Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Nag in die selle oor hy geraasmakers afneem

Die selfoonvideo wat hy van luidrugtige lughawepersoneellede geneem het, het vir ’n Kaapse man ’n nagmerrie van meer as 24 uur, waaronder ’n nag in ’n polisiesel, asook verlies van inkomste van meer as R100 000, tot gevolg gehad.

Ben Lombaard is oornag in ’n polisiesel aangehou. Foto: Marzahn Botha

Die forensiese psigofisioloog Ben Lombaard (62) van Durbanville sê die polisie het hom gedreig en nie toegelaat om ’n prokureur te bel nie. Adv. Jack Gerber, sy regsverteenwoordiger, sê hulle gaan regstappe teen die polisie doen weens onregmatige inhegtenisneming en aanhouding.

Lombaard en sy broer Rhyno besit die maatskappy Lie Tech, wat poligraaftoetse doen en forensiese dienste lewer. Op Sondag 29 Augustus het hy via Johannesburg na Zambië gevlieg vir werk. Op die O.R. Tambo-lughawe het hy omstreeks 13:00 in die restaurantarea middagete bestel terwyl hy e-posse deurgegaan het.

“Vier vroue, almal in Acsa-uniforms (Acsa is die lughawensmaatskappy van Suid-Afrika) het redelik luidrugtig met mekaar gestaan en praat. Ek het hulle beleefd gevra om sagter te praat.

“Hulle het my versoek geïgnoreer en aangehou praat.”

‘Jy dink jy’s slim. Nou gaan ons jou iets leer.’

Lombaard het ’n selfoonvideo van hulle geneem in die hoop dat dít hulle sou aanspoor om die volume laer te draai. Toe een van die vroue vra hoekom hy hulle afneem, het hy geantwoord: “Ek het julle mooi gevra om sagter te praat, maar nou gaan ek die video op Facebook plaas dat julle base dit kan sien.”

Terwyl hy sy kos geëet het, het ’n vrouepolisiesersant daar aangekom wat wou weet of hy die Acsa-personeellede afgeneem het. Hy het geantwoord hy het, hy het die reg om dit te doen en hy gaan ook sy gesprek met haar opneem. “Die oomblik toe ek my kamera aanskakel, het sy die foon uit my hand probeer gryp en dit het op die vloer geval.

“Ek het dit toe opgetel en aangehou opneem, maar sy het omgedraai en van my af weggestap.”

Minute later was daar nog polisielede, dié keer ’n vrouekaptein en vier of vyf mans. “Sy het my foon gegryp en in die rigting van die winkels begin loop.”

Lombaard is agterna om sy foon terug te vra.

“Jy dink jy is slim. Vandag gaan ons jou iets leer,” het een van die lede gesê.

Ná ondervraging by die gemeenskapsdienssentrum is Lombaard in ’n tydelike aanhoudingsel geprop. Sowat twee uur later het hy besef hy gaan sy vlug verpas en in ’n poging om vrygelaat te word, het hy in ’n handgeskrewe nota onderneem om nie stappe teen die polisie te doen nie.

Nóg twee uur later is hy versoek om ’n dokument te onderteken wat sê sy grondwetlike regte is aan hom verduidelik. “Ek het geweier, want al my grondwetlike regte is van my ontneem en ek is nie eens toegelaat om ’n oproep te maak nie.”

Hy is uiteindelik toegelaat om sy vrou te bel en ’n minuut lank met haar te praat. “Ek het vir haar gevra om my broer Anton te stuur om my persoonlike items te kom haal.”

Om 21:15 is hy van die lughawe na die polisiekantoor in Kempton Park geneem waar hy in ’n sel toegesluit is saam met drie onwettige immigrante en ’n man wat weens die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie aangekeer is.

“Ek het op ’n dun matras op ’n sementvloer en ’n kombers wat na urine geruik het in die sel van 5x4 meter probeer slaap.”

Die volgende dag kort voor 15:00 is Lombaard ingelig dat die klagte teen hom teruggetrek is en dat hy kan huis toe gaan. Sy familie was teen daardie tyd rasend van bekommernis.

“In so ’n situasie kan jy jou nie verset nie. Jy moet maar net probeer saamspeel en onthou wat gebeur. As jy jou verset, speel jy reg in hulle hande in.”

Eers vier dae ná die voorval kon Lombaard sy selfoon terugkry. Weens die vertraging het sy kliënt in Zambië sy dienste gekanselleer. Lombaard sê hy vrees Covid-19.

“Daar was geen saniteerder in die selle nie en dit is duidelik dat die komberse en matras in die selle nog nooit gewas is nie.”

In sy tyd in aanhouding het nie een van die aangehoudenes ’n masker gedra nie. “Ek is nooit ’n geldige rede vir my aanhouding gegee nie. Ek is nooit fisiek in hegtenis geneem nie en het nie in die hof verskyn nie. Strafregtelike stappe moet teen die betrokke Acsa-personeel geneem word.”

Samukelo Khambule, woordvoerder van O.R. Tambo, het die voorval bevestig. “Lughawebestuur ondersoek die omstandighede wat daartoe gelei het dat die polisie ingeroep is, maar ons kan nie in hierdie stadium verder kommentaar lewer nie.”

Brig. Vishnu Naidoo, polisiewoordvoerder, sê Lombaard is welkom om ’n klag in te dien en te versoek dat dit aan die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) oorhandig word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.