Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
’n Nóg kwaaier kragtekort kom

Daar is geen einde in sig vir Suid-Afrika se elektrisiteitsprobleme nie en beurtkrag gaan hierdie winter net vererger.

Dit gaan veral sleg in Johannesburg, ekonomiese hartland van Suid-Afrika, waar inwoners en ondernemings benewens beurtkrag ly onder die stad se verkrummelende elektrisiteitsinfrastruktuur. Ná jare se ANC-wanbestuur kan die munisipaliteit se elektrisiëns nie meer voorbly om al die aangemelde kragonderbrekings te herstel nie en sommige huishoudings sit soms langer as ’n week sonder elektrisiteit.

Talle huishoudings daar was boonop die afgelope week sonder water omdat pompe weens die beurtkrag nie kan voorbly om opgaardamme te vul nie.

Die probleme by Eskom beteken dat die land na verwagting hierdie jaar baie meer kragonderbrekings as verlede jaar – wat reeds ’n rekordjaar was – gaan ervaar.

Ondanks beloftes dat Eskom se bestuur voortaan sonder politieke inmenging toegelaat gaan word om te doen wat nodig is om die elektrisiteitsprobleme op te los, is beurtkrag Vrydag vir ’n paar uur opgeskort sodat parlementslede ongehinderd hul Zoom-vergadering kon hou.

Dit illustreer maar net weer dat die kragverskaffer nie toegelaat word om sy eie bedryfsbesluite te neem nie, het die energiekenner Chris Yelland aan Rapport gesê.

Fase 1 begin weer Sondagaand om 17:00.

“En dit terwyl die res van ons maar ’n ander plan moet maak as ons beurtkrag verwag,” het hy wrang bygevoeg.

Eskom beplan om hierdie maand ses eenhede by sy verouderde steenkoolkragstasies uit diens te stel vir beplande instandhoudingswerk. Yelland, direkteur van EE Business Intelligence, sê dit behoort beurtkrag te vererger tot fase 4 of fase 5. In fase 5 kan jy verwag om ongeveer 7,5 uur per dag sonder krag te wees.

Gereelde fase 4- en fase 5-onderbrekings, saam met die dramatiese toename in kragonderbrekings in Johannesburg wat nie direk aan beurtkrag te wyte is nie, kan die brose herstel van die land se ekonomie ná die Covid-19-pandemie in sy spore stuit, waarsku die ekonoom Mike Schüssler van economists.co.za.

Schüssler meen dit kan selfs lei tot ’n verdere kredietafgradering en totale ekonomiese ineenstorting. Die ekonoom Lullu Krugel sê beurtkrag kan die land vanjaar nóg 276 000 werkgeleenthede kos, terwyl werkloosheid reeds op ’n rekordvlak is.

Boonop het die energiereguleerder Nersa die afgelope week ’n aansoek van Eskom vir kommentaar gepubliseer om volgende jaar ’n bykomende R8,4 miljard uit kragtariewe te verhaal. Dit gaan kragtariewe vir die verbruiker nog verder opjaag (hoewel die gepubliseerde inligting nog te skraps is om te sê met hoeveel). Eskom voer aan hy is daarop geregtig weens ’n onderverhaling in 2020-’21.

Nersa sal na verwagting in Augustus daaroor beslis.

Eskom se eie syfers toon dat die hoeveelheid beurtkrag vanjaar reeds gelykstaande is aan 50% van die totaal vir 2020 – met net vyf maande van 2021 agter die rug.

Die kragverskaffer het boonop Vrydag teenoor Rapport erken dat hy agter is met die sogenaamde betroubaarheidsinstandhouding, wat die werkverrigting van die steenkoolkragstasies moet herstel.

Die werk aan nog net een eenheid is tot dusver vanjaar afgehandel en nog 35 – gemiddeld vyf per maand – moet voor Januarie daarvoor uit diens gestel word. Boonop lewer die instandhouding wat wel gedoen word nie die gewenste resultate nie.

Eskom erken dat die werkverrigting van dié eenhede ná hul versiening swakker is as verwag.

Die afgelope week se beurtkrag is veroorsaak deur verhoogde kraggebruik weens die koue plus die feit dat opwekkingseenhede op ’n streep onklaar geraak het. Sedert Maandag was daar gereeld tot 17 000 MW se opwekkingsvermoë (uit ’n potensiële vermoë van sowat 47 000 MW) buite werking weens ’n kombinasie van onklaar eenhede en beplande instandhouding. Suid-Afrika se kragaanvraag is op die oomblik sowat 32 000 MW tydens spitstyd saans wanneer die meeste mense by die huis kom, begin kosmaak en verwarmers aansit.

Fase 2 beteken dat die vraag die aanbod met sowat 2 000 MW oorskry. Eskom het beurtkrag Saterdag om 22:00 opgeskort, maar fase 1 begin weer vandag om 17:00.

Probleme is die afgelope week by verskeie kragstasies, veral op die Hoëveld, ervaar. Van die eenhede by die yslike steenkoolsentrales by Kriel, Arnot, Majuba, Tutuka en Duvha was buite werking. In die Wes-Kaap is een van die eenhede by die Koeberg-kernkragsentrale (wat 900 MW kan lewer) reeds sedert Januarie buite werking weens ’n lekplek in een van die opwekkers.

Eskom het Vrydag aangekondig Velaphi Ntuli, Koeberg se hoofbestuurder, is geskors weens die herhaalde vertragings met die herstelwerk. Volgens Eskom sal Koeberg se tweede eenheid eers oor twee weke weer in bedryf wees.

Tot dusver vanjaar is Eskom se opwekkingsvloot maar gemiddeld 61% beskikbaar, teenoor verlede jaar se gemiddelde van 65%. Eskom se data toon dat dié deel van die vloot wat buite werking is omdat dit onverwags onklaar raak, tot dusver dié jaar op 24,3% staan, teenoor 20,88% verlede jaar (sien grafika).

Van Eskom se bedryfshoof, Jan Oberholzer, se vroeëre beloftes dat die eerste groep eenhede se betroubaarheidsinstandhouding teen April afgehandel sal wees en dat verbruikers dan ’n verskil sou begin sien, het daar min gekom. André de Ruyter, bestuurshoof, het gesê die tweede groep sal teen September afgehandel wees en dit behoort dan aansienlik beter te gaan.

Yelland betwyfel dit. Hy sê Eskom beloof al van 2019 dat die “filosofie-instandhouding”, soos betroubaarheidsinstandhouding destyds bekend gestaan het, ’n verskil sal maak.

Asof die probleme by Eskom nie genoeg is nie, ly Johannesburgers selfs nog meer as die res van die land weens die stad se elektrisiteitsinfrastruktuur wat besig is heeltemal te verkrummel.

Schüssler sê sowat 14% van die land se ekonomiese bedrywighede vind in Johannesburg plaas. Die grootskaalse kragprobleme in die stad is dus ’n nasionale ekonomiese krisis.

Teen Vrydag om 09:00 was meer as 6 000 klagtes oor kragonderbrekings of ander elektrisiteitsprobleme wat by die Johannesburg-metro aangemeld is nog nie opgelos nie. Aan feitlik 60% daarvan het die stad se kragnutsmaatskappy, City Power, nog nie eens begin werk nie.

By die Hursthill-depot naby Aucklandpark waar die SAUK se kantore geleë is, was daar 1 775 onafgehandelde klagtes met net vier kontrakteurs om na alles om te sien.

Teen dié tempo sal dit waarskynlik ’n week neem om enige probleem op te los, het die DA se raadslid, Tim Truluck, in ’n boodskap aan inwoners gesê.

Die DA se raadslid in wyk 69, Genevieve Sherman, het aan Rapport gesê sommige huishoudings in Westdene is al sewe dae sonder krag en ander in Brixton twee weke.

City Power het Vrydag omstreeks middagete ’n verklaring uitgestuur en gesê sy bestuurshoof, Mongezi Ntsokolo, het die oggend ’n dringende vergadering met die bestuurders van die stad se nege depots gehou “om oplossings te vind vir die kragonderbrekings oor Johannesburg heen”.

Volgens Ntsokolo is daar veral ’n groot agterstand by die Lenasia-depot wat die afgelope twee weke reeds deur inwoners geblokkeer word wat beswaar maak teen kragonderbrekings.

Volgens die laaste kwartaalverslag van City Power wat voor die metroraad gedien het, vir die drie maande tot einde Desember, het net meer as 27% van die elektrisiteit wat Eskom aan Johannesburg lewer (en waarvoor die stad betaal) verlore gegaan weens tegniese probleme of elektrisiteitsdiefstal.

City Power sê hulle het te min hulpbronne om hul werk te doen. Foute kom herhaaldelik voor omdat ou infrastruktuur nie onderhou en vervang word nie. Hulle doen net ’n derde van die instandhouding wat nodig is.

Rene Kilner, ’n konsultant by Trusted Utilities, het onlangs ’n klag teen City Power by die energiereguleerder Nersa ingedien omdat die infrastruktuur nie in stand gehou word soos die regulasies en veiligheidstandaarde vereis nie. Dit, sê sy, lei tot skade aan eindverbruikers se toerusting, verlies aan produksie en inkomste vir ondernemings en bykomende koste. Daar is egter geen vergoeding vir verbruikers vir verliese of swak diens nie, sê sy.

Volgens Kilner het kragonderbrekings in die stad en City Power se vermoë om dit op te los, oor die afgelope paar jaar stelselmatig versleg.

“Maar die laaste ses maande het dit dramaties agteruitgegaan,” sê sy.

Ntsokolo sê in sy mediaverklaring City Power werk aan ’n “nuwe bedryfsplan om dienslewering te verbeter”.

Meer oor:  Chris Yelland  |  Beurtkrag  |  Elektrisiteit  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.