trots van die stad was en die nodige waardigheid daaraan verleen het, het dit mettertyd duidelik geword dat dit te klein was vir die vinnig ontwikkelende stad. Ná Uniewording in 1910 was dit natuurlik ook nie meer indrukwekkend genoeg vir Bloemfontein as geregtelike hoofstad nie.

Die gebou slaan ’n “droewige vertoning”, het Die Volksblad in Desember 1928 gemor.

Die nuwe stadshuis, regs voor, nader in die middel 1930’s voltooiing met die appèlhof direk agter dit geleë. Foto: Vrystaatse Provinsiale Argiefbewaarplek

Die raad was eens oor die noodsaaklikheid van ‘n nuwe gebou, maar telkens is gehuiwer voor die fenomenale koste van so ‘n projek, want die skaal daarvan moes immers waardig aan die stad wees.

Die stadsraadslede is deur diep waters oor die nuwe stadsaal-projek en het lelik koppe met mekaar en die publiek gestamp oor die talle haakplekke wat opgeduik het.

Vandat in 1928 in beginsel besluit is om die projek aan te pak, totdat die eerste sooi in 1934 gespit is en selfs daarna, was dit gekenmerk deur vertragings, ’n gesloer en getalm met besluitnemings, terugslae en ernstige meningsverskille. Die swak ekonomiese situasie – wie kan die Depressiejare in die tyd vergeet – was ’n verdere demper op alles.

Daar was die geredekawel oor die mees geskikte terrein, die uitpluis van die aanvaarbaarste en doeltreffendste boumateriaal en heftige verskille oor die noodsaak al dan nie van torings om die gebou meer imposant te laat vertoon.

Die nuwe stadhuis wat in 1936 in President Brandstraat geopen het met die standbeeld van generaal C.R. de Wet op die voorgrond. Foto: Nasionale Museum

Die skema het van meet af die publiek se verbeelding aangegryp. Ywerig is gepoog, soos op etlike belastingbetalersvergaderings waargeneem kon word, om die stadsraad na die een of ander kant toe te probeer manipuleer met die pers tussenbeide om as meningsvormers te fungeer.

Nadat die rook begin bedaar het rondom die “Battle of the Sites” waaraan die stadsraadslede en publiek verwoed deelgeneem het, was die terrein geoormerk as die samevoeging van twee persele in President Brandstraat, wat toe nog deur Henrystraat geskei is. Dit was aan die suidekant van die voormalige woning van regter Melius de Villiers, bekend as The Deodars waar die Vrystaatse Verdedigingshoofkwartier gevestig was, en aan die noordekant Welgelegen van Arthur Fichardt. Ander terreine, soos Hoffmanplein, die stadsbiblioteek en Tweetoringkerk, het in die stof gebyt.

As boumateriaal was marmer, sandsteen of gegote beton opsies. Eersgenoemde was vanselfsprekend te duur in die heersende swak ekonomiese tye en beton is sterk teengestaan omdat dit die historiese Pres. Brandstraat met sy statige ou openbare sandsteengeboue sou beklad. Sandsteen sou dit wees. Die argitek was Gordon Leith van Johannesburg, ’n bekende boumeester in die land.

Prof. P.J. Nienaber (links voor) lei in 1989 'n protesoptog teen die oprigting van die “Glaspaleis”. Foto: VPAB

Amper was die stadhuis sonder sy twee indrukwekkende torings. Om koste te bespaar is dit aanvanklik nie op die bouplanne aangebring nie. Weldra is onder sommige belanghebbendes, insluitende Leith, en ’n deel van die publiek gevoel dat die afwesigheid van torings nie ’n waardige en sierlike stadhuis as standplaas van die plaaslike owerheid voorstel nie. Só ’n voorkoms vertoon soos dié van ‘n biblioteek of museum, is gesê.

Ofskoon die stadsraad hoofsaaklik ten gunste van die torings was, het talle belastingbetalers dit teengestaan en as ’n onnodige luukse en uitgawe beskou. Die “little duel that lasted for years” tussen die pro- en anti-toring-groep is bygelê en die torings het die lig gesien, en die stadhuis, wat ’n stroewe gebou sou wees, se argitektoniese aansien gered.

Op 4 Desember 1936 is die stadhuis luisterryk geopen nadat prins George van Brittanje twee jaar tevore die hoeksteen gelê het.

Twee dae voor die opening is die hoofsaal – tans lê dit in swart puin ná Woensdagaand se brandstigting – vir die eerste keer gebruik toe die Bloemfonteinse Filharmoniese Orkes geoefen het vir die geleentheid wat deur die goewerneur-generaal van Suid-Afrika, die graaf van Clarendon (George Villiers), waargeneem is. Dit was die eerste stadsaal wat die goewerneur-generaal in sy hoedanigheid in die land geopen het en die kleiner saal in die gebou is na hom vernoem. Hierdie grootse gebeurtenis in die stad se geskiedenis het ook nie sonder haakplekke verloop nie: uit verskeie oorde is die stadsraad aangevat dat hulle met die protokolreëlings op die verhoog, waar onder andere die vername gaste en orkes-en koorlede stelling ingeneem het, “a holy mess of things” gemaak het.

Die graaf van Clarendon het die nuwe stadhuis in 1936 geopen. Foto: Vrystaatse Provinsiale Argiefbewaarplek

Ten spyte van al die krisisse en omstredenheid wat hierdie stadhuis-sage getreiter het – “the man in the street . . . is sick of it all”, het The Friend in ’n stadium uitgeroep – was die eindproduk ’n genoeglike triomf vir die stadsraad. Verreweg die meeste inwoners was hoogs tevrede en trots op hul nuwe stadhuis. Bloemfontein het inderdaad die landwye stadhuis-tradisie verbreek van massiewe geboue met ’n sentrale kloktoring en sterk Victoriaanse en Edwardiaanse kenmerke. “Waardig sonder om protserig (oordadig) te wees,” merk wyle Karel Schoeman tereg oor Bloemfontein se stadhuis op wat met sy lae, eenvoudige en uitgerekte voorkoms tog die indruk van deftigheid met sy twee torings skep.

Helaas word hierdie historiese stadhuis nou deur die kolossale burgersentrum (tans die Bram Fischer-gebou) neffens dit oorskadu. In 1992 is hierdie hoë ultramoderne gebou bestaande hoofsaaklik uit ’n buiteafwerking van glas – juis in die volksmond bekend as die “Glaspaleis” – as nuwe hoofkwartiere van die munisipaliteit opgerig. Die totstandkoming van hierdie glasstruktuur is vergeefs deur bewaringsgroepe, onder andere gelei deur die bekende prof. P.J. Nienaber van Naln, en talle inwoners teengestaan as ’n bedreiging vir die stadhuis en sy historiese omgewing, asook ’n onnodige finansiële uitgawe omdat die bestaande een steeds genoegsame ruimte kon bied.

Die stadsraad, wat juis teen hierdie tyd ’n negatiewe rekord gehad het oor sy sloping van pragtige ou historiese geboue in die stad, het egter voortgegaan met die oprigting.

Die Bram Fischer-gebou, beter bekend as die “Glaspaleis” om verstaanbare redes. Foto: Elsa Kotzé

Meer oor:  Bloemfontein  |   |  Geskiedenis  |  Stadsaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.