Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
N-Kaap dalk 1ste met landelike veiligheidsplan
Joe Scholtz van Agri SA.Foto: Charné Kemp

Die Noord-Kaap sal die eerste provinsie wees wat Agri SA en die Fidelity-veiligheidsgroep se nuwe nasionale uitgebreide landbouveiligheidstrategie in werking stel, indien Joe Scholtz sy sin kry.

Scholtz is adjunkvoorsitter van Agri SA se nasionale veiligheidsafdeling en hoof van Agri Noord-Kaap se afdeling vir landelike veiligheid.

Volgens hom werk hulle saam met die polisie en binne die raamwerk van die wet. Die Noord-Kaapse Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) is ook by dié nasionale veiligheidsplan betrokke.

“Nasionale beheer van gestandaardiseerde veiligheidsnetwerke is meer suksesvol as onbetrokke klein veiligheidsgroeperings. Ons wil gemeenskappe laat inkoop om deel te wees van die netwerk.”

Hy sê veiligheid in landelike en dorpsgebiede behels nie net plaasaanvalle nie, maar misdaad in die algeheel.

“As jy alle misdade kan verminder, sal dit die aantal plaasaanvalle ook verminder.

“Ons grootste oogmerk met die plan is om alle gemeenskappe se leefruimte te beveilig, hetsy dit op ’n plaas, dorp of stad is. Ons moet die ekonomie en voedselsekerheid in landelike en stedelike gebiede met beter veiligheidsnetwerke beskerm.

“Die land en sy burgers moet aan netwerke gekoppel word sodat die beheerkamers voorkomend kan optree. Ons wil misdadigers op enige plek kan voorkeer. Indien ’n booswig ’n misdaad in Upington pleeg en binne tien ure na Johannesburg vlug, kan ons hom met ’n kameranetwerk met ’n toepassing wat voertuie of gesigte herken, vastrek.”

Selfs klein winkels in nedersettings moet met kameras toegerus word, want misdadigers “moet ook winkel toe gaan”.

Veiligheid in landelike en dorpsgebiede behels nie net plaasaanvalle nie, maar misdaad in die algeheel.

“ ’n Veedief moet op ’n tydstip ’n pad gebruik om sy buit te vervoer. Indien ons nasionale paaie en grondpaaie met kameras verbind is, kan diewe met valhekke of deur die polisie vasgetrek word. Motoriste moet by die beoogde valhekke, wat met kameras toegerus is, stilhou. Die valhek kan dadelik sluit indien dit as ’n verdagte voertuig gemerk word.”

Die plan sluit ook goedkoper veiligheidstoerusting soos alarmstelsels vir wonings of plase in. Volgens Scholtz ly pekanneut- en druiweboere veral onder diefstal.

Hulle oorweeg ook halsbande vir vee wat seine na die eienaar se foon stuur wanneer die vee se bewegings verdag is, en sensors aan heinings wat aandui waar en wanneer dit geknip word. “Ons sal plaaslike veiligheidsmaatskappye betrek indien hulle aan ons standaarde voldoen.

“Fidelity se dienste sluit ook gewapende reaksie-eenhede, ’n lugvleuel en gewapende patrollies en pantservoertuie in, waarby buurtwagte kan inskakel.”

Boere en huiseienaars kan ook opgelei word in wapenhantering, optrede tydens ’n aanval, en hoe om misdaadtonele te bewaar.

“Noord-Kaapse boere-unies het die verskillende planne in die oorhoofse strategie weke gelede begin bekend stel. Gemeenskappe kan hul eie behoeftes bepaal en daarvolgens uit verskillende planne kies. Daar is ook subsidies of afbetalingsplanne vir behoeftige gemeenskappe beskikbaar.”

Scholtz sê sakeleiers, dorpenaars en landbougemeenskappe in Kakamas, Upington en Hartswater is reeds besig om kwotasies vir verskillende veiligheidsplanne te verkry.

Hy maan mense om alle misdaad aan te meld, omdat die polisie lede in gebiede aanstel volgens die jongste misdaadstatistieke daar.

Meer oor:  Agri Sa  |  Plaasaanvalle  |  Plaasveiligheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.