Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
N-Kaapse ma sterf ná geboorte van tweeling
Esmarie en Johandré Schreuder. Foto: Facebook/Johandre Schreuder

Die pa van vroeggebore tweelingseuns is gebroke nadat sy sielsgenoot en die ma van sy seuntjies enkele dae ná die babas se geboorte skielik ná ’n beroerte in die hospitaal dood is.

Esmarie Schreuder (33), krediteureklerk by GWK in Douglas, is Sondagoggend in die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein dood, enkele dae nadat sy prematuur geboorte aan Janru en Hendré geskenk het.

Die tweeling is Dinsdag gebore nadat Schreuder sedert 8 Junie weens komplikasies in haar swangerskap in die hospitaal behandel is.

Die tweeling word in die neonatale eenheid van die hospitaal behandel.

Leana Bezuidenhout, spesialisinhoudsbestuurder by GWK, sê Johandré (30), Schreuder se man en pa van die tweeling, is stukkend ná die dood van sy sielsgenoot.

“Hy is gebroke, sy hart is in stukke.”

Volgens Bezuidenhout is Schreuder vroeër in die hospitaal opgeneem weens komplikasies met haar vrugwater. Haar toestand het Donderdag versleg en sy is in ’n medies geïnduseerde koma geplaas. Sy is egter Sondag ná ’n enorme beroerte dood.

Bezuidenhout sê die egpaar was opgewonde oor die koms van die tweeling en die hele Douglas-gemeenskap het in hul vreugde gedeel. Sy sê die egpaar is goeie mense wat nie dié erge trauma en hartseer verdien nie.

“Niemand verdien dit nie, maar dit is die laaste mense wat jy verwag só iets sal oorkom,” sê Bezuidenhout.

“Beter as hulle kan jy nie kry nie. Esmarie was ’n absolute ligstraal, sag en sweet. ’n Absolute steunpilaar, perfek en goed vir Johandré. En andersom.”

Sy sê die kuiers saam met Schreuder oor ’n beker koffie by GWK se kantoor in Douglas gaan gemis word.

“Ná elke geselsie met haar het jy beter oor jouself gevoel en daarna gestreef om ’n beter mens te wees. Haar hele teenwoordigheid, haar persoonlikheid en die voorbeeld wat sy gestel het, laat reeds ’n groot leemte.”

Schreuder word voorlopig Saterdag omstreeks 10:00 uit die Volle Evangelie Kerk in Douglas begrawe.

Johandré en Esmarie Schreuder was opgewonde oor die koms van hul tweeling.
Johandré en Esmarie Schreuder.

Meer oor:  Gwk  |  Beroerte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.