Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pianis in die puin gee hoop

‘En daar het die klavier gestaan . . . in daardie oomblik kon ek myself nie keer nie. Ek was so gebroke en uitgeput en ek het nog altyd vertroosting in musiek en aanbidding gevind. Ek het net gestap en begin speel.”

Jenny Bowes, ’n klavieronderwyseres van KwaZulu-Natal, speel die volkslied op ’n ou klavier wat wonderbaarlik die grootskaalse plundertog vrygespring het.
Die ou klavier tussen die puin by ’n stoorplek in KwaZulu-Natal.

Só sê Jenny Bowes (50), ’n klavieronderwyseres van Kloof in KwaZulu-Natal. ’n Video wat wys hoe sy lofsange en die volkslied op ’n ou klavier in die middel van die verwoesting om haar speel, het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.

Plunderaars het voorverlede week verwoesting in Gauteng en veral KwaZulu-Natal gesaai. Honderde winkels, apteke en selfs ’n bloedbank is vernietig.

Die video van Bowes is daardie Donderdag by die Stor-Age-bergingsplek in Brackenhill geneem waar van haar broer se goed geberg word. Hy woon in Dubai.

Sy het gaan kyk wat van sy besittings oor is. “Ons het Sondag al geweet daar word daar geplunder en gebrand. Die situasie was net te plofbaar so ons kon nie voor Donderdag self gaan nie.”

Ek het dit vir die stoorplek, die gemeenskap, die provinsie en die land gesing.

Hulle kon nog sommige waardevolle items uit haar broer se eenheid red. “Dis verskriklik om jou kinderfoto’s waar jy en jou broer vyf en twee is so gestrooi te sien lê, te sien hoe iemand daarop getrap het. Maar ons is ook dankbaar dat daar vir ons iéts was om op te tel. Mense het álles verloor . . . alles. Hier is mense wat sou trek en al hul besittings hier gestoor het. Hulle het letterlik vyf items gekry.”

Laatmiddag het sy ’n ent geloop om ’n foto te neem toe sy die klavier sien. “Hy het net daar gestaan. Ek het instinktief daarheen geloop en begin speel.”

Bowes het drie lofliedjies gespeel waaronder “How Great Is Our God”, en later begin sing en toe net gevoel sy moet die volkslied speel en sing. “Ek het dit vir die stoorplek, die gemeenskap, die provinsie en die land gesing. Ek móés dit net speel.”

Jenny Bowes

Omdat ’n video wat van haar geneem is, wyd gedeel is, kon sy die bejaarde eienaar van die klavier opspoor. Hulle het mekaar Donderdag ontmoet. “Die klavier word gestoor sedert 2008 toe sy vrou oorlede is. Alles anders is verbrand behalwe die klavier.”

Sy sê die klavier, wat dalk meer as ’n eeu oud kan wees, is stukkend. “Dit wys jou net, die klavier is beskadig, ek is op ’n manier beskadig, emosioneel. Dit was soos ’n oorlogsone (hier). Dis anders as jy die vuur ruik en die skote hoor en dit kom ál nader. As ek ’n klein aandeel daarin kon hê om vir mense ’n bietjie hoop te bring, maak dit my so nederig. Dit wys jou die Here gebruik soms gebreekte voorwerpe om vir mense hoop te bring.”

Meer oor:  Kwazulu-Natal  |  Klavier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.